Hoe luister ek na die preek?

Dwaal jou gedagtes wanneer jy na die prediking luister? Volg hierdie riglyne en neem deel aan die erediens deur te lees, hoor en bewaar soos Openbaring leer.

deur ds. Marnix Boersema

Hoe neem ek deel aan die Woordverkondiging? Hoe luister ek na die preek op so ’n manier dat ek in my verhouding met die Here groei, en dat ek God verheerlik soos dit Hom toekom?
Openbaring 1:3 help ons om hierdie vraag te beantwoord. Daar staan: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” Díé woorde is natuurlik direk met betrekking tot die boek Openbaring, maar dit gee daadwerklik vir die hoorders ook die wyse waarop hulle deelkry aan die profesie. Dit gee die metode om die profesie te ontvang: lees, hoor en bewaar. Hierdie is beginsels wat ons ook moet toepas om deel te neem aan die prediking.


Luister só na die preek:

1. Lees

Om na ’n preek te luister, begin deur eers saam uit die Bybel te lees. Vandag kan ons dit doen, want die Here het dit genadiglik so beskik dat ons ’n Bybel kan hê. Dit was nie die geval vir die mense van Openbaring nie. Baie mense het vandag in ander lande ook nie Bybels nie. Die woord wat in Openbaring 1:3 gebruik word beteken eintlik letterlik “hardop lees”. Die mense van Openbaring (en die mense vandag wat nie Bybels het nie) is afhanklik van iemand anders wat die Woord vir hulle lees. Dit punt is, dat die profesie wel gelees moet word.

Kom ons maak die beginsel hier ook op ons van toepassing. Die Woord moet in die gemeente “hardop gelees” word en as ’n praktiese riglyn om deel te neem aan die prediking, lees ek saam! Dit is vir my as lidmaat belangrik om te die konneksie tussen die teksgedeelte en die preek waar te neem. Ek moet besef dat die prediking ’n verklaring en uitleg is van dit wat sopas in die Woord gelees is. Ek lees, sodat ek kan hoor “wat die Gees aan die gemeente sê” (Openbaring 1:7).

Soms raak ons weg in ons gedagtes of vooropgestelde idees. Om saam te lees wat die prediker lees, hou ons ge-anker in dit wat werklik saakmaak en gesag dra. Ongeag wat ek dink van die predikant se stemtoon, geaardheid of maniertjies (wat my dalk bietjie irriteer), gaan dit hoofsaaklik oor dit wat ons nou saam uit die Here se Woord lees! 


2. Hoor

Om te hoor wat in die Woord staan en wat gepreek word is vanselfsprekend. Tog moet ons dit by name noem: ek moet daadwerklik luister na die preek. Dit vra aandag en inspanning. Dit vra deelname. Ek moet my gedagtes doelbewus gevange hou, sodat ek kan luister en inneem wat gesê word. In die geval van die gemeentes in Openbaring, kon meeste mense nie lees of skryf nie. Jy het dus grootliks staatgemaak op wat jy hoor, ook wat jy in die kerk by die voorganger hoor.

Met “hoor” word meer bedoel as net die inspan van jou ore. Jy moet ontvanklik wees. Om te hoor wat gepreek word, veronderstel ’n positiewe gesindheid. Bereidwilligheid om te ontvang wat die Here vir my gaan sê. Die vraag is nie óf die Here vandag deur sy Woord met my gaan praat nie, maar dát Hy altyd deur sy Woord met my praat. 

Wat is jou gesindheid wanneer jy deelneem aan die erediens en luister na die preek? Wil jy hoor en is jy ontvanklik vir die Here se Boodskap?


3. Bewaar

Ek moet lees uit die Bybel, ek moet luister na die preek, en dan moet ek leerwat die Heilige Gees aan my en die res van die gemeente sê. Dink jou in hoe dit moes wees vir die gemeentes in Openbaring wat self nie die Bybel kon lees nie. Hulle moes fyn luister en maar net probeer onthou. Hulle het staat gemaak op hul vermoë om inligting te memoriseer. 

Vandag is ons glad nie meer so afhanklik van ons onthou-vermoë nie. ’n Herinnering op jou selfoon help jou mos vinnig om iets te onthou. Tog, om te groei in my verhouding met die Here en my begrip van Wie Hy is, moet ek sy Woord bewaar. Ek moet sy Woord binne-in my hart en gedagtes bêre.

Ek kan die Here se Woord bewaar deur te internaliseer wat ek Sondag tydens die prediking hoor. Dit is die beginsel hier: moet nie net lees en luister nie, maak die Here se Woord wat na jou toe kom deur die prediking jou eie, sodat jy dit ook sal deelmaak van wie jy is en wat jy doen. Dit is belangrik om te besef dat ek eers werklik geluister het na die preek, as ek dit wat verkondig is gaan uitleef.


Maniere om die Here se Woord te bewaar

’n Baie praktiese idee is om notas te neem terwyl jy na die preek luister. ’n Paar standaard vrae om in jou notaboek te antwoord kan jou dalk help om die preek te bewaar:

  • Wat het die Here oor Homself vir jou geleer? 
  • Wat het jy van jouself geleer?
  • Wat is daar in die teksgedeelte of in die prediking wat ek moet gaan toepas?
  • Is daar iets in die teks of in die preek wat ek van die Here moet vra en oor moet bid?

Dit help ook dikwels om na afloop van die diens met ander mense oor die erediens, en spesifiek die preek, te gesels. Dikwels kom ons eers tot nuwe insigte as ons iets aan iemand probeer verduidelik, of as ons dit eenvoudig oorvertel. Wanneer ek so die preek oorvertel, is ek nie net besig om die Here se Woord te bewaar (ek neem steeds deel aan die preek, al is die preek verby!) nie, ek is boonop ook besig om die evangelie uit te dra!


Neem deel aan die erediens
’n Erediens bestaan nie net uit ’n preek nie, daar is verskillende elemente. Die hele erediens verg my volle aandag: tydens die groet- en wegstuurseën verhef ek my hart en ontvang ek die Here se seën. Wanneer ons in die erediens sing, dan is dit ook iets waaraan ek aktief met hoof en hart deelneem. Sang tydens die erediens is immers onder andere ’n geleentheid om die “Woord van Christus ryklik in my te laat woon” en geleentheid om “mekaar te leer en te vermaan” (Kolossense 3:16). Die gebede waarin die liturg voorgaan, is dan vanselfsprekend ook mý gebed wat ek saam met die res van die gemeente bid. Lees hier meer oor die elemente van die erediens.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui