Só baan die geskiedenis die weg vir Jesus se koms

In Daniël lees ons die geskiedkundige agtergrond wat gemaak het dat Jesus Christus se koms op die volmaakte tyd plaasgevind het.

deur Peet van der Westhuizen

Ons weet dat God oor alles regeer en dat hy die geskiedenis rig en lei. God is in beheer van alles. Ons sien dit veral in Daniël 2:21 waar Daniël oor God bely: “Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan”. Die Here is in totale beheer van alles op aarde. Hy bepaal wie koning is. Hy laat koninkryke tot stand kom en Hý laat hulle vergaan. Hierdie besef van God se regering bring ons by die besef dat Jesus nie maar lukraak, per ongeluk gebore is in die tyd of op die plek waar Hy gebore is nie.

In Galasiërs 4:4-5 lees ons: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” Jesus is gebore op die tyd wat God bestem het Hy gebore moet word. Die doel vir sy geboorte is sodat gelowiges as God se kinders aangeneem kan word.


Koning Nebukadneser se droom

Die tyd waarop Jesus gebore is, is dus baie lank voor dit gebeur het, reeds vasgestel. Daniël het ongeveer 539 jaar voor die koms van ons Here Jesus geleef. In Daniël 2:32-34 lees ons van koning Nebukadneser se droom. Hy droom van ’n groot beeld en “die beeld se kop was van suiwer goud, sy bors en sy arms van silwer, sy maag en sy heupe van brons. Sy bene was van yster en sy voete deels van yster en deels van klei.” Dan breek daar ’n klip los wat die beeld se voete tref en dit verpletter, die beeld word fyngestamp maar die klip word ’n groot rots wat die hele aarde bedek. Wanneer Daniël (2:40-45) die droom vir die koning uitlê verduidelik hy dat Nebukadneser (en sy koninkryk) die kop van goud is, en dat daar ná hom ’n koninkryk sal kom wat minder belangrik is (die silwer bors), en daarna ’n derde een van brons wat ook oor die hele wêreld sal heers, waarna ’n vierde koninkryk sal kom wat sterk sal wees soos yster en die ander sal fynstamp, maar in homself verdeeld sal wees en daarom van yster en klei sal wees.


Die vyf koninkryke in Nebukadneser se droom

Hier word vyf koninkryke aan ons gewys. Die een van goud, die een van silwer, die een van brons, die een van yster en klei, en die klip wat ’n groot rots word. Hierdie koninkryke verwys heel moontlik na die historiese koninkryke van Babilonië, Persië (Mediërs en Perse), Masedonië en Rome, wat op die ou einde vernietig en vervang word deur die koms van Jesus en sy koninkryk.

Elkeen van hierdie koninkryke het iets bygedra tot die geskiktheid van die tyd waarin Jesus gebore is:

  • Tot die Babiloniese koninkryk kom die belofte en profesie van die koninkryk wat op pad is: Die God van die hemel sal ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur ’n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan.
  • Die Persiese ryk dra by daarin dat die Persiese koning, Kores, die Jode laat terugkeer na hul land. Onder hierdie Jode is Serubbabel, die seun van Sealtiël, uit wie se nageslag Jesus gebore word.
  • Die Masedoniese ryk dra by in die sin dat hulle die wêreld gebring het om meestal een taal en kultuur te hê, toe hulle die hele wêreld verower het. Hierdie gebeurtenis staan bekend as die Hellenisasie, wat eintlik maar vergrieksing beteken. Na die Masedoniese ryk was daar oor die meerderheid van die bekende wêreld, een wêreldtaal en -kultuur, naamlik: die Griekse taal en kultuur. Dit is ook waarom die Nuwe Testament in Grieks geskryf is.
  • Die Romeinse ryk dra by op baie verskillende maniere, maar in die eerste plek daarin dat dit die Romeinse keiser Augustus is wat die bevel uitgevaardig het dat die hele wêreld ingeskryf moes word, wat veroorsaak het dat Josef en Maria in Betlehem moes wees toe Jesus gebore is. Dit is onder die Romeinse prokurator Pontius Pilatus dat Jesus gekruisig is.
  • Later het die Romeinse ryk bygedra daarin dat dit maklik en relatief veilig was om in die ryk te reis en so kon Paulus op sy sendingreise gaan. As gevolg van die feit dat die wêreld ook eintlik maar een taal (Grieks – as gevolg van die Masedoniese ryk) gepraat het, kon die evangelie maklik aan almal in die ryk verkondig word. Laastens kon Paulus hom ook op die Romeinse keiser beroep en so kon hy die evangelie in Rome verkondig.

Die volheid van die tyd
Op hierdie maniere het al die voorafgaande ryke bygedra daartoe dat die tyd en geleentheid reg was vir Jesus se koms en die verspreiding van die evangelie. Ons sien hoe God die geskiedenis so bestier het dat die omstandighede en die tyd net reg was vir Jesus se geboorte en die verspreiding van die evangelie en die vestiging van sy koninkryk.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui