‘n Wêreld vol haat

Deur Karel Steyn

As God ‘n God van liefde is, waarom is daar soveel boosheid? Kruispad antwoord hierdie bekende vraag.

As daar een ding is wat ons as die mensdom nog nooit heeltemal kon verstaan nie, is dit dat slegte goed met goeie mense gebeur. Trouens, daar is in die Bybel een hele boek wat omtrent net hieroor gaan – Job. Interessant genoeg is Job een van die oudste boeke in die Bybel! Die hele boek Job vertel die storie van die man Job wat só reg gelewe het dat selfs God gesê het dat hy vroom en opreg is (Job 1:8). Tog tref die een na die ander ramp hom tot Job 2:8 vertel hoe hy op die ashoop sit en homself met potskerwe krap.

Waar kom hierdie boosheid vandaan?

Hierdie is die eerste vraag wat ons eintlik moet vra. God is verseker ’n God van liefde, maar dit beteken nie dat daar nie boosheid is nie.
As ons hierdie argument baie moet vereenvoudig, sou ons kon sê dat daar nie dokters in hierdie wêreld is nie omdat daar steeds siekte is. Omdat die een waar is, beteken dit nie dat die ander nie waar is nie.

Ons kan die
teenoorgestelde sê: omdat God ’n God van liefde is, weet ons wat boosheid is en
sien ons dit in die wêreld raak. Paulus gebruik hierdie argument wanneer hy in
Romeine praat oor die wet en die sonde. Dit kom daarop neer dat indien daar nie
’n wet was nie, sou ons nie geweet het wat sonde is nie, maar nou, omdat daar
’n wet is, weet ons wat sonde is (Romeine 7:7-11).

Wanneer ons oor
boosheid praat, moet ons terugdink aan voor die sondeval. Dink aan die tyd toe
een van die engele in opstand teen God gekom het. Toe is Satan en die bose
magte uit die hemel gegooi en van toe af probeer hulle met alle mag die koningsheerskappy
van God hier op aarde versteur (Openbaring 12). Daar waar iets of iemand die
heerskappy van God keer, dáár is boosheid aan die werk.

Omdat God ’n God van liefde is, weet ons wat boosheid is en sien ons dit in die wêreld raak.

Boosheid en my sonde

Beteken dit dan
dat my sonde niks anders as boosheid is nie? Aan die een kant wil ons dadelik
sê ja, want dit veroorsaak dat God se heerskappy in jou lewe nie duidelik word
nie. Maar aan die ander kant moet ons hierdie vraag bietjie uitmekaar torring,
want nie alle boosheid en slegte dinge wat oor jou pad kom, is weens jou sonde
nie.

Soms sal ons hoor
dat iemand sê dat ’n persoon gestraf word vir sy of haar sonde, daarom dat daar
slegte goed met hom of haar gebeur. Daar lê ’n tekort aan kennis agter hierdie
stelling, want wanneer iemand dit sê, probeer hulle ons eintlik nog wys maak
dat God ons straf vir die verkeerde dinge wat ons doen.

Daarmee trek
hulle in werklikheid ’n streep deur die vergifnis wat God vir ons in Jesus
Christus gebring het. Jesus Christus het vir al jou sondes gesterf. Hy het
klaar die straf op jou sondes gedra (1 Johannes 1:5-2:6). Jy word glad nie meer
gestraf vir jou sonde nie.

Tog beteken dit
nie dat my sonde nie gevolge het nie. Wanneer ek, byvoorbeeld, rondslaap en ek tel
’n seksueel oordraagbare siekte op, is dit nie die straf van die Here nie. Dit
is die gevolge van my verkeerde dade. Elkeen van ons weet dat ons optrede
sekere gevolge inhou en dikwels, saam met sonde, kom daar negatiewe gevolge.

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard” (Jakobus 1:2-3).

Boosheid en God se wil

Hoe sien ek dan
vir God as die God van liefde wanneer daar boosheid oor my kom? Hier is Jakobus
1 vir ons van besonderse betekenis. Dit leer ons dat ons moet bly wees wanneer
allerlei beproewings oor ons pad kom, want beproewings toets ons geloof en leer
ons volharding sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom. Daar lê dus aan
die een kant besonderse geloofsgroei wanneer ek in boosheid vashou aan die Here
en weet dat Hy ook op sy tyd uitkoms gaan bring.

Aan die ander kant leer hierdie hoofstuk ons dat versoekings nie oor ons pad kom deur God nie, omdat God self nie iemand versoek nie. As God iemand sou versoek, sou dit beteken dat God die skrywer van boosheid is. God is nie die outeur van die boosheid nie, maar Hy gebruik die boosheid wat oor ons kom, sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom (Jakobus 1) en sodat ons, nes Job, kan besef dat God selfs oor die boosheid in beheer bly. God bly steeds God (Job 42:1-6) ongeag van wat om ons gebeur.