Moeders is kosbaar in die Here se oë

Lees hier waarvoor die Here die vrou gemaak het, en hoe jy jou tot die Bybel kan wend om te leer hoe om regtig ’n vrou van die Bybel te word.

deur ds Werner Brotherton


Iets wat uitstaan in die Bybel is dat daar baie oor vroue gepraat word. Dit is eintlik vreemd omdat vrouens nie veel beteken het in die destydse samelewing nie. Vir die Here is dit egter anders.

Lees: Psalm 113:9; Psalm 127:3; Eksodus 1:20-22 & Spreuke 31:10-31

Die Bybel praat net goed van vroue. Al ons teksgedeeltes hierbo wys dit ook. In ons teksgedeeltes word spesifiek van moeders gepraat wat deur die Here se seën kinders kry.


Vrouens en onvrugbaarheid

In die destydse samelewing was dit vreeslik om nie kinders te kon kry nie. Dit was gesien as ’n vloek van die Here om onvrugbaar te wees. Daarom het Sara se slavin haar juis hieroor gespot.

Daar is heelwat ander voorbeelde van vroue wat onvrugbaar was en nie kinders kon kry nie, maar deur die Here se genade wel kinders as ’n gawe van die Here kry (Psalm 127:3).



Kinders is ’n geskenk van God

Dink ons ooit daaraan dat kinders ’n gawe en geskenk uit die Here se hand is? Dit is ’n gawe omdat dit gekoppel is aan die Here se opdrag dat ons kinders moet kry. Dit is een van die doele van die huwelik: om kinders te kry.

Die hoofdoel vir die huwelik is om die probleem van alleenheid op te los. Daarvan lees ons reeds in Genesis. Die Here het gesê dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, toe gee Hy aan Adam die vrou. Die vrou as sy hulp en moeder van sy kinders.


Wat is die plek en rol van die vrou in die huis en die samelewing?

Ons leef in ’n tyd wat in praktyk baie ver verwyderd is van die Bybelse gedagte en plek van die vrou/moeder. 

Spreuke 31:10–31 gee ’n baie mooi beskrywing van die vrou se plek. Haar plek begin in die huis (as hulp vir die man). Daar sien ons dat haar eerste plek in die huis is. Dit beteken nie dat sy nie mag werk nie, maar dat ’n beroep nie die vrou se eerste plek is nie.

Dit is in die huis waar gemeenskappe gebou word. As jy die moeder uit die huis haal, val alles plat. ’n Ma is net anders geskep as ’n pa en elkeen het sy spesifieke rol in die Here se skeppingsorde. Dit is ook alleen wanneer daardie rol uitgeleef word wat die vrou en man vry is.

Daar word dikwels redes uitgedink en gegee vir waarom die vrou móét werk. Die hoofrede is gewoonlik omdat die lewe te duur is. Tog moet ons vra: te duur vir wat? Dit is so, die lewe is duur, maar soms moet ons opofferings maak. Soms moet ons gaan sit en mooi kyk na ons finansies en as goeie rentmeesters werk met dit wat die Here vir ons gee.


Die vrou in Spreuke

Hoe dit ook al sy, kyk hoe mooi praat Spreuke van die vrou wat die Here vrees en haar roeping voor die Here uitleef! Haar man het aansien in die samelewing. Haar huis is goed georden. En, haar kinders prys haar en noem haar gelukkig!

Sy is vol wysheid, en sy gee haar kinders in liefde leiding (Spreuke 31:26). Sy is geen luiaard nie. Dié vrou is opmerksaam oor alles wat in die huis moet gebeur. Dit is waarom sy gelukkig geprys word deur haar man en seuns. Die moeder wat die Here vrees oortref alle ander vroue.


Jy as jong vrou wat nog ongetroud is kan in die Skrif delf, en jou begin voorberei vir die huwelik wat die voorlê. Bid en vra dat die Here van jou ’n vrou soos dié van Spreuke 31 sal maak. Bid vir kinders as ’n gawe van die Here en weet dat om ’n moeder te wees ’n groot eer is. Dit is ’n roeping waartoe die Here jou roep. Neem daardie roeping met vreugde op soos Psalm 113:9 leer.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui