Skrik jy vir koue pampoen?

Skrik jy vir koue pampoen?

Dit begin al hoe meer algemeen raak dat Halloween volwaardig in Suid-Afrika gevier word. Ten spyte van die feit dat ons nie werklik bande met dié fees het nie.

Deur Ds. Jan-Louis Lee

Waarskynlik het die viering van Halloween ons land via die televisie ingedring: dit is amper onmoontlik om ‘n Amerikaanse televisieprogram te kyk sonder dat daar nie êrens ‘n Halloween-episode is nie. Juis dít maak die viering van Halloween in Suid-Afrika so vreemd. Enersyds omdat dit amper op ‘n klakkelose ek-dink-nie-daaroor-nie-ek-doen-maar-net-wyse ons land ingedring het, en andersyds omdat mense dit maar net as onskuldige pret beskou.

Wat staan ons te doen? Deel ons in die pret, of verwerp ons die viering van Halloween? Elke gelowige moet oor die saak besin en self vanuit die Skrif ‘n besluit neem.

Die oorsprong van Halloween

Die fees het sy wortels in die Kelte se verering van een van hul afgode, Samhain. Volgens die Kelte was hy die heer van die dood. Op hierdie aand keer die geeste van die dooies terug na die aarde om met die lewendes te meng. Samhain sou al die bose siele wat in die afgelope twaalf maande gesterf het, terugroep – waar hulle verdoem was om in die liggame van diere te leef.

Die datum, 31 Oktober, was die vooraand van die Keltiese nuwe jaar. Op hierdie aand is daar feeste gehou en offers aan Samhain gebring. Groot kampvure is aangesteek (om bose geeste weg te hou), mense het bymekaar gekom en tradisionele speletjies gespeel wat op goëlery neergekom het.

Die gewone mense sou ook, uit vrees vir die geeste, kos en drank opsysit om hulle uit hul huise te hou. Sommiges sou selfs so bang wees dat hulle allerhande kostuums aangetrek het om hulself te vermom.

Onheilspellend was die offers wat gebring is – veral katte is lewendig geoffer, maar perde, osse en selfs mense(!) is deur die druïde geoffer. Die mense wat gevang is as offers aan Samhain sou in hokke van rottang en strooi lewendig aan die brand gesteek word.

Oorsprong van die naam

Interessant genoeg het die fees sy naam van die Christelike kerk gekry: In 609 n.C. wy Pous Bonifatius die Panteon, ‘n tempel aan die afgode deur Keiser Hadrianus gebou, aan die maagd Maria. Vroeër het die heidene dáár vir die afgestorwenes gebid. Die beleid in die Roomse Kerk destyds was dat waar ‘n heidense praktyk reeds goed gevestig is, dit bloot in die Christelike tradisie geïnkorporeer word. Waarskynlik sou hierdie praktyk dit dan vir die heidene makliker maak om deel te word van die Christelike kerk. As jy dus ‘n afgod aanbid het, kon jy onder die vaandel van Christenskap dit bloot bly doen het. In plaas van die afgod Cybelē, aanbid jy nou vir Maria.

So het daar vir twee eeue lank ‘n fees met die naam “All Saints Day” jaarliks op die 13de Mei plaasgevind. Hierdie fees het die afgestorwe martelare, bekend en onbekend, vereer. Later is hierdie fees doelbewus geskuif na die 1ste November, sodat dit saam met die antieke fees van die druïde kon val. Die mis wat op 1 November gehou is, het bekend gestaan as “Allhallowmass”, met die vorige aand, 31 Oktober, wat later begin “All Hallow’s Eve” heet het, en eindelik “Halloween” geword het.

Ons moet dalk hier stilstaan en besef dat die praktyk daarvan om dooies te vereer, hoe heilig hierdie mense dan ook geleef het, totaal en al heidens is. Dit is maar ‘n kort tree vanaf die gebruik van die antieke druïde om bose geeste “tevrede te hou”. Dit dan te verstane dat daar baie mense is wat nie ‘n probleem met Halloween het nie.

