Johannes gee ’n sprong van vreugde!

Ons hoe lees hoe Johannes die Doper met uitbundige vreugde in Elisabet se moederskoot spring wanneer ’n swanger Maria hulle besoek. Leer hier meer.
deur ds Philip Wepener
In die Bybelse tyd kon gelowige ouers nie sien hoe hulle baba in die moederskoot groei en ontwikkel nie. Maar een ding het hulle geglo: God is die Een wat lewe vorm (Psalm 139:13-16; Jeremia 1:5). Vandag is ons bevoorreg met tegnologie om op ’n skerm te sien hoe die groei en ontwikkeling van ’n baba plaasvind, en nog steeds te bely dat God die Skepper is.
Dit is welbekend vandag dat ’n baba in die moederskoot stemme en klanke van buite af kan hoor. ’n Baba reageer reeds op die klanke wat hulle hoor. Ons sien dieselfde by Johannes die Doper (Lukas 1:39-45). Terwyl hy in Elisabet se skoot is, spring hy op van vreugde wanneer Maria, wat swanger is met Jesus, Elisabet groet. Johannes het Jesus herken!
Twee wonderwerke, twee swangerskappe
Kort nadat Elisabet swanger met Johannes geword het, het sy vir vyf maande lank haarself afgesonder (Lukas 1:24). Sy het dit egter nie gedoen om haar swangerskap weg te steek nie, maar om tyd saam met God deur te bring.
Elisabet se swangerskap was ’n groot wonderwerk wat sy en haar man Sagaria lank voor gebid het. Sy was onvrugbaar en verby die ouderdom om kinders te kry, maar God het dit alles van haar af weggeneem (Lukas 1:25). Daarom het sy die eerste vyf maande in haar huis gebly om God se seën te oordink en haarself voor te berei.
Toe Elisabet ses maande swanger was, het die engel Gabriël aan Maria verskyn (Lukas 1:26). Nadat Gabriël vir Maria vertel het dat sy as ’n jong maagd geboorte sal gee aan Jesus, het sy haastig vertrek om haar familielid, Elisabet, te gaan besoek (Lukas 1:39).
Daar word nie gesê presies hoekom Maria so haastig was nie. Dit kan wees omdat sy opgewonde was om haar wonderbaarlike swangerskap met Elisabet te deel, en ook omdat sy self by die engel Gabriël gehoor het dat Elisabet verwag (Lukas 1:36-37).
Elisabet, ’n mondstuk vir haar ongebore baba
Die oomblik toe Maria in die huis van Elisabet gaan en haar groet, gebeur daar iets onverwags. Johannes, in Elisabet se moederskoot, spring op van vreugde. Hoe merkwaardig is dit!
Ons lees dat Elisabet met die Heilige Gees vervul is, en sy het hard uitgeroep:
Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!
Lukas 1:42-45
Voordat Maria haar swangerskap kon deel, verkondig Elisabet dat Maria die verwagtende moeder van Jesus is. Elisabet noem reeds in hierdie gedeelte Jesus haar Here. Hy is nog nie eers gebore nie; sy bediening het nog nie begin nie; en tog noem sy Hom Here!
Jesus se teenwoordigheid moet ons met vreugde vul
Jesus se teenwoordigheid behoort daarom ook ons harte van vreugde te laat spring! Die Woord getuig dat daar oorvloedige vreugde in die Here se teenwoordigheid is (Psalm 16:11). Soos ons bymekaarkom om die Here te aanbid, hetsy by die huis of saam in die erediens op Sondag, behoort dit ’n tyd van groot vreugde te wees. Daar is niks wat ons meer met vreugde vul as Jesus se teenwoordigheid nie.
Dit is egter nie altyd vir almal so nie. Daar is mense wat nie met vreugde gevul is nie en nog steeds na vervulling in ander dinge as die Here Jesus soek. Meestal in dinge waar die duiwel agter dit skuil. Dit is verstaanbaar dat ons by tye hartseer, pyn, siekte of swaarkry beleef. Ons Here Jesus weet dit. Hy verstaan dit. Daarom ontmoet Hy ons in die alledaagse omstandighede van ons lewens, selfs wanneer ons by tye nie vreugde het nie.
Oorvloedige vreugde is in die Here se teenwoordigheid te vind! Hierdie vreugde is gebaseer in geloof in God. Dit is nie ’n vreugde wat kom en gaan nie, maar wat vir ewig is.
Beleef en bemin die Here se teenwoordigheid!
Johannes se sprong in die moederskoot toon vir ons dat ons Here Jesus se teenwoordigheid ons met vreugde vul. Mag ons die Here se teenwoordigheid beleef deur sy Woord en sang wat die Heilige Gees in ons gedagtes bring. Mag sy teenwoordigheid ons aanspoor om altyd ’n liefde vir sy Woord te hê en in gebed tot Hom te nader.
