Wat gebeur met ’n gelowige by afsterwe?

Die Here gee ons die opdrag om nie te treur soos dié sonder hoop nie. Die ewige lewe is ons troos. Lees hier hoe ons ook getroos kan wees deur wat na afsterwe met ’n mens gebeur.

deur ds. Brahm Robinson

Ons almal het al iemand aan die dood afgestaan. Daar is ’n diep emosionele seer wat mens dan beleef. Saam met daardie seer van die gemis van die afgestorwe persoon, kom daar ook vrae oor die dood. Dit is opmerklik dat die Here dan ook aan gelowiges die opdrag gee om nie te treur soos hulle wat geen hoop het nie. Die Here sê dit, want Hy gee ook aan ons versekering oor wat na die dood van ’n gelowige gebeur. Gelowiges het ’n eindelose hoop op die ewige lewe. Wat dit behels is dat ons nie net na die wederkoms by Jesus sal wees nie, maar dat ons reeds na ons afsterwe by Hom sal wees.


In die begin het God die mens geskep. Ons lees die volgende by die skepping van die man in Genesis 2:7:

Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.

Die Here het dus by die skepping van die heel eerste mens twee aparte dele gevat en dit onskeibaar saamgevoeg tot ’n mens. Daarna het die sondeval plaasgevind en iets gebeur met die mens, wat nie deel is van God se skeppingsorde nie. Nie net word die gemeenskap met God verbreek nie, maar die mens word sterflik. Sterflik in die sin dat hy saam met die geestelike, ewige dood, die liggaamlike dood sterf.


Maar ons hoor dat Johannes aan gelowiges skryf dat hulle reeds die ewige lewe het, hulle wat in die Seun van God glo (1 Johannes 5:13). Die ewige lewe is gemeenskap met God. Jou verhouding met God begin dus nie eers nadat die wederkoms plaasgevind het nie. Dit begin by jou wedergeboorte. Daar word jy in God se huisgesin of koninkryk gebore, en niks kan jou weer daar uitkry nie. In Romeine 8:38 lees ons dat niks jou van God se liefde kan skei nie, selfs nie eers die dood nie:

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Jesus antwoord ook op ’n vraag van die Sadduseërs oor die lewe hierna dat God nie ’n God van dooies is nie, maar van lewendes (Markus 12:27). Hy leef dus ook nou in gemeenskap met hulle wat reeds in hierdie bedeling gesterf het.


Hierdie lewe saam met God kry ons slegs omdat Jesus die dood oorwin het, en Hy ons deel laat kry aan sy oorwinning en opstanding uit die dood deur geloof (Matteus 28:6). Ook in 1 Tessalonisense 4:14 hoor ons die kern van die evangelie:

Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

Met hierdie groot troos in gedagte sien ons wat met gelowiges gebeur by hulle sterwe. Daar vind ’n skeuring tussen liggaam en siel plaas. So sal dit bly tot by die wederkoms van Christus, wanneer die liggaam opgewek, en die liggaam en die siel weer verenig sal word. Ons sien hierdie ook by Christus. By sy sterwe het Hy sy gees in die hande van sy Vader oorgegee (Lukas 23:46), terwyl sy liggaam daarna in die graf neergelê is (Lukas 23:50-53).


So die liggaam keer terug na die stof van die aarde (Genesis 3:19; Prediker 12:7). Die siel van die gelowige keer terug na God wat dit gegee het (Prediker 12:7). Ons hoor ook in Lukas 23:43 die troosryke woorde van Jesus aan die rower wat saam met Hom aan die kruis sterf:

Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.

Die siele van gelowiges gaan nie dood, bewusteloos of net dwalend nie. Met ander woorde dat hulle steeds weg van God is nie. Hulle is by God.

Paulus beskryf die afsterwe van ’n gelowige as ’n adres-verandering. Jou liggaam is sterflik en word vergelyk met ’n tent wat vergaan. By die afsterwe gaan jy uit jou liggaam, soos uit ’n tentwoning uit, en woon jy by die Here (2 Korintiërs 5; Hebreërs 12:22-23).


Die oomblik wanneer ’n gelowige se gees sy liggaam verlaat, sal dit absoluut perfek gemaak word, net soos die gees van die Here Jesus self. Al jou gedagtes, woorde, liefde, begeertes en gewoontes sal suiwer, volmaak en onbesmet wees. Jy sal vir ewig klaar wees met hierdie ernstige en ontmoedigende beperkings.

By die wederkoms, sal Christus weer alles nuut maak. Hy sal daar ook die siele en die liggame van die gelowiges saamvoeg, en dit sal in ewigheid nooit weer van mekaar skei nie.