Hoekom word God se kerk skape genoem?
Een van Jesus se“Ek is”-uitsprake in Johannes is dat Jesus die goeie Herder is. Lees hier hoekom Hy so genoem word, en ons as sy skape bekend staan.
deur ds Hannes Lee
Op jeugkampe wat ons kerke vir hoërskoolleerlinge en studente aanbied, is ’n gewilde kenmekaarspeletjