Die vyf solas wat die kerk hervorm het
Verstaan jy wat dit beteken om protestant te wees? Lees hier meer oor die beginsels van die Reformasie wat daartoe gelei het.
deur ds. Jan-Louis Lee
Daar is ’n spreuk wat sê: As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, weet jy nie waarheen jy op pad is nie. Daarom is geskiedenis dikwels so belangrik – veral kerkgeskiedenis. Ons sien daarin hoe God getrou bly aan sy belofte om die kerk te vergader, beskerm en te onderhou (HK Sondag 21). Oktober is tradisioneel bekend as Hervormingsmaand, waarin ons die wonderlike geleentheid het om die erfenis wat vir ons nagelaat is as gereformeerdes (of protestante!) te oordink.
Wat beteken dit as ons sê ons is ‘gereformeerd’ of ‘protestant’?
Baie mense het ’n negatiewe koppeling gemaak met hierdie twee woorde, terwyl dit bloot ’n belangrike beweging, wat reeds ouer as 500 jaar is, verteenwoordig: ’n Herontdekking, of terugbeweeg na die Woord van God.
In die Middeleeue het die kerk grof van die Woord af wegbeweeg en allerhande menslike tradisies en beginsels in die kerk ingevoer. Dit het die lewe van gelowiges so oorheers en oorskadu dat die absolute donkerte van werkeheiliging gedreig het om die mense te verswelg. Werkeheiliging beteken dat jy allerhande dinge moet doen om gered te word.
Wat was die grootste dwalings van die Roomse Kerk?
Die kern van die dwalings was die minagting van die Bybel. Die priesters was die enigstes wat die Bybel gelees het, trouens, die grootse gedeelte van die bevolking was ongeletterd. Verder is die apokriewe boeke (menslike geskrifte) by die Bybel as gesagvol gevoeg. Die enigste vertaling van die Bybel was die Vulgata (Latynse vertaling) en die pous se gesag is gelykwaardig aan die Bybel geag.
Naderhand het die kerk se gesag allesomvattend geword, en die Bybel as nuttig – maar nie noodsaaklik nie beskou. Waar die Skrif ons leer dat die sakramente na Christus wys en seëls is van God se beloftes (HK Vraag en Antwoord 66), het die Roomse kerk geleer dat dit die sakrament self is wat red: Die doop self het die krag om jou salig te maak, die brood en wyn red jou lewe. Boonop is daar sewe sakramente; nie die Bybelse twee nie, wat jou letterlik van geboorte tot graf begelei en red.
Omdat die Bybel nie in die volksmond was nie; en die mens deur priesters en kerkvergaderings gelei is, wat dikwels maar duistere motiewe gehad het, was die mense onbewus van die wonderlikste nuus van die evangelie: Christus alleen red deur sy offerdood aan die kruis. Hulle het rondgetas in die donker, blindes gelei deur onwaardige rentmeesters met ’n onheilspellende en troostelose geloof: Jy moet self iets doen om verlos te word.

Die beginsels van die Reformasie
Dit is hier waar die vyf beginsels van die Reformasie vir ons geweldig belangrik word. Teenoor die dwalings en vergrype van Rome, het daar mettertyd ’n lig opgegaan soos wat God die kerk weer teruggebring het na die waarheid. God het op sy tyd verkondigers van die blye boodskap gestuur sodat die kerk weer sal onthou wat sy vergeet het – manne soos Luther, Melanchthon, Calvyn, Zwingli, Knox en heelwat ander. Mettertyd het die inhoud van die leerstellings wat hulle van Rome onderskei, bekend begin word as die sogenaamde Vyf Solas. Sola is die Latynse woord vir ‘Alleen’ of ‘Alleenlik’.
Die vyf solas
Dié vyf beginsels verteenwoordig die kern van die Hervorming, dit is krities belangrike begrippe in die Protestantse geloof.
- Sola Scriptura – Alleen deur die Skrif
- Sola Gratia – Alleen deur genade
- Sola Fidé – Alleen deur geloof
- Solus Christus – Alleen deur Christus
- Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer
Sola Scriptura
Die hele Skrif is deur God geasem (2 Timoteus 3:16-17). God is die eintlike Outeur van die Skrif, en het vanuit sy sorg vir ons en ons saligheid al die dinge wat vir ons noodsaaklik is vir ons verlossing, op Skrif neergesit (2 Petrus 1:21). Die Bybel is die enigste onfeilbare Skrif op aarde, dit is die enigste gesag vir ons lewens en daarom volg ons dit wat die Bybel ons leer. Geen mense, kerkvergaderings of tradisies mag ons anders leer as wat die Skrif so duidelik stel nie.
Sola Fidé
God wek geloof in ons harte deur die Woord. Dit is kennis van die onsienlike, bewyse van dit waarop ons hoop (Hebreërs 11:1). Deur hierdie geloof gryp ons vas aan Jesus Christus se geregtigheid, en besef dat die geregtigheid waarmee ons vrygespreek word – nie van binne ons af kom nie, maar van buite – deur die offerdood van Christus.
Solus Christus
Die Skrif leer ons dat daar Een Middelaar tussen God en mens is, wat in staat is om ons met God te versoen. Dit is Hy wat in alles aan die mens gelyk is, behalwe die sonde (Hebreërs 4:15). Christus het die wet in ons plek vervul, dit wat ons nie in staat was om te volbring nie – geheel en al, sonder dat ons ’n enkele sentimeter se werk voor God kon bring waarmee ons gered sou kon word. Alleen op grond van sy werk, kan sondaars tot God nader (Johannes 14:6).
Sola Gratia
Omdat dit Christus se werk is, en ons beste dade met sonde bevlek is (Jesaja 64:6) volg dit dat ons redding volkome genade van God se kant af is. Ons kan dit nie verdien nie. Paulus roep dit so duidelik uit in Efesiërs 2:8-9 wanneer hy skryf: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie…”
Soli Deo Gloria
Uiteindelik bring hierdie beginsels ons voor ’n belangrike slotsom: Dit is alles God se werk, waarop ons bloot ‘dankie’ kan sê. Ons kan nie roem op ons werk nie, ons kan alleen die eer vir God, wat in sy soewereine genade hierdie waarheid aan sondige mense bedien:
Christus het geleef, gely en gesterf en ook opgestaan sodat ons mag leef. Mag ons dit nooit vergeet nie!