Só is ek ’n ware vriend vir ander

In Spreuke kry ons baie raad vir hoe ons as vriende moet optree. Laat dit ons inspireer om ’n goeie vriend te wees juis omdat Jesus vir ons so ’n Vriend is.

deur ds Ruan Steyn

In ’n moderne wêreld wat dikwels gevorm word deur vlugtige sosiale media‑verbintenisse en oppervlakkige interaksies, vervaag die begrip van ware vriendskap al hoe meer. Die mens is van nature selfgerig en geneig om verhoudings te koester solank dit voordele of gerief inhou; maar wanneer teëspoed, opoffering of persoonlike koste ter sprake kom, trek ons dikwels terug.

Spreuke 17:17 bied vir ons ’n Bybelse waarheid wat ’n lens is waardeur ons kan kyk na wat vriendskap werklik behoort te wees. Ons lees in vers 17 (2020-vertaling):

’n Vriend betoon ten alle tye liefde, en ’n broer is gebore vir tye van nood.  

In hierdie vers is daar drie kenmerke van die vriend wat God roep.

1. Vriendskap as ’n verbintenis van liefde

Die eerste deel van die vers – “’n vriend betoon ten alle tye liefde” – beklemtoon ’n konstante onvoorwaardelike liefde. Die Hebreeuse teks sê letterlik: “in elke tydstip”. Dit is nie ’n liefde wat wissel met omstandighede, emosies of voordele nie. Dit is nie wisselvallig nie. Dit is ’n liefde wat standvastig bly, selfs wanneer die verhouding nie vir jou voordeel inhou nie.

Hierdie vers roep ons terug na ’n goddelike definisie van vriendskap: vriendskap as ’n verbintenis van volgehoue liefde, wat voortspruit uit God se eie onwankelbare verbondstrou. Selfs wanneer vriende ’n fout maak, stap ons nie weg van die vriendskap nie, maar ons stap juis na hulle toe met vergewensgesindheid, geduld en opbouende teregwysing.

2. Vriendskap wat gebore is vir die nood

Die tweede deel van die vers – “’n broer is gebore vir tye van nood” – wys dat ware vriendskap sy egtheid en getrouheid bewys wanneer die lewe moeilik raak. Die woord vir “nood” verwys na wanneer die moeilikheid van alle kante af druk. Ware vriende neem die verantwoordelikheid in van ’n familielid (soos ’n broer) wanneer die nood druk.  

Om ’n broer in nood te wees beteken om nie net van ’n afstand te staan nie, maar om daadwerklik daar te wees – om te luister, om praktiese hulp te verleen en om mekaar se laste te dra (vgl. Galasiërs 6:2). Dit verg opoffering, energie en selfs gemak. Hierdie soort vriendskappe is nie toevallig nie, want dit is gevorm deur karakter, geloof en die werk van die Heilige Gees in ’n mens se hart.

3. ’n Vriend wat in Christus gegrond is

Ons is van nature selfgerig. Die sondeval het die mens se hart na binne gekeer – na eie voordeel, eie gemak en eie belange. Daarom is dit makliker om vriendskappe te handhaaf wanneer dit vir ons voordelig is, en net so maklik om te onttrek wanneer dit opoffering vra. In ons eie krag kan ons nie goeie vriende wees nie. Eers wanneer ons deur die ware Vriend verander word, kan ons sy karakter in vriendskappe weerspieël.

Jesus Christus is daardie ware Vriend. Hy het nie gewag dat ons lewe agter mekaar is voordat Hy ons vriend geword het nie. Tydens ons diepste nood van ons sonde en verlorenheid het Hy mens geword, juis om sy lewe vir ons af te lê (vgl. Hebreërs 2:11 en Johannes 15:13). Wat ’n vriend het ons in Jesus!

Omdat Jesus ons Vriend is wat ons nooit sal verlaat nie, het ons die vrymoedigheid en krag om ander lief te hê sonder die vrees dat dit ons “te veel gaan kos”.


Hoe lyk ’n ware vriend vandag?

’n Bybelse vriendskap is radikaal. Ware vriendskap behels:

  • Getrouheid. Jy bly teenwoordig, selfs wanneer dit moeilik raak.
  • Opofferings. Jy gee jouself, jou tyd, jou aandag, jou hulp sonder om enige terugbetaling te verwag.
  • Waarheid. Jy spreek die waarheid in liefde, selfs wanneer dit ongemaklik is.
  • Gebed. Jy dra jou vriend se nood voor die Here.
  • Aanwesigheid. Jy stap saam deur die donker valleie, en nie net deur die helder dae nie.

Hierdie vriendskappe is nie net mooi nie, maar dit is ook geestelik vormend. Dit bou gemeenskappe, versterk geloof en dra die geur van Christus.


’n Uitdaging vir jou!

Spreuke 17:17 is ook ’n uitnodiging. Dit roep jou om ’n soort vriend te wees wat God bedoel het. Dit is ’n uitnodiging om verhoudings te bou wat die storms van die lewe kan deurstaan. Dit is ’n aanmoediging om die evangelie se liefde prakties uit te leef.


As gelowiges vra ons nie “wie is my vriende” nie, maar ons vra eerder “watter tipe vriend is ek vir ander?

Laat ons as gelowiges opstaan om dié tipe broers en susters te wees wat die wêreld en die kerk dringend nodig het! Juis omdat Jesus eerste so ’n Vriend vir ons geword het.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui