Vertrou: God sal jou dra

Deur ds. Karel Steyn

Is jy bekommerd oor die land? Lewe jy in spanning? Wanneer mens só leef, soek jy dikwels na iets om vir jou te sê dat alles gaan reg kom. Daar gaan iets gebeur of iemand gaan kom wat gaan help om die druk te verlig. Hierdie reaksie van die mens is so oud soos die mensdom self.


Die Babiloniërs en hul afgode

In Jesaja 46 hoor ons hoe God sien dat sy volk moeg, moedeloos en gespanne is weens hul situasie in ballingskap. Die gedeelte begin deurdat God sê dat Bel ineengestort het en dat dit klaar is met Nebo. Bel was die Babiloniërs se god van die skepping en oorlog terwyl Nebo, Bel se seun, die god van wysheid was.

Die Babiloniërs het die oortuiging gehad dat dit goed sal gaan met Babilonië, solank dit goed gaan met hierdie twee gode. Hulle het totaal en al op hierdie twee afgode vertrou. Soveel só dat hulle hierdie afgode saam gedra het as hulle oorlog gaan voer het, want as hulle gode by hulle is, sal hulle mos die geveg wen. God sê dan hier vir die volk dat dit klaar is met hierdie twee gode. Nie eers die mense kan hierdie twee gode meer dra nie en selfs die pakdiere is te moeg om hierdie twee gode verder te wil dra. Hierdie gode het ’n las geword.


Afgode van vandag
Dis die ding van afgode. Dit is iets wat die mens vir homself maak, maar wat nie die mens werklik kan red nie. Jy moet as’t ware hierdie “god” van jou dra in plaas daarvan dat hy jou dra. Jy weet ook nie wie of wat hierdie afgod werklik is nie, want al het jy hom gemaak, kan hy nie praat nie en kan hy nie vir jou sê wat jy moet doen om gered te word nie.
Wat dit vandag moeilik maak, is dat ons nie meer ons afgode noodwendig sien nie. Ons afgode is nie meer ’n stuk hout of ’n klip nie, maar baie meer subtiel en dikwels het ons afgode goeie bedoelings. Ons vertrou soms eerder op die reaksietyd van die buurtwag en die sekuriteitsmaatskappy se nuwe toep as wat ons werklik op die Here vertrou. Tog sien ons dit nie raak as afgodery nie.


God maak homself bekend

In Jesaja 46:4 sê God vir die volk dat Hy die Maker is. Dit is Hy wat die mens gemaak het en nie die mens wat Hom gemaak het nie. Dit is Hy wat die volk dra en nie die volk wat Hom moet dra nie. Trouens, daar is niemand soos Hy nie.

Waar die afgode (ook ons “afgode” vandag) hulself nie aan die mens bekend gemaak het nie en nie vir die mens gesê het wat hulle moet doen nie, kom God en Hy maak Homself aan die mens bekend.

Hy begin deur eerstens vir die mens te leer Wie Hy is: hulle redder en beskermer. Hy het die volk nog al die jare gedra en Hy sal ook die volk bly dra in die tye wat kom. Hy leer hulle dat Hy die Almagtige is. Hy sê wat gaan gebeur lank voordat dit gebeur en dan gebeur dit! Daar is vasgestelde tye en gebeure wat volgens sy wil moet gebeur en ook sal gebeur. Hy is totaal en al in beheer.


God sê dit en dan doen Hy dit!

God gee in Jesaja 46:11 vir die volk die belofte van die roofvoël wat Hy uit die Ooste gaan roep. Hierdie roofvoël was Kores wat gekom het en die Babiloniërs oorwin het en wat later die volk vrygelaat het om terug te gaan Israel toe. Dit is God wat dit bewerk het, wat die redding en die verlossing gebring het.

Juis dit maak Hom ook uniek – Hy leer die volk wat Hy gaan doen en Hy dan doen Hy dit werklik! Hy bring die redding en die verlossing, al wat hulle moet doen is aanhou glo en vertrou. Dit is Hy wat hulle dra en sal red!

God doen wat Hy belowe het. Hy roep die volk op om op Hom te vertrou en by Hom die redding te soek. Dit is Hy wat hulle sal dra, wat hulle sal vashou en sal red, want Hy is God! Dit gaan nie daaroor dat Hy iets vir die volk kan doen nie, maar dit gaan bloot net daaroor dat Hy God is en dat Hy die volk uitgekies het om sy volk te wees.


Geloof sê nie dit sal goed gaan nie

Ons glo dat ons deur Jesus Christus en die werk van die Heilige Gees deel is van die volk van God en dat God ons gered en verlos het van die ewige dood. Tog beteken die redding en die verlossing wat die Here vir ons gee nie dat dit met ons goed sal gaan nie. Geloof in Jesus Christus is nie ’n toep wat veroorsaak dat wanneer ek dit gebruik my lewe skielik makliker en vinniger werk nie.


God beskerm jou vandag

Ek en jy bly geplant hier in Suid-Afrika met sy uitdagings en dinge wat stres veroorsaak. Maar in hierdie plek van spanning, tot in watter mate is dit vir jou ’n realiteit dat God jou vandag beskerm? Elke dag dra God ons en lewe ons binne sy koninkryk. Dit beteken dat dit wat Hy lank reeds bepaal het moet gebeur, wel gaan gebeur. Daar is niks wat gebeur waaroor Hy nie mag het nie.

Dis juis hier waar ons troos in hierdie tye lê. Ons weet nie wat die toekoms van ons land inhou nie, maar ons weet dat net soos wat God ons in die verlede gedra het, net só sal Hy ons ook nou dra, selfs al moet ons deur moeilike tye van groot spanning gaan. Ons troos lê nie in ’n belofte van ’n lewe sonder spanning nie. Dit lê net daarin dat God die Skepper van hemel en aarde is, dat Hy in beheer is en nog meer as dit, dat Hy ons Vader is.

Die redding en die uitkoms wat ons Here beloof is egter nie gekoppel aan ons gemak en welvaart nie, maar aan ons verhouding met Hom in en deur Jesus Christus. Geen verandering, agteruitgang of korrupsie in hierdie wêreld kan hierdie verhouding breek nie.


God se mag was op ’n wonderlike manier bekend gemaak deur die verlossing van die volk uit Babilonië en nog meer so deur die verlossing van die gelowiges met die opstanding van Jesus Christus. Mag dit ons bede wees dat dit wat in die toekoms met ons, as deel van die volk van God, gebeur, God se mag op ’n wonderlike manier bekend maak oor die hele aarde. Mag Hy deur dit wat vir ons in die toekoms wag geëer word en mag sy Naam oor die hele aarde bekend word as dié enigste God wat sy kinders red en dra!