Versorg jou ouers – dis jou opdrag

Wat sê die Bybel oor ons verantwoordelikheid teenoor ons ouers soos wat hulle ouer word? Lees hier hoe jy jou ouers moet beskerm en eer.
deur ds Werner Brotherton
Een van die interessantste verhoudings wat daar is, is die tussen ouers en kinders. Dit is van die intiemste verhoudings wat daar kan wees. Dit is egter nie ’n verhouding wat vir altyd dieselfde bly nie. Dit leer ons reeds in Genesis 2:24 nog voor die sondeval. Kinders is bedoel om hul ouerhuise te verlaat en hul eie gesinne te begin.
Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
Ons moet egter op pas om hierdie vers te ver te vat. Dit so hartseer dat baie mense hierdie vers baie letterlik opneem en wanneer hulle die huis verlaat het hulle niks meer met hul ouers te doen nie. Hoe baie sien ons nie ou mense in ouetehuise wat nooit hul kinders of kleinkinders sien nie. Al wie hulle sien is maar ander mense se kinders en kleinkinders.
Nou moet ons nie dink dit is die mense wie se ouerhuise sleg was wat hulle ouers sommer so los nie. Baie keer is dit goeie huise. Daarom kyk ons in hierdie artikel wat die Bybel sê ons verantwoordelikheid teenoor ons ouers is soos wat hulle ouer word. Ons kan ongelukkig nie deur al die tekste gaan in hierdie artikel nie, want die Bybel raak nie uitgepraat oor hoe ons na ou mense moet omsien nie!
Respekteer jou ouers
Die eerste beginsel wat die Bybel vir ons neerlê is die vyfde gebod: Eer jou vader en jou moeder… Dit word nog baie ander kere in die Bybel herhaal. En net sodat ons nie dink dit is net ’n bevel van die Ou Testament nie word dit ook in Efesiërs 6 herhaal. Ons moet ons ouers eer, want dit is goed voor die Here.
In Levitikus 19:32 lees ons:
Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die Here.
Dit is nogal besonders! Ons moet die ou mense beskerm en eer! Dit is deel daarvan om die Here te vrees. In die boek Spreuke word ons baie keer aangemoedig om na ons ouers te luister en nie te verag wanneer hulle oud is nie.
Respek het nie ’n ouderdomsbeperking nie
Nou moet ons ook mooi oplet, hier is nie enige ouderdombeperkings nie. Die vyfde gebod sê nie dat jy jou ouers moet eer tot jy uit die huis is nie. Dit is ’n instelling vir jou hele lewe, of die lewe van jou ouers.
En selfs wanneer ons oud is bly dit ’n instelling dat ons die grysaards moet eer. Ook die ander grysaards.
Staan jou ouers by
Waar los dit ons dan met ons ouers wanneer hulle oud is en hulp nodig het? Ons kry vir hulle die nodige hulp, maar ons vergeet nie van hulle nie. As ons kan besoek ons hulle so veel as moontlik en laat hoor so veel as moontlik van ons.
Die woord vir eer in die oorpronklike taal dra ook die betekenis om iemand gewigtig te ag. Dit beteken hulle bly vir jou belangrik. En ja, ons ouers word oud, en baie keer moeilik soos hulle ouer word. Hulle begin dinge sê wat jou kan seermaak. Hulle begin allerhande kwale en siektes ontwikkel.
Maar onthou, hulle het jou versorg toe jy klein was met al jou kwale, siektes en verkeerde woorde. Hierby leer 1 Timótheüs 5:4 die volgende:
Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.
Dit is goed as jy so kan sorg dat jy nie op jou oudag finansiële druk vir jou kinders veroorsaak nie, maar tog moet jou kinders jou help as dit nie anders kan nie. 1 Timótheüs 5:4 maak dit vir ons duidelik. Die woord vergelding beteken ook om terug te betaal. Dit gaan daaroor dat jy vir jou ouers doen wat hulle vir jou gedoen het. Dit is om jou ouers te eer en lief te hê.
Mag die Here ons elkeen so lei dat ons sal omsien na ons ouers en ook die ander eensame ou mense en dat ons hulle met alle eerbied en ontsag behandel.