Hoe weet ek of ’n kerk reg of verkeerd is?

Hoe weet jy of ’n kerk die waarheid van die Woord verkondig? Hier is twee maatstawwe waaraan jy ’n kerk kan meet.

deur ds. Lohan Linde

Ons is reg en julle is verkeerd. Dit was vir ’n lang tyd die manier waarop sommige mense geargumenteer het. As ek net hierdie sinnetjie kan sê, dan het ek al klaar my argument gewen, en dan hoef ons nie verder hieroor te praat nie.

Wat is egter die maatstaf waarmee ons kerke kan meet? Daar is soveel verskillende kerke, van charismaties tot NG Kerk, APK tot Hervormd, CRC, Rhema, Doxa Deo en die Rooms-Katolieke Kerk, so gaan die lysie aan en aan. Wat as een van my vriende vir my vra of ek ’n opinie het oor een van hierdie kerke? Wat is die belangrikste instrument tot my beskikking sodat ek kan weet of ’n kerk reg of verkeerd is? Reg of verkeerd is die woorde wat hier gebruik word, om nie die saak te moeilik te maak nie. Met reg of verkeerd word bedoel of ’n kerk/gemeente/groep besig is om die waarheid van die Woord te verkondig.


Maatstaf 1: Die Twaalf Artikels

Die eerste plek waar ons kan en moet begin, is by die Twaalf Artikels. Julle weet, daardie wat ons elke Sondag hoor voor ons die Wet voorlees? Ek glo in … God die Vader, die Skepper, God die Seun, my Verlosser, God die Heilige Gees en my Heiligmaking …

Die Apostoliese Geloofsbelydenis of die Twaalf Artikels van die Algemene Ongetwyfelde Christelike geloof is presies wat dit in die opskrif sê: die minimum vereistes vir ’n kerk om te mag sê hulle is ’n kerk. As jy ’n kerk teen hierdie 12 Artikels toets, en daar is al klaar iets hierin wat nie uitgeleef of geglo word nie, moet die gevaarligte groot flikker en moet jy eerder weghardloop. (Die Heidelbergse Kategismus van Sondag 7 tot 23 verduidelik mooi waarom die 12 Artikels so belangrik is, as jy ’n vraag daaroor kry!) Gemeet teen die 12 Artikels, word daar dadelik ’n klomp sogenaamde kerke of bewegings uitgeskakel, soos die Jehowagetuies (wat nie glo Jesus of die Heilige Gees is God nie) en ’n paar ander kerke ook.

Die Twaalf Artikels as maatstaf is ’n belangrike riglyn, want dit bepaal mooi of ek ten minste my voete in sekere kerke of gemeentes mag sit of nie. Daar is egter nou baie ruimte in die 12 Artikels self, om jou godsdiens anders uit te leef as myne. Die ruimte gaan oor die sakramente, groot doop of klein doop, wie mag almal Nagmaal gebruik, wat lees ons, wat sing ons, daar is duisende vrae en opinies en verskille wat nog steeds na vore kan kom. Ons moet met ander woorde die net so ’n bietjie nader trek, ons het ’n tweede maatstaf nodig: die Woord van God!


Maatstaf 2: Die verkondiging van die Woord

Die Nederlandse Geloofsbelydenis leer ons oor die kenmerke van ’n ware kerk, en die belangrikste hier is die suiwer verkondiging van die Woord. Suiwer verkondiging klink nou na ’n moeilike maatstaf, want jy kan by jouself dink dat jy nie ’n dominee is nie, so hoe moet jy weet wat die waarheid is?

Dit is darem makliker as dit ook. Dit kan eintlik eenvoudig wees: Word daar uit die Bybel gelees? Word daar oor en uit die Bybel gepreek? Is die Bybel die belangrikste vir daardie gemeente/kerk? As daar meer stories vertel word as wat daar na die Bybel geluister word, moet die gevaarligte weer rooi flikker! Stories kan dalk oulik klink, maar God gee sy Woord en sy Gees aan ons sodat ons juis die Woord as middelpunt van ons kerkwees het.

As ’n predikant/pastoor/prediker/ou op straat vir jou iets oor die Bybel wil sê, dan kan jy maklik gaan kyk of dit daar staan. As ’n kerk nie in sekere gedeeltes van die Bybel glo nie, gaan daardie kerk my moeilik kan oortuig dat hulle nog die naam “kerk” waardig is.


Hierdie is twee handige en uiters belangrike maatstawwe vir vandag. Die 12 artikels en die suiwere verkondiging van God se Woord. As ’n kerk hierdie nakom, moet ons mekaar die ruimte gun om te mag verskil oor sekere ander dinge. Dan kan ons met mekaar praat hieroor, eerder as om te wil baklei en stry. Gelowige navolgers van Jesus Christus wil eerder mekaar se hande sterk maak, as om heeltyd die hande weg te klap omdat die naels dalk te lank is, of die verkeerde kleur geverf is. Partykeer maak ons van die verskille tussen gemeentes ’n groter saak as wat dit nodig is. Kom ons maak mekaar se hande sterk en verkondig die Woord van God suiwer, dan maak dit die verskille eintlik klein en minder belangrik.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui