Werk en rus, alles in diens van die Here
Wanneer ons rus het ons weer nuwe krag om te gaan werk. Maar, om regtig ons krag te herwin, moet ons in die Here rus. Lees hier wat dit beteken.
deur ds. Dirk Meijer
In die somtotaal van die lewe is ons altyd besig met een van twee dinge: of jy werk, of jy rus. So het die Here ons gemaak. By die skepping het die Here al dag en nag van mekaar onderskei – die dag waarin hard gewerk moet word, die nag waarin ons tot rus moet kom (Psalm 104:23). Op die sewende dag het God self gerus van sy werke, nie omdat Hy moeg was nie, maar om dit wat Hy gedoen het te geniet.
Die sonde het ’n invloed op werk en rus
Deur die sonde is die verhouding tussen werk en rus versteur. Direk na die sondeval word werk vir Adam moeilik. Die aarde sal vir hom dorings en distels voortbring (Genesis 3:24). Dit het ook ’n effek op die mens se rus gehad. In plaas daarvan om in ons rus te geniet van die werk wat ons gedoen het, word rus ’n noodmaatreël vir uitgebrande mense om net weer genoeg moed bymekaar te skraap tot die volgende ruskans. Vinnig word die lewe ’n aanhoudende roetine van naweek tot naweek en vakansie tot vakansie – maar daartussen bly die werk ’n las, en die ruskanse bly onvervuld.
Jesus bring nuwe betekenis vir werk en rus
Maar – deur Jesus Christus word die volheid van die lewe nuut gemaak, ons werktyd en rustyd. Alles kry nuwe betekenis. In Hom word ons rustyd ’n verkwikkende opbeuring om weer met krag ons werk te doen. In Hom word ons werktyd ’n vreugdevolle tyd om ons gawes tot sy eer te gebruik.
Ons moet rus om te werk
Deel van ons nuwe lewe in Christus is om ons werk met wysheid te doen. Die Prediker sê:
As die byl stomp word, en ’n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy meer kragte inspan. ’n Voordeel is om wysheid in te span.
Prediker 10:10
Dit is ’n sinnelose besigheid om hout te kap met ’n stomp byl. Nie net mors dit jou tyd nie, dit is ook baie frustrerend. Na ’n dag se kap gaan jy sit met hande vol blase en net ’n klein hopie hout om daarvoor te wys. Jy gaan moedeloos werk toe met jou stomp byl, en die aand kom jy weer terug met geen lus om more weer te gaan hout kap nie.
“’n Voordeel is om wysheid in te span”, sê die Prediker. Ons het wysheid nodig om reg te dink oor ons werk en ons rus. ’n Stomp byl kan geen werk doen nie; ’n moeë mens kan nie ywerig besig wees nie; en ’n uitgeputte mens kan nie ander opbeur nie.
Daarteenoor: ’n Skerp byl, kap flink hout; ’n uitgeruste mens kan hard werk; en ’n wakker mens kan ywerig in diens van die Here besig wees. So iemand kan helder dink en met wysheid besluite neem.
Hiervoor het die Here vir ons rus gegee. In ons rus word ons toegerus. Ons ontvang nuwe krag om te gaan werk.
In hierdie tyd wat die jaar na ’n einde spoed en daar vir baie van ons ’n ruskans voorlê, is dit ’n tyd om die byle skerp te maak. Rus en word toegerus vir die nuwe jaar wat voorlê om weer met vreugde te gaan werk. Maak seker dat die byl nie met die aanbreek van die nuwe jaar steeds stomp is nie!

Ons moet rus in die Here
Wanneer die Here vir ons rus gee, dan gaan hierdie rus oor veel meer as net ’n onderbreking van ons werk. Hierdie rustyd moet sinvol ingerig word. Bo alles behoort ons tot rus te kom in die Here. Sonder Hom gaan rus altyd onvervuld bly, en gaan ons weer met moegheid gaan werk.
In Jesaja 40:31 word ’n algemene beginsel gegee:
wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar word nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.
Die rede hoekom dit so is, is omdat God self nie moeg of afgemat raak nie (Jesaja 40:28).
Hoe rus ons in die Here?
In ons rustyd moet ons op die Here wag. Ons moet daarna soek om sy stem te hoor in die Bybel. Ons moet ons stem voor Hom laat hoor in gebed. Op hierdie pad vul die Heilige Gees ons met nuwe krag. Hy maak ons vars en gretig om diensbaar voor God te staan, beklee met nuwe krag soos arende wat met nuwe vere beklee is.
Só mag ons as nuwe skepsels deur Jesus Christus rus en werk. Dit maak dat werk nie ’n alewige gesug is nie, en rus nie ’n onvervullende vermorsing van tyd word nie. Op hierdie pad geniet ons van die somtotaal van die lewe soos Christus dit gegee het. Ons mag rus om te werk, en ons mag rus om van ons handewerk te geniet. Rus en werk, werk en rus, alles in diens van die Here!