Beveg die duiwel met die waarheid

deur Peet van der Westhuizen
In Efesiers 6:10-20 lees ons van die wapenrusting van God. Hier roep Paulus ons op om die wapenrusting van God aan te trek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Die duiwel probeer ons van God wegtrek. Ons moet die wapenrusting van God aantrek sodat ons die duiwel kan teenstaan.
Petrus skryf:
Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
1 Petrus 5:8-9
Die duiwel is die gelowiges se teëstander en hy soek daarna om die gelowiges te verlei sodat hulle die Here sal verloën en die ewige dood sal sterf. Daarom sê Paulus moet die gelowiges die wapenrusting van God aantrek. Dan sal hulle toegerus wees om staande te bly teen die duiwel en sy planne.
Die gordel as deel van die wapenrusting
Paulus beskryf ’n soldaat se wapenrusting in die tyd wat die Nuwe Testament geskryf is. Die gordel van ’n soldaat het die loshangende klere van die soldaat vasgehou en ook die swaard. Die klere van die mense van daardie tyd was ’n loshangende kledingstuk (nie soos ’n broek nie). Daarom, wanneer daar gereed gemaak is om te veg en te hardloop, is die belt of die gordel gebruik om dit vas te maak.
Die gordel is dus ’n integrale deel van die wapenrusting en noodsaaklik om gereed te maak vir aksie. Ons sien dit veral wanneer Petrus skryf dat die gelowiges die lendene van hulle verstand moet omgord (1 Petrus 1:13). Hulle moet hulself gereed maak vir aksie. Hulle moet die belt gebruik om die los klere vas te bind sodat hulle kan hardloop en veg, sodat hulle gereed is vir aksie.
Die gordel van die wapenrusting as die waarheid
In die wapenrusting van God is die gordel, of die belt, die waarheid. Die waarheid van God se Woord en ’n lewe in gehoorsaamheid daaraan. Die waarheid behels ook die verlossing van die gelowiges deur Jesus se kruisdood. En die waarheid maak die gelowiges gereed om die duiwel in al sy listigheid van onwaarhede en halwe waarhede te kan teenstaan. Want die duiwel is die vader van die leuen (Johannes 8:44).
Die wapenrusting bestaan uit dele wat hoofsaaklik bedoel is vir verdediging, soos die gordel, die borswapen (harnas), die skoene, die skild en die helm, met die swaard as die enigste aanvalstuig. Dit is daarom ook in die eerste plek bedoel om die gelowiges te beskerm teen die aanvalle van die duiwel.
Die waarheid van God teenoor die leuen van die duiwel
Ons het reeds gesien dat die duiwel die vader van die leuen is en daarom staan die waarheid in direkte teenstand teen sy listigheid. Die waarheid beskerm ons teen die leuens wat die duiwel wil gebruik om ons van God af weg te trek.
Maar vir die waarheid om ons te kan beskerm, moet ons dit ken. Ons kan nie teenstand teen die duiwel en sy leuens bied as ons nie die waarheid ken nie. Ons moet die Woord van die Here bestudeer en oordink en deel van ons lewens maak. Dan sal ons die waarheid tot ons beskikking hê, sodat ons gereed sal wees om onsself teen die leuens van die duiwel te verdedig.
Ons sien ’n goeie voorbeeld hiervan wanneer die duiwel die Here Jesus in die woestyn versoek. Ons lees in Matteus 4:3-10 van die duiwel wat die Here versoek en dan telkemale die Bybel aanhaal. Die Here Jesus antwoord dan deur te wys dat dit nie noodwendig die betekenis van die teks was nie en wat die waarheid is waarvolgens geleef moet word, vanuit die Skrif.
Ken die waarheid om dit te kan gebruik
Ons as gelowiges moet gereed maak om teen die duiwel en sy planne te veg. Die eerste ding wat ons nodig het in hierdie stryd is die waarheid. En die manier hoe ons die waarheid as gordel kan dra is as ons die waarheid ken. Daarom moet ons die Bybel lees en bestudeer en deel van ons lewens maak. Ons moet dit elke dag oordink en ons lewens daarvolgens inrig. Dan sal ons gereed wees om met die waarheid as gordel as deel van die wapenrusting van God, weerstand te bied teen die aanvalle van die duiwel.