Wat kan ons uit die eerste Christene se gemeente leer?

In Handelinge lees ons van die eerste kerk. Lees hier oor die eienskappe van hierdie kerk en wat ons daaruit kan leer – veral oor liefde vir God.

deur ds. Brahm Robinson

Ons ken die gebeure rondom die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 baie goed. Daar was 120 dissipels wat in Jerusalem gewag het toe die Gees op hulle uitgestort is. Daarna het hulle die evangelie verkondig aan Jode wat uit verskeie dele van die wêreld kom, en daar het nog 3000 mense tot geloof in Jesus Christus gekom.

Nou ontstaan die noodwendige vraag, dat as hulle nou nuwe dissipels van die Here is, hoe moet hulle kerk wees? Hoe moet hulle hulself inrig om as kerk te leef? Ons lees dan wat die eerste kerk gedoen het in Handelinge 2:41-47. Daar word eienskappe vir ons genoem waardeur hulle gekenmerk was: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede” (vers 42).


Leer van die apostels

Ten eerste sien ons dat hulle die leer van die apostels gevolg het. Ons kan aflei wat hierdie leer was vanuit Petrus se preke in Handelinge 2 tot 4. Daaruit lees ons dat die inhoud van die leer van die apostels niks anders as die evangelie was nie. Soos vanuit daardie preke afgelei was daar ongetwyfeld baie klem gelê op die feit dat die verlossingswerk van Jesus die vervulling van baie Ou Testamentiese profesieë was: Jesus moes verwerp, gekruisig, begrawe en uit die dood opgewek word.

Ons moet in gedagte hou dat die apostels ook nog self baie moes begryp. Dit blyk later uit Handelinge 10 en 11 dat Petrus nie verstaan het dat God die ou Joodse voedselwette tersyde gestel het nie. Hulle het nog nie besef dat die kerk uit Joodse en nie-Joodse gelowiges moet bestaan nie (Efesiërs 2-3). Die kwessie van besnydenis en wetsonderhouding vir heidene sou in hoofstuk 15 (die Raad van Jerusalem) behandel word. Baie teologiese punte sou nog in die komende eeue gedefinieer en verfyn word, maar hulle is deur die leer van die apostels oor Jesus Christus in die geloof gelei.

Onderlinge verbondenheid/gemeenskap

Die woord wat Lukas vir “gemeenskap” gebruik is baie wyd. “Gemeenskap” beteken in wese “gesamentlike deelname” of “deel iets gemeen”. Dit is dus ’n soort vennootskap. In Filippense 2:1 word die woord vir ’n gemeenskaplike deelhê aan die Heilige Gees gebruik. In Filippense 3:10 word dit gebruik om deel te hê aan Christus se lyding en in Galasiërs 2:9 blyk dit ’n deelname in die bediening te wees.

Gelowiges kan op verskillende maniere met medegelowiges ‘gemeenskap’ beleef, insluitend maaltye en gebede. As Handelinge 2:44-45 Lukas se verdere beskrywing is van hoe gemeenskap in die eerste gemeente in Jerusalem gelyk het, val sy klem spesifiek ook op die gemeenskap om die materiële goed met mekaar te deel. Die eerste gelowiges het in dit wat hulle het, gemeenskap met mekaar beoefen.

Breek van brood

Om brood te breek, verwys nie altyd net na nagmaal nie. Die uitdrukking kan eenvoudig verwys na die eet van ’n maaltyd (Sien Handelinge 27:35). As ons na die konteks in vers 46 kyk, sien ons in watter sin Lukas dit bedoel: “Hulle het … van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet.” Die deel van ’n maaltyd was miskien die mees intieme vorm van gemeenskap met medegelowiges.

Die gebede

Die gelowiges in Jerusalem het ywerig volhard in die nakoming van die vasgestelde tye van Joodse gebede in die tempel. Aangesien hulle as Jode vasgestelde tye vir gebede gehad het, het hulle daardie goeie gebruik voortgesit. Hulle het steeds aangehou met die vorige gebruike, maar net as gelowiges wat in Jesus Christus glo.


Die houdings en verhoudings van ’n gesonde kerk

Hierdie gebruike van die eerste gemeente is deur baie gebruik om die noodsaaklike eienskappe van ’n kerk te beskryf. Hierdie vier gebruike word as merktekens van die ware kerk voorgehou (sien NGB artikel 29). Tog bied hierdie dinge nie ’n voorskrif vir die res van die gemeentes nie, maar eerder net ’n beskrywing van wat gebeur het.

Die toets van ’n Nuwe-Testamentiese kerk is nie net om die regte dinge te doen nie, maar dit gaan ook oor die regte gesindhede in die regte verhoudings. Dit is nie net wat die kerk in Jerusalem gedoen het wat Lukas hier probeer oordra nie, maar dit was ook hoe en hoekom hulle hierdie dinge gedoen het.

Wat hulle gedoen het is net die uitdrukking van hul liefde vir God en hul liefde vir mekaar. Omdat hulle lief is vir God het hulle volhard in die leer van die apostels en gebede. Omdat hulle lief was vir mekaar het hulle aangehou met die breek van die brood en die onderlinge gemeenskap. Dit is net opregte liefde.

Daar was ’n konstante stemming van feesviering in alles wat hulle gedoen het. Dit is wat ook ons gemeentes moet kenmerk: ’n ware liefde vir God en ’n ware liefde vir mekaar.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui