Ontdek jouself in Christus

Deur Lourens Venter

Wonder jy ooit wie jy nou eintlik is? Die ontdekking van jouself begin in Christus. Om te weet waar jou oorsprong is, is om te weet wie jy is. Jy is ’n skepsel, en jy is deur die Skepper gemaak … Jy is ’n mens!

In Psalm 9:21 roep Dawid uit dat die HERE die heidene moet laat weet dat hulle mense is, want mense wat nie weet dat hulle net mense is nie, dink hulle is gode. Om te dink jy is ’n god, en om God te wees is iets heel verskillend. Ons lees in Genesis 1:26-27 dat God gese het: “Laat Ons mense maak na Ons beeld en gelykenis…” God Self het ons as mens gevorm nog in die moederskoot.
En tog as ons net die vorige Psalm in gedagte hou, Psalm 8, dan kom die vraag: “Wat is die mens dat U aan hom dink?” Deur die sondeval het die mens sy eienskappe verloor en verveemd geword van God. Dit is deur hierdie verval in die sonde wat Jesaja uitroep: “Wee my, ek is verlore...” En so ook Paulus: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Rom. 7:24

Skepping en herskepping
As ek weet dat ek die handewerk van die almagtige Skepper is, en dat ek in sonde ontvang en gebore word, wat is my lewe tog werd? Geen mens kan tog in sonde voor God bly bestaan nie. Dit is wat Jesaja sien en ervaar. Dan kom ’n engel, neem ’n kool van die altaar en raak sy mond aan, en die HERE wys daarop dat sy sonde vergewe is. As die HERE daarna uitroep: Wie sal Ek stuur? antwoord Jesaja: Hier is ek, stuur my! (Jesaja 6:6-7)
So is dit ook met Paulus. As hy in die spieël van sy sondige lewe kyk, sien hy net die dood. Dit is soos ’n raaisel. Maar in Christus ontvang hy ’n nuwe lewe. Hy word saam met Christus gekruisig in die sonde om in ’n nuwe lewe op te staan.

Nuut gemaak
As ek ’n nuwe mens is, dan is ek ook ’n ander mens. Al die dinge van die sondige lewe moet ophou, en ek moet ’n heilige lewe in gemeenskap met God leef. As ek nuut is, dan moet ek nie meer oud wees nie. Tog is dit nie so maklik nie want ons is geneig om God en ons naaste te haat.
Om God lief te hê is nie natuurlik nie! Dit is regtig so, dit is nie normaal om lief te wees vir God nie. Dit maak van jou ’n uitsondering! Want dit is nie uit jouself dat jy God kan liefhê nie, dit is deur God se genade en liefde dat Hy na jou toe kom. Deur sy Gees maak Hy jou nuut.

Kind van die Vader
In Hebreërs 2 word aan ons beskryf hoe Jesus ’n mens geword het en sy heerlikheid as Koning afgegee het om ter wille van ons die prys van die sonde te betaal. So word dit ook tot ’n klimaks beskryf in Romeine 8 as Paulus aan die gemeente in Rome uitwys hoe ons deur Jesus as weeskinders aangeneem word deur die Vader sodat ons egte kinders mag wees, en daarmee ook erfgename. Daarom kan ons God ons Vader noem, want ons is nou egte kinders.

Wat sien jy in die spieël?
As ek na myself in die spieël kyk, sien ek ’n beeld van myself of ’n Godsbeeld? As ek na die beeld van God herskep is, dan moet ek leef soos ’n egte kind wat my Vader liefhet. ’n Groot deel daarvan is om in dankbaarheid te lewe. As ek weet hoe diep ek in die sonde verval het, en ek weet hoe groot is die genade van Jesus Christus se verlossing, dan kan ek nie anders as om dankie te sê nie!

Wie is ek in Christus?
Ek is ’n sondige mens wat geskape is deur die Almagtige God. Maar ek is herskep deur die Heilige Gees tot ’n nuwe mens in Chirstus. Ek is ’n kind van die hemelse Vader en ’n mede-arbeider in die koninkryk van God. Wie is ek? Niemand nie! Wie is ek in Christus? Meer as oorwinnaar!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui