Vestig jou oë op die ewige koninkryk van God

God belowe die volmaakte koms van die koninkryk. Verstaan jy wat die koninkryk van God is – nou en vir ewig? Lees hier.

deur ds Hannes Lee

In Matteus 6 kry ons dié duidelike opdrag van Christus: Soek eerstens na die koninkryk van God. Maar voor ons hierdie opdrag kan uitvoer, mag ons nou vra: wat is die koninkryk van God?

God se koninkryk is die gebied waar Hy heers. Hierdie gebied is die ganse skepping, hemel en aarde. In hierdie gebied regeer slegs God, en sy regering in hierdie gebied is totaal. Geen mag of krag of persoon kan Hom teenstaan nie. Geen mag is ook vergelykbaar met Hom nie.

Geen menseregering, hoe magtig dit ook mag lyk, kan kers vashou by God nie. Selfs Satan, wat durf om God teen te staan en probeer maak asof hy ’n heerser is, is niks voor God nie. Ons Here Jesus Christus het hom reeds oorwin, en sal hom met die aanbreek van die laaste dae volkome vernietig. God duld niemand wat Sy gesag bevraagteken of teenstaan nie. God, as Skepper van alles, is ook Koning van alles.


Hoe het God sy koninkryk tot stand gebring?

God se koninkryk in die hemel bestaan reeds van ewigheid. In die hemel gebeur alles volkome volgens die wil van God. Almal in die hemel erken God as die enigste Here en Koning.

Op aarde het God ook sy koninkryk gevestig. Dit het met die skepping gebeur. As gevolg van die sondeval het hierdie koninkryk egter geweldig skade gely, omdat die mens God begin haat het. die mens het nie meer die gesag van God erken nie, en wou homself eerder eer. Die mens kon God nie meer verdra nie, en was tevrede om dood in die sonde te bly lê.

Die herstel van die aardse koninkryk

Tog is die koninkryk op aarde nie totaal vernietig nie, want God is nog altyd in beheer. Ten spyte van die mens se onwilligheid om Hom te volg, het God ingegryp. Hy het ’n verbond opgerig waarin Hy ’n belofte gemaak het om die koninkryk op aarde te herstel, en vir Hom weer ’n geslag uit die mens bymekaar te maak. Hierdie geslag sal Hom volg en Hom weer as Koning erken. Hierdie geslag sal deur God beskerm word omdat dit sy eiendom is. Hierdie geslag is ook dié wat eendag met Hom in die hemelryk sal wees. Hierdie geslag is al die uitverkorenes, die ware kerk van God.

Maar ons moet besef: om die koninkryk te herstel, het nie maklik gekom nie. Dit het die offer van Christus aan die kruis gekos om dit te doen. God, is absoluut regverdig, en eis vergelding vir die sonde wat die mens teen sy gesag gepleeg het. Geen mens kon hiervoor betaal nie. Slegs Christus, die enigste Seun van God, kon dit doen, en hierdeur het die koninkryk op aarde gerealiseer. As ware gelowiges moet ons weet: God vestig nie net sy koninkryk nie, en Hy kies ons nie net uit om burgers van hierdie koninkryk te wees nie, maar Hy maak die koninkryk ook ’n realiteit in ons lewens.


Ons bid vir die koninkryk

Wanneer ons die Onse Vader-gebed bid, en kom by die bede “laat u koninkryk kom,” bid ons dat God ons met sy Woord en Gees so moet regeer dat ons onsself aan Hom onderwerp. Dit is egter ook ’n belydenis: ons glo dat God dit aanhoudend in ons doen. Hy verkondig die feit van die koninkryk aan ons, en Hy wek deur die Gees die geloof in ons op om Hom as ons enigste heerser te erken. As ons enigste Heerser lei Hy ons dan ook om hoe langer ons lewens aangaan, sy wil al hoe meer te doen.

Wat beteken dit om die koninkryk te soek?

Omdat God die koninkryk op aarde herstel het, en ons in die besonder uitgekies het om die burgers daarvan te wees, verwag God dat ons onsself ywerig aan Hom sal onderwerp deur die koninkryk te soek.

Maar ons moenie die woord “soek” in hierdie verband verkeerd verstaan nie. Soek beteken nie dat ons die koninkryk op ’n manier moet wil verkry nie. Ons hoef dit nie te doen nie, want ons is klaar erfgename en burgers van die koninkryk. Dit is ook onmoontlik om as mens die koninkryk te verkry as God dit nie aan jou gegee het nie.

Nee, met die woord “soek” moet ons verstaan dat ons onsself moet beywer vir die koninkryk. Die koninkryk moet die hoofprioriteit van ons lewens wees, die middelpunt waarom ons hele bestaan draai. Ons moet begeer dat die koninkryk ons lewens elke dag al hoe meer sal vul, sodat die saak van God se koninkryk uiteindelik al sal wees waaraan ons kan dink.

Ons gebed moet oorgaan in dade

Om hierdie rede kan ons nie maar net bid “regeer ons deur U Woord en Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan u onderwerp” nie. Ons moet ook gehoorsaam reageer op hierdie bede. Dit beteken dat ons die Woord ywerig sal ondersoek, en lewe volgens die voorskrifte wat God daarin gee.

Ons kan nie koud teenoor die Woord staan nie. Ons moet God, wat Homself in die Skrif openbaar, met ons harte, ons verstande en al ons krag dien en liefhê. Ons moet alles uitvoer wat God vir ons beveel om te openbaar.

Die hele bergrede in Matteus 6 kan beskou word as ’n “gedragskode” of ’n “grondwet” vir koninkryksburgers. As daar dan gesê word dat ons onsself vir die koninkryk moet beywer en dit begeer, kan ons dit nie maar opsioneel beskou nie. Ons het nie ’n keuse in die saak nie, ons moet dit doen.


Ons kan nie vanuit onsself ons vir die koninkryk beywer nie

Dit sou egter dwaas wees om uit ons eie onsself te probeer beywer vir die koninkryk. Dit is God wat dit aan ons gee om onsself vir die koninkryk te beywer. Dit doen Hy deur die Gees, wat ons voortdurend herinner daaraan dat ons koninkryksburgers is, en dat ons dit deur Christus se verdienste alleen is.

Deur die Gees alleen kry ons ook die krag om onsself vir die koninkryk te beywer. Indien ons self moes kies, sou ons die koninkryk maklik vergeet het, en eerder onsself in hierdie lewe probeer bevorder het. Maar die Gees laat hierdie nie toe nie, en dring ons daarheen om die koninkryk meer en meer op te soek.

Lewe soos kinders van die koninkryk

Deur die Woord en die Gees moet ons dus lewe soos kinders van God se koninkryk veronderstel is om te lewe. Ons moet duidelik herkenbaar as koninkryksburgers wees. Dit beteken byvoorbeeld dat ons nie net moet bid dat God Sy kerk op aarde sal bewaar en laat groei nie. Ons moet ook gehoorsame instrumente in God se hande wees, en werk vir die groei van die kerk soos en wanneer God aan ons geleenthede skenk om dit te doen.

Die koninkryk van God op aarde

Ons moenie net aan die koninkryk dink in terme van die huidige nie, maar ook aan die ewige. Want so heerlik as wat die koninkryk op aarde is vir die wat uitgekies is om dit te ontvang, is dit nog nie volmaak nie.

Hier op aarde gaan ons nog steeds onder die swaarkry van die sonde gebuk. Ons werklikheid is gebroke, en ons ken heelwat pyn, lyding en smart in ons lewens. Die koninkryk op aarde bestaan, omdat Christus dit gevestig het, maar dit word nog steeds van alle kante af deur die duiwel en sy volgelinge aangeval. Vir ons as gelowiges is dit partykeer verbysterend om al die verskillende maniere te sien waardeur die koninkryk aangeval word.

Tog mag ons nie ontmoedig word nie. Nie as ons opreg wil bid “laat u koninkryk kom” en ons onsself wil beywer vir die koninkryk nie! Nee, as ons bid dat God sy koninkryk moet laat kom, bely ons ons geloof in die dag wanneer die koninkryk van God volmaak vir ons ook gaan aanbreek. Want daardie dag gaan kom. God waarborg dit vir ons. Hy sal ons nie toelaat om onsself vir ’n koninkryk te beywer wat nooit volledig gaan aanbreek nie! Nee, God belowe die volmaakte koms van die koninkryk vir ons, en sy belofte is ’n waarborg.


Die ewige koninkryk van God wat kom

Hierdie dag wanneer die koninkryk van God volkome vir alle uitverkore gelowiges gaan deurbreek, is wanneer Christus weer na die aarde sal kom. Christus het die koninkryk op aarde kom hervestig, en met sy koms maak Hy dit volmaak. Hy sal sy troon as Heerser van die koninkryk sigbaar opneem, en almal, elke mens wat sedert die begin van die skepping gelewe het, sal Hom moet erken as die hoogste Koning en enigste Heerser.

As Heerser sal Christus dan al die vyande van Hom en sy koninkryk uitwis. Almal wat ooit beplan het om God se koninkryk skade aan te doen, sal vernietig word. Die duiwel, en al sy volgelinge, sal nie meer bestaan nie. Al wat sal oorbly, is die volmaakte koninkryk. Ons, wat hier op aarde as koninkryksburgers gewoon het, sal hierdie koninkryk mag binnegaan. In die koninkryk sal ons uiteindelik voor God se aangesig mag lewe. Ons sal volmaak volgens die wil van God lewe, en hierdie lewe sal tot in ewigheid wees.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui