Waarom het ons geloofsbelydenisse en belydenisskrifte nodig?

’n Gereformeerde kerk is ’n belydeniskerk. Dit wil sê, dit hou verband met die historiese Christelike geloof en die Protestantse reformasie deur te erken dat sekere leerstellings waar is. Hierdie leerstellings word saamgevat in kerklike verklarings, bekend as belydenisskrifte en geloofsbelydenisse. Sonder dit verloor ’n kerk sy identiteit.
Vir party mense voel hierdie klem op belydenisskrifte en geloofsbelydenisse ’n bietjie vreemd, selfs kommerwekkend. Waarom sal ’n kerk wat in die Bybel glo, aan ongeïnspireerde en feilbare dokumente wat deur mense geskryf is, vashou? Die Bybel is immers die geïnspireerde Woord van God. Waarom moet Christene hulle bemoei met dinge soos die Apostoliese geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls? Dit is billike vrae. Hier volg ’n verduideliking van waarom belydenisskrifte en belydenisse gebruik word. Kortom, kan ons drie redes noem:
- Dit bewaar die kerk se eenheid in die waarheid
- Dit beskerm die kerk teen dwaalleer (valse lering)
- Dit onderrig die kerk
1. Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte bewaar die kerk se eenheid in die waarheid
Ons eenheid as Christene is gebaseer op die waarheid wat ons bely (ons leerstellings). Ons verantwoordelikheid om mekaar lief te hê en goeie werke te verrig, moet altyd in reaksie op die waarheid gedoen word. Ons kan nie die leer van liefde en goeie werke van mekaar skei nie; dis om ’n ander godsdiens as die Christendom te bely, want die Christendom is op die evangelie van Jesus Christus gebaseer. Paulus prys die kerke herhaaldelik vir hul geloof in Christus en liefde vir mekaar (sien byvoorbeeld Efesiërs 1:15; 3:17; Kolossense 1:4; en 1 Tessalonisense 1:3; 3:6).
Dit is hoekom ons die noodsaaklike leerstellings moet bely. Om dié leerstellings te verwaarloos, is om die grondslag van ons eenheid te verwaarloos. In die kerk is ons eenheid nie op ons etnisiteit, politieke party of verbruikersvoorkeure gebaseer nie. Ons eenheid is streng op die evangelie en die Bybelse waarhede wat ons bely gebaseer. Daarom noem ons, ons belydenisse die drie vorme van eenheid. Ons is ’n uiteenlopende volk uit elke taal, nasie en stam, maar verenig in ons belydenis.
Eenheid is nie iets wat ons kunsmatig kan produseer nie. Net God kan hierdie eenheid skep, en hy het dit in Jesus Christus gedoen. Ons is eenvoudig geroep om hierdie eenheid te handhaaf. Die apostel Paulus skryf aan die Efesiërs en sê vir Christene: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Efesiërs 4:3). In die volgende verse sê hy: “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon” (Efesiërs 4:4-6). Hy verklaar hierdie sewe artikels van die Christelike geloof in wat volgens sommige Nuwe Testamentiese geleerdes ’n belydenis was wat nuwe bekeerlinge voorgelees het net voor hulle gedoop, en sigbaar in die kerk ontvang is. Die punt wat Paulus maak, is baie duidelik: daar is geen eenheid buiten die waarheid nie. Ons het geloofsbelydenisse en belydenisskrifte nodig omdat dit kerklike uitsprake is oor wat ons glo die Bybel leer.
Die woord geloofsbelydenis, “creed” in Engels, kom van die Latynse credo, wat eenvoudig beteken ‘ek glo’. ’n Geloofsbelydenis is bloot ’n opsomming van wat ’n mens glo. En ’n belydenisskrif is soortgelyk. ’n Belydenisskrif, of “confession” in Engels, is ’n meer gedetailleerde verduideliking van die Christelike geloof. Die woord ‘belydenis’ kom van die Latynse confessio, wat ‘ek erken’ beteken. Feitlik elke Christen het ’n geloofsbelydenis, of hy dit besef of nie.
Gestel jy vra ’n Christenvriend uit oor sy oortuigings. Jou vriend, wat trou aan die Woord van God wil wees, sê: “Ek glo die Bybel.” Dit is natuurlik ’n goeie antwoord, maar dit is baie algemeen en breed – die Bybel is ’n groot boek! Jy vra dan: “Maar wat glo jy leer die Bybel? Wat leer dit oor God? Wat leer dit oor Christus? Wat sê dit oor verlossing?” Op daardie oomblik word jou vriend gedwing om ’n geloofsverklaring af te lê. Sodra hy begin om op te som wat die Bybel oor God, Christus, verlossing of enige ander leer leer, het hy bely. Dit is wat Petrus in Matteus 16 gedoen het toe Jesus vir hom vra: “Wie sê jy is ek?” Petrus antwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hy het ’n belydenis afgelê.
’n Persoonlike belydenis is ’n goeie en belangrike ding. Maar as een liggaam van Christus behoort ons dieselfde dinge te bely. Ons moet saamstem oor die wesenlike leerstellings van die Christelike geloof. Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte gee ’n opsomming van die noodsaaklike apostoliese leerstellings en stel ons in staat om as Christus se kerk verenig te staan met een gelowige hart en een belydende tong. Dit help om die eenheid van die kerk in die waarheid te bewaar.
2. Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte bewaar die kerk teen dwaalleer
Dit is interessant om daarop te let dat geloofsverklarings dikwels in die Skrif voorkom. In Deuteronomium 6:4 vind ons byvoorbeeld die groot Sema: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” Jode het hierdie geloofsbelydenis voorgelees sedert die dae van Moses. Dit was ’n belangrike geloofsbelydenis omdat dit die Israeliete beskerm het teen die dwaalleer van politeïsme, die oortuiging dat daar baie gode is. Toe Israel hierdie geloofsbelydenis ontvang het, was hulle besig om uit Egipte gebring te word waar hulle honderde jare lank gewoon het. Egipte was ’n kultuur met gode vir feitlik elke denkbare gebied van die heelal. Dit was noodsaaklik dat Israel weet daar is net een ware, lewende God.
Ons sien ook belydenisverklarings in die Nuwe Testament. In 1 Korintiërs 15 het Paulus probeer om die verskriklike dwaalleer in die Korintiese kerk wat die liggaamlike opstanding ontken het, reg te stel. Die eerste ding wat hy doen, is om ’n geloofsbelydenis aan te dui waarmee hulle vertroud was. Hy sê: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte” (1 Korintiërs 15:3-4). Hy pak dan die klein geloofsbelydenis uit gedurende die res van die hoofstuk en verduidelik dat ’n mens nie die opstanding van die liggaam kan ontken sonder om ook die opstanding van Christus (en dus die evangelie) te ontken nie. Die noodsaaklike leerstelling moes dus kort en duidelik gestel word om die kudde te beskerm teen wolwe wat die skape van Christus sou mislei.
Ons sien hierdie patroon regdeur die Nuwe Testament. Die apostels moes die waarheid ondubbelsinnig verklaar om die kerk teen dwaalleer en skade te beskerm. Dit is ’n pastorale verantwoordelikheid wat deur die eeue in die kerk voortgeduur het. Elke keer dat ’n nuwe dwaalleer die suiwerheid van die waarheid bedreig het, moes die kerk reageer deur die wesenlike leerstelling wat die Skrif leer duidelik te stel. Byvoorbeeld, in die vierde eeu het die kerk ’n groot krisis in die gesig gestaar toe die dwaalleraar Arius die leer van die ewigheid en godheid van Christus aangeval het. Arius het gesê dat hy die Bybel glo. Hy is selfs opgelei by een van die beste skole van sy tyd en georden. Maar omdat hy gedink het dat hy in die belang van die waarheid handel, ontken hy die noodsaaklike Christelike leerstelling en het baie mense op ’n dwaalspoor gelei. Die kerk het dus op hierdie situasie gereageer deur noukeurig na die leerstellings van Arius te kyk en dit dan tereg as dwaalleer te veroordeel. Die kerk, verteenwoordig deur ekumeniese afgevaardigdes, het ’n belydenisskrif in reaksie op die leerstelling van Arius geskryf om gelowiges te beskerm. Dié geloofsbelydenis is die Geloofsbelydenis van Nicea.
Namate dwaalleer ontstaan en die kerk aanval, is dit nodig dat die kerk reageer deur spesifieke leerstellings in die Skrif op te som om valse lering te weerlê. Dit is ’n aanklag wat aan die kerk gegee word. Paulus het vir die jong pastoor Timoteus gesê: “verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend”(2 Timoteus 4:2-4).
Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte is daartoe ’n hulpmiddel. Deur ’n duidelike stel Bybelse leerstellings te glo en te bely, is die kerk beter toegerus om Christus se skape te beskerm. Boonop beskerm dit ons teen onsself. Elkeen van ons lees die Bybel met filosofiese voorveronderstellings. Ons is gevalle mense. Ons bring bagasie na die teks wat ons interpreteer. Hoewel geloofsbelydenisse en belydenisskrifte nie waarborg dat ons ’n onfeilbare interpretasie van die Skrif sal hê nie, bied dit tog ’n beskerming. Dit hou ons op koers.
3. Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte onderrig die kerk
Geloofsbelydenisse en belydenisskrifte help ons om die Bybel as ’n geheel te verstaan. Dit onderrig ons oor die leer wat voortspruit uit die verhaal van verlossing. Dit is een van die maniere waarop die kerk haar verantwoordelikheid nakom: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het …”(Matteus 28:19-20). Die kerk het die verantwoordelikheid om die apostoliese leer te onderrig, wat as ’n fondament vir ons geloof gelê is (Efesiërs 2:20). Daarom word dit die Apostoliese Geloofsbelydenis genoem – nie omdat die apostels dit self geskryf het nie, maar omdat dit ’n getroue uitdrukking is van die apostoliese leer wat Christus sy kerk beveel het om te leer.
Dit is ook die rede waarom die Reformasie ons ryk belydenisskrifte gegee het. Die Heidelbergse kategismus gaan deur die Apostoliese Geloofsbelydenis en verduidelik dit, reël vir reël, sodat ons onderrig word in wat ons glo en waarom ons dit glo. Dit leer ons wat God van ons in elk van die Tien Gebooie vereis, en wat dit beteken om elke reël van die Onse Vader te bid. Dit leer ons oor die wet en die evangelie, en hoe ons in dankbaarheid teenoor God moet lewe met ’n lewe van goeie werke. Dit organiseer Bybelse leerstellings en leer ons in ’n vraag-en-antwoord-formaat, sodat ons die basiese beginsels van die Christendom kan leer ken.
In ons belydenis staan ons, deur God se genade, “in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie” (Filippense 1:27).
Hierdie artikel is vertaal en verwerk vanaf die webwerf van die United Reformed Churches in North America. Besoek gerus hul webwerf, of laai hier die boekie af waarin die volledige artikel verskyn.