Waarom word jy ’n Christen genoem?

As Christene het ons deel aan Jesus Christus se salwing. Lees hier hoe die Heilige Gees jou dan as profeet, priester en koning toerus.
deur ds Daniël Myburgh
“Ons is Christene.” Ons sê dit maklik. As ons die waagmoed het om te sê ons is Christene, dan moet ons lééf soos Christene. Maar hoe leef Christene? Ons kry alreeds ’n antwoord in die eerste vers van 1 Petrus 2:
Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.
1 Petrus 2:1
Hier word ons geleer dat dit van ons verwag word om sonder woede te leef. Dit word van ons verwag om nooit iemand te bedrieg nie. ’n Christen mag nie een ding sê en die teenoorgestelde doen nie. Dit word van ons verwag om nooit jaloers op iemand anders te wees nie. Ons mag nie iemand anders slegsê nie.
In geloof het ons deel aan Christus se salwing
Soos ons weet, is dit nie altyd maklik nie. Die tipe gedrag wat die Here van ons verlang, kom nie uit onsself nie. En daarom gee die Here vir ons die opdrag in 1 Petrus 2:4: “Kom na Hom toe, die Lewende Steen.” Christus gee vandag vir ons goeie nuus: Ons hoor vandag dat ons, deur die geloof, lede van Christus se liggaam is. As ek wérklik in Hom glo, dan laat Christus my deel aan alles wat Hy gedoen het. As Christene het elkeen van ons deel aan sy salwing.
Ons bely op grond van die inhoud van die Bybel dat Christus tot Profeet, Priester en Koning gesalf is. Christus is nie met olie gesalf nie, maar met die Heilige Gees. En nou hoor óns dat ons deel het aan hierdie salwing van Christus. As ek ’n gelowige is, dan word ek óók met die Heilige Gees gesalf, soos wat Christus deur die Heilige Gees gesalf is (vgl. Heidelbergse Kategismus Sondag 7(20)).
Wanneer word ons met die Heilige Gees gesalf?
Sommige mense glo dit gebeur wanneer mens “jou hart vir die Here gee.” Dit is nie die geval nie. Die mens besluit nie om God te kies nie, God kies die mens. Vergelyk onder ander Jesaja 43:1 en Efesiërs 2:8.
Sodra ek uitverkies is, is ek reeds met die Heilige Gees gesalf/toegerus.
Die Heilige Gees rus ons toe tot drie groot take
Die Heilige Gees rus ons toe om as profete op te tree. Hy rus ons ook toe om as priesters op te tree. Die Heilige Gees rus ons ook toe om as konings op te tree.
Ons moet profete wees
Eerstens, tree ons as profete van Christus op sodat ons sy Naam kan bely (Sondag 12). Wanneer ons Christus se Naam bely, dan vertel ons aan ander mense presies wie Christus is. As profete, vertel ons vir hulle van Christus se verlossingsdade (1 Petrus 2: 9). Ons vertel vir hulle dat Christus die Lewende Steen is wat deur mense afgekeur is (1 Petrus 2: 4; Romeine 6:9).
As profete is dit ons plig om te vertel dat Jesus Christus deur mense verwerp is. Dat Hy aan die kruis moes sterf as betaling vir gelowiges se sondes. Dit is ook ons plig om te vertel dat God vir Christus verhoog het. Al het mense Christus verwerp, het God aan Hom ’n ereplek gegee. Dit is ons plig om te vertel dat Christus uit die dood uit opgestaan het en na die hemel opgevaar het.
Ons word opgeroep tot priesters
Wanneer ons dan bely dat ons onsself as lewende dankoffer aan die Here kan toewy beteken dit nie dat ons onsself moet offer nie. Dit beteken net dat ek so dankbaar vir my verlossing is, dat ek dit met my hele lewe wil wys. Ek wil met my hele lewe wys dat ek dankbaar is dat Christus Homself vir my geoffer het. Dít is hoe ek, as priester, kan optree. Ek offer my tyd, my geld, my energie, my gawes, my álles vir die Here. Want ek is so dankbaar vir wat Hy vir my gedoen het.
Ons word toegerus om konings te wees
Vandag bely ons dat ons reeds, in hierdie lewe, teen die duiwel kan stry. Ons bely ook dat ons saam met Christus oor alle skepsels sal regeer. Dit is hoe wonderlik God vir ons is! Deur Christus het ons die voorreg om nie net as profete en priesters te leef nie, maar ook as konings. Ons ontvang die voorreg om, reeds in hierdie lewe al, elke dag teen die duiwel te kan stry. Ons hoef nie vir die duiwel bang te wees nie. Deur gebed en die krag van die Heilige Gees kán ons hom teëstaan. Ons Here het hom reeds oorwin. Deur Christus is ons meer as oorwinnaars (Romeine 8:37).
Waarom word jy ’n Christen genoem? Want, deur die geloof, is jy ’n lid van Christus. Jy is ’n lewende steen wat bruikbaar is in sy Kerk. Wees daarom, as profeet, bereid om iets van Christus aan ander mense te vertel. Wees bereid om, as priester, jou hele lewe aan Hom toe te wy. En wees bereid om, as koning, teen die duiwel te stry.