Die verskillende elemente van Halloween het besondere betekenis:

  • Trick or Treat: Om die geeste tevrede te hou, het die mense van destyds kos en allerhande lekkernye vir hulle uitgesit sodat hulle nie versteur word deur onwelkome geeste nie. Die druïde het ook aanspraak gemaak op kos wat hulle óf self sou eet, óf aan Samhain sou offer. Indien dit nie verskaf is nie, word ‘n vloek (trick) oor die huis uitgespreek.
  • Kostuums: Hierdie praktyk kan teruggevoer word na die mense wat hulself vermom het om soos die bose magte te lyk, en nie deur hulle geteister kon word nie.
  • Jack-‘o’-lantern: Hieroor is daar uiteenlopende verklarings. Soos wat die druïde in hierdie nag rondbeweeg het, sou hulle waarskynlik met ‘n uitgeholde raap met ‘n kers aan die binnekant rondbeweeg het. ‘n Gesig is op die raap uitgekerf. Daar is beweringe dat hierdie gesig die ‘gees’ waarop vertrou word, voorstel. Later het die viering van Halloween oorgespoel na Amerika, met die vestiging van die Ierse setlaars in Amerika. Daar is die raap vervang met pampoene. Interessant genoeg is die uitdrukking: ‘Skrik nie vir ‘n koue pampoen nie’, afkomstig van hierdie gebruik.

So is die viering van Halloween ‘n belangrike sekuêre gebeurtenis op veral die Amerikaanse kalender. Baie mense meen dit gee ‘n tipe uitlaatklep vir mense, om “die strate terug te neem”, dit is ‘n dag om te lag vir dit wat jou bangmaak, dat ‘n mens selfs die Satan met hierdie aand moet uittart.

Kortom kom die viering van Halloween neer op:

  • Die verering van die dooies.

  • ‘n Beheptheid met die dood, demoniese magte en geeste, wat die realiteit van die geestelike oorlog van elke gelowige ontken (Efesiërs 6:10-20). Hekse, grafte, spinnerakke, duiwels ens. is maar net van die versierings wat tipies by ‘n Halloween-viering gevind sal word.

Wat sê die Bybel?

  • Jesus Christus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” (Johannes 14:6).  Hy is die Lewende, die opgestane Heer, wat nie deur die magte van die dood en die duisternis berperk kon word nie (Lukas 24:5).
  • Boonop is Jesus die lig vir die wêreld. In Johannes 8:12 maak Hy dit duidelik: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee…”
  • ’n Christelike lewe is ‘n lewe in die lig. Dit is om te besef dat die dood nie mag oor ons het nie, want die angel daarvan is verwyder (1 Korintiërs 15:55).
  • Boonop loop die Satan soos ‘n brullende leeu rond “…opsoek na iemand om te verslind…” (1 Petrus 5:8). Dit is deel van die geestelike oorlog waarin ons betrokke is, en waarin ons moet vasstaan. Dan moet ons besef dat daar in die geesteswêreld werklik demoniese magte werksaam is, en dat die Satan werklik besig is met groot aanvalle teen gelowiges ( Openbaring 12:12).

Jesus het reeds die oorwinning behaal, en God is nooit aan die verloorkant nie, maar ons verkeer nog onder aanvegtinge en groot beproewinge. Dit is onnodig om te gaan torring met dinge wat eerder kon gebly het; om my eie wispelturige natuur te versoek deur ‘n opening aan die Satan te gee om my van stryk af te bring. Ons moet die waarskuwing van 1 Korintiërs 10:14-22 in ag neem dat ons nie met ‘n klakkelose deelhê aan die fees van die donkerte God uittart nie.

Ons moet verder besef dat hierdie aand werklik ‘n aand is wat deur Sataniste gevier word. Sommiges beskou dit as ‘n absolute hoogtepunt van die Sataniese kalender. Dit is vir onder andere Wiccans (hekse) een van hul agt “Sabbatte” wat hulle moet onderhou. Sataniese rituele word volgehou, diere word geoffer en weereens is daar onstellende getuienisse van menseoffers.

Hierdie aand kan nie losgemaak word van sy duiwelse wortels nie.

Selfs die poging van die Roomse Kerk in die eerste eeu was fataal, omdat dit maar net die fokus van afgode na die heiliges van die Roomse kerk verskuif het – en steeds die aandag van God aftrek (Eksodus 20:3). Natuurlik is daar niks fout met snaaks aantrek en partytjie hou nie. Maar dit het te veel bagasie as dit aan hierdie fees gekoppel word.

Fokus dan eerder op ‘n ander geskiedkundige, ontsagwekkende oomblik in die wêreldgeskiedenis: Die Herontdekking van die Woord van God met die Reformasie wat op 31 Oktober 1517 deur ‘n gehoorsame dienskneg van God, Martin Luther aan die gang gebring is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *