Die 2020-Bybelvertaling is hier!
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel met trots die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel bekend. Kruispad het meer inligting daaroor.
Hierdie artikel is ’n verwerking van inligting wat beskikbaar is op die webwerf van die 2020-vertaling. Kry meer inligting op www.bybeldirektevertaling.co.za.
Die Bybel: 2020-vertaling, is die jongste, mees relevante Afrikaanse vertaling wat saamgestel is uit die nuutste beskikbare brontekste. Die vertaling streef daarna om lesers te laat voel of die Bybelskrywers van ouds in hul eie woorde self die wonderlike liefdesverhaal van God en die mens aan hulle oordra. Terselfdertyd is die teks in vloeiende, idiomatiese Afrikaans geskryf, met omvattende, beskrywende voetnote.
Die Bybel word amptelik op 29 November 2020 in Bloemfontein bekendgestel maar kan reeds direk by die Bybelgenootskap verkry word.
Hoekom is daar ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling gemaak?
Die doel van hierdie projek was om ’n goed verstaanbare Afrikaanse vertaling van die Bybel te maak, wat teruggaan en kyk na die oorspronklike tale. Daar is ook besluit dat die Bybel so moet wees dat dit gebruik kan word vir voorlesing, in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.
Een van die belangrikste oorwegings is dat daar behoefte is aan ’n Bybelvertaling wat so na as moontlik aan die oorspronklike tekste is. Dink aan die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, dit is die Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste. Vandat die 1983-vertaling bekendgestel is, het die manier waarop daar vertaal word baie verander. Ons kennis van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, het in die afgelope aantal jare uitgebrei. Daar het ook rekenaarprogramme bygekom wat die vertaling makliker maak.
Wie het die opdrag vir ’n nuwe vertaling gegee?
Die Kerklike Advieskomitee adviseer namens alle kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik die Bybelgenootskap van Suid-Afrika oor sake wat die Bybel in Afrikaans raak. In 2004 het hierdie komitee die Bybelgenootskap om ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans voor te berei. Dit het gebeur na jare van deeglike akademiese en marknavorsing, proefvertalings en bespreking. In 2005 het die Bybelgenootskap die opdrag aanvaar en daar is amptelik al reeds in 2006 met die vertaling begin!
Die vertaalopdrag wat die vertalers ontvang het:
“Skep ’n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.”
Wat is ’n direkte vertaling?
’n “Direkte” vertaling is ’n tegniese term wat ontleen is aan die begrip “direkte rede”. Wanneer ’n spreker se woorde “direk” aangehaal word, impliseer dit die spreker se presiese woorde. ’n Direkte vertaling streef daarna om die bronteks van die Bybel op so ’n manier te vertaal asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se woorde “direk” aangehaal word. Dit word dan weergegee asof dit in gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans gepraat/geskryf word. Hierdie soort vertaling fokus nie daarop om die Bybel vir lesers in terme van hul eie leefwêreld lekker te laat lees nie. Dit neem eerder lesers na die Bybel in se eie tyd en leefwêreld.
Dit beteken nie dat vorige vertalings nie getrou aan die bronteks wou wees nie, maar dit is op ander maniere vertaal. Vir die 1933/1953-vertaling is ’n letterlike of woord-vir-woord benadering gevolg. Die 1983-vertaling verteenwoordig weer die verdere ontwikkeling in vertaalkunde waarin die klem meer op ’n gedagte-vir-gedagte of betekenis-georiënteerde vertaling geval het.
Hoe verskil die 2020-vertaling van ander Afrikaanse Bybelvertalings?
- Die 2020-vertaling is nie ’n woord-vir-woord vertaling wees soos die 1933/1953-vertaling nie. Daar word groter klem gelê op die weergee van die bronteks in vloeiende Afrikaans as wat by woord-vir-woord vertalings die geval is.
- Dié vertaling is minder as die 1983-vertaling by die leefwêreld van vandag aangepas. Metrieke mate en gewigte word byvoorbeeld nie in die vertaling gebruik word nie, maar wel die terme wat nader aan die brontaal lê, soos byvoorbeeld sikkels, handbreedte, el en dagreis.
- Anders as in die 1933/1953- en die 1983-vertaling van die Bybelgenootskap word voetnote gebruik om kort verduidelikings aan die leser te gee ten opsigte van sake soos byvoorbeeld probleme in die bronteks of verskillende moontlikhede hoe woorde vertaal kan word.
- Groter klem word op die vorm van liedere en gedigte gegee, wat maak dat die eie aard van Bybelse poësie so ver moontlik behoue bly.
- Daar is ook ’n uitgawe wat die Deuterokanonieke Boeke bevat, aangesien die Rooms-Katolieke en Anglikaanse Kerke wat ook hulle ondersteuning aan die projek toegesê het, hierdie boeke gebruik. Daar bestaan reeds ’n uitgawe van Die Bybel met Deuterokanonieke Boeke waar die Deuterokanonieke Boeke opgeneem is in die 1933/53-vertaling.
- Die werkwyse verskil aansienlik van vorige vertalings van die Bybelgenootskap. Vir die eerste keer is alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by die vertaalproses betrek. Anders as by vorige Afrikaanse vertalings speel professionele Afrikaanse vertalers, letterkundiges en taalkundiges ’n belangrike rol. Daar is ook ’n groot aantal vroulike medewerkers is ook deel van die vertaalspanne.
Kry jou 2020-vertaling só
Om jou eksemplaar van hierdie nuwe Afrikaanse Bybel te koop, stuur ’n e-pos aan sales@biblesociety.co.za of besoek die Bybelgenootskap se aanlynwinkel. Daar is verskillende bindstyle en uitgawes beskikbaar. Rig navrae om Bybels aan te koop aan sales@biblesociety.co.za.
Julle skiet julle gosdiens deur die voet met hierdie “vertaling:.
Voorbeeld: “Gehad het” word werklik
vervang met ” had”, ñ argaïese woord wat slegs gebruik word deur vertalers wat nie ñ benul het van feit dat niémand meer die woord gebruik of selfs kén nie. Die Bybel word al minder relevant vir Afrikaanses.
Prof Bernard Combrink, die projekleier van die vertaling, beantwoord dié kommentaar so:
Ek vertrou dat dit van waarde vir u mag wees.
Die kommentaar beweer:
Voorbeeld: “Gehad het” word werklik
vervang met ” had”
’n Soektog deur die hele teks van die 2020-vertaling lewer geen enkele voorbeeld van “had” as ’n alleenstaande woord op nie, dit is jammer dat geen teksvers genoem is nie.
Verder wys ek net weer daarop dat in al die Redaksionele Komitees daar benewens twee of dikwels drie erkende Afrikaanse letterkundiges, daar altyd ook ’n erkende Afrikaanse taalkundige aanwesig was om ’n oog te hou oor die Afrikaans van die vertaling. Trouens, die taalkundige was meestal prof Ernst Kotzé wat baie jare lank lid, en vir 10 jaar voorsitter van die SA Akademie se taalkommissie was.
Wanneer daar enigsins in die Redaksionele Komitee sprake was van argaïese of verouderde woorde, is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en ander bronne geraadpleeg, asook die korpus van miljoene woorde van wat in Afrikaans gepubliseer is, waartoe die taalkundiges wel toegang het.
Verder is daar oor die gebruik van “leenwoorde” of “vreemde terme” daar heelwat navorsing gedoen en ook ‘n meningsopname gedoen onder die lesers van Die Saaier wat oorwegend positief was.
Vir die gebruik van leenwoorde, is dit belangrik om die vertaalopdrag in gedagte te hou:
“Skep ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.”
Hierdie opdrag is verder omskryf as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees.
Die 2020-vertaling poog, as ’n direkte vertaling, om die leser eintlik in goeie, maar nie noodwendig algemeen gebruiklike of “moderne” Afrikaans nie, te verplaas in die leefwêreld van die Bybel. Om ’n soortgelyke rede gebruik ook ander vertalings sedert die einde van die twintigste eeu steeds meer sulke ‘vreemde’ terme of leenwoorde wat nie aan die hedendaagse woordeskat ontleen is nie, veral vir titels, mate, gewigte, sekere gebruiksvoorwerpe, ensovoorts. Dit sluit juis aan by ons vertaalopdrag om nie slegs die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks nie, maar ook die destydse (militêre) range, geldeenhede, mate en gewigte, so ver moontlik in die vertaling te behou.
’n Riglyn wat die Redaksionele Komitees aansienlik gehelp het, is om wel woorde te gebruik wat reeds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) opgeneem is. Dit is interessant dat in die voorbeeld uit Mat 27:27 hierbo die woorde ‘prokurator’ en ‘kohort’ reeds in die WAT voorkom. Hoewel ‘pretorium’ nie in die WAT opgeneem is nie, kom
pre´tor (-s)
Romeinse stadhouer, hoogste landdros
pre•to•ri•aan´ (pretoriane)
Lid van die Romeinse keiser se lyfwag. pretoriaans´
in Odendal, F. F. (Die Elektroniese Weergawe van Die Verklarende Handwoordeboek van Die Afrikaanse Taal. Midrand: Perskor Uitgewery, 1994) en in die WAT voor. “Vreemde” terme wat reeds in Afrikaanse woordeboeke opgeneem is, word nie kursief gedruk nie, maar terme aan die brontale ontleen (soos in Ps 88:1) word wel kursief gedruk.
Leenwoorde is dus veral gebruik vir ampsdraers en militêre terme, inhouds- en lengtemate, Hebreeuse en Babiloniese name van maande, Hebreeuse en Griekse geld en veral ook vir sosiokulturele inligting oor die wêreld van die Bybel.