Noag as die gehoorsame pa!

Wanneer Noag die ark bou, leer ons – én sy seuns – wat dit werklik beteken om te glo wat ons nie kan sien nie. Lees hier.
deur ds Lohan Linde
Noag is ’n interessante voorbeeld in die geskiedenis, veral as mens gaan kyk na sy vaderskap. Hy ontvang ’n opdrag van die Here af, en hy en sy seuns moet dit uitvoer. Dit was die seuns se hele lewe. Vir die eerste amper 100 jaar van die seuns se lewe, was die ark hulle hele lewe. Ja, dit was so lank!
’n Mens wil dink hoe hierdie seuns met die hamer en saag in hulle hande grootgeword het, hoe hierdie roetine geword het, kom ons bou, kom ons bou. Tog moes hulle iets in hulle pa gesien het, iets wat gemaak het dat hulle bereid was om hierdie projek aan te pak. Die Here het selfs vir hulle vroue gestuur wat bereid was om saam te werk aan die projek.
Noag leer ons van ware geloof
Hebreërs 11 leer ons:
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Hebreërs 1:1
En later in Hebreërs lees ons van Noag as een van die sogenaamde geloofshelde:
Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.”
Hebreërs 11:7
Hoe erg moes hierdie opdragte nie vir Noag gewees het nie?
Om sy geloof te bewys moet hy ’n ark bou, moet hy bewys dat hy is soos hy beskryf word: Noag – ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.
Ons kry nie ’n presiese aanduiding van hoe lank dit geneem het om die ark te bou nie. Maar, ons kan aanvaar dat dit tussen 40 tot 90 jaar gevat het om die ark te maak, en dat 90 jaar nader aan die realistiese tyd was.
40 tot 90 jaar, ’n leeftyd in vandag se aantal jare wat mens leef. Jare spandeer hy daaraan om ’n ark te bou.
Om eers die hout af te kap, dit in balke te saag, dit te vervoer na waar hy die ark wil bou, dit te laat uitdroog, sonder enige masjiene, sonder groot vragmotors en kettingsae, is Noag besig om jaar na jaar die Ark te bou.
Genoeg tyd om deur die mense as mal, dwaas en simpel beskou te word, en uitgekryt en verstoot te word!
Hoeveel keer twyfel Noag oor waarmee hy besig is? Hoeveel keer sien sy seuns hom gefrustreerd, moeg uitgeput? En tog staan hy elke volgende dag op, en gaan aan. Hy volhard hy in sy opdrag.
Wie van ons sal doen wat Noag gedoen het?
Om so sonder enige bewyse gehoor te gee aan ’n opdrag van God af … Maar is dit nie juis wat geloof is, en wat van ons verwag word nie?
Noag is deur God begenadig, uitverkies, afgesonder, vir ’n baie spesiale doel. Dit is alles uit genade, en God het in sy Genade vir Noag die pad vorentoe gewys.
Dit druis in teen alles wat die mens van nature is. Om jouself ’n bespotting te maak, om alles op te gee, om jouself te offer, net om gehoorsaam te wees aan God, dit voel amper onwerklik. Tog was dit Noag se opdrag, en tog skreeu dit deur die eeue heen ook na ons toe.
Terwyl Noag besig is om te bou, en soos hy vorder, besef die mense van Noag se tyd nie dat die einde besig is om nader te kom nie. Nee, hulle gaan soos normaal voort met hulle lewens.
Deur hierdie bespotting deur, deur die harde werk deur, volg sy seuns hom, en word hy nie net ’n geloofsheld nie, maar is hy ’n voorbeeld en ’n held vir sy seuns.
Hy was seker van die dinge wat nie gesien kon word nie!
