Verstaan die wie, wat en hoekom van Sinodes
Lees meer oor hoe die Gereformeerde Kerke in verband werk, en mekaar op die regte pad hou.

deur ds Dirk Meijer
Die woord “sinode” is ’n woord wat jy miskien al met ’n frons en ’n sug uit iemand se mond hoor kom het. Rondom sinode-tyd, wat in die Gereformeerde Kerke normaalweg elke drie jaar is, is die kerkverband in rep en roer oor kerklike sake wat bespreek moet word. Dit is sake wat na aan die hart van gelowiges lê, daarom dat dit dikwels met diep emosie gepaard gaan.
Betekenis van “sinode“
Die woord “sinode” is egter ’n woord wat met alles behalwe ’n frons gepaard behoort te gaan. Baie letterlik beteken die woord sinode “saam op pad”. As gelowiges en as kerke wandel ons saam op die weg van God. Dit is belangrik dat kerke mekaar op hierdie pad stewig moet vashou.
Sinodes in die Bybelse tyd
Sinodes is ook baie Bybels. Deurgaans word dit duidelik dat verskillende kerke nie maar net onafhanklik op hulle eie hoekie van die wêreld afgesonder is nie. Hulle staan in ’n verband, ’n kerkverband.
In die Ou Testament reeds moes die volk Israel saam na God se wil soek. In die Nuwe Testament vind ons reeds in Handelinge 15 ’n vergadering van gelowiges uit verskeie gemeentes wat oor ’n belangrike agenda-punt moes praat en besluit.
Paulus se brief aan die Galasiërs is gerig tot verskeie kerke in dieselfde provinsie wat almal met ’n eenderse saak worstel (Galasiërs 1:2).
In Openbaring 1 tot 3 is sewe briewe aan sewe gemeentes in Klein Asië, waarin onder andere gemeenskaplike sake aangeraak word.
Die sinode moet die eenheid beskerm
Die kerke staan in verband met mekaar. Hulle staan veral in verband met Jesus Christus. Hy is die Een wat wandel tussen sy kerk (Openbaring 1:13). Hy beskerm die verband in sy kerk, en Hy doen dit deur sy Woord en Gees.
’n Klassis
Om hierdie rede is dit belangrik dat kerke met mekaar in gesprek tree. Ons eenheid in Christus word sigbaar daarin dat ons deur sy Gees een is in sy Woord en wat ons op grond van sy Woord bely. As daar dus by een kerk ’n saak is waaroor die gemeente bekommerd is of raad soek, nader hulle ander kerke om hulp te bied. Dit noem ons ’n meerdere vergadering. Kerkrade (ouderlinge en predikante) van naburige kerke kom bymekaar om saam oor die sake te besin en vanuit God se Woord besluite te neem. So ’n vergadering word ’n klassis genoem.
’n Streeksinode
Dit gebeur dat ’n klassis besef dat ’n saak wat op hulle agenda was, nóg meer kerke in die kerkverband raak. Dit kan ook gebeur dat ’n gemeente nie saamstem met ’n besluit wat op die klassis geneem is nie. In so ’n geval moet nog meer kerke saamkom om te besin oor wat God in sy Woord oor hierdie sake sê. Nóg meer kerke gaan saam op pad om eerbiedig te buig voor God se Woord, en op grond daarvan belangrike besluite te neem. So ’n vergadering word ’n streeksinode genoem. Daar is tans sewe streeksinodes in die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika.
’n Algemene sinode
Uit streeksinodes vloei daar steeds sake voort wat méér streeksinodes in die kerkverband raak. Hierdie sake word in die lig van God se Woord bespreek tydens ’n algemene sinode. Vanaf elke streeksinode word ouderlinge en predikante afgevaardig om biddend oor die sake te besin. Tydens die algemene sinode word besluite geneem wat die hele kerkverband raak. Hierdie besluite word geneem vanuit God se Woord, getrou aan ons belydenis, en in lyn met die goeie orde wat die Here vir ons as sy kerk gegee het.
Wat moet na ’n sinode gebeur?
Na afloop van ’n klassis, streeksinode of algemene sinode is dit belangrik dat elke selfstandige kerk deeglik kennis neem van die besluite wat geneem is. Dit mag wees dat kerkrade met die besluite nie saamstem nie. In so ’n geval is dit hulle taak om vanuit die Woord aan te dui hoekom ’n sekere besluit verkeerd is. Dan vergader die kerke wéér om oor ’n saak te besin. Die een lyn wat uit dit alles baie duidelik na vore kom is dit: ons wil saam op pad wees soos wat God die pad vir ons wys in sy Woord. As ons mekaar daar nie meer kan vashou nie, dan is daar nie eenheid nie, en dan kom kerkskeuring.
Sinodebesluite word geneem in die Woord
Dit gebeur dikwels dat daar oor sinodebesluite gepraat word asof dit die onbelangrike besluite van mense is. Dit gebeur selfs dat kerke hulle nie aan die besluite van sinodes steur nie. As gelowiges en as kerke het ons egter ’n Godgegewe roeping om mekaar vas te hou aan God se Woord.
Die sinodebesluite is nie geldend omdat ’n sinode so sê nie. ’n Sinode het nie gesag in homself nie. Ons Here Jesus Christus het wel alle gesag. Hy bedien sy gesag deur die Bybel. Meerdere vergaderings se taak is om mekaar te bind aan Christus se stem vanuit sy Woord. Dan wil ons opreg na mekaar luister, en opreg leef vanuit dit wat God vir ons in sy Woord sê. As ons dit nie doen nie, is ons ongehoorsaam teenoor God.
As ons mekaar wel vashou aan die Woord van Christus, is kerkverband ’n vredevolle vreugde waaroor ons mag sê: “kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit” (Psalm 133).
Gaan kyk gerus na die Gereformeerde Kerkorde agter in jou Psalmboek, waar die vergaderings in die Gereformeerde Kerke in artikel 29 tot 52 beskryf word.
Die dag wanneer die Sinode ‘n juigende getuie en hartsverheffende belyer is sodat almal teenwoordig, wat al die lidmate tuis verteenwoordig, nie moeg, afgemat en in onmin voorkom maar Geesvervulde opheffing ervaar en beGeestering uitstraal, word na uitgesien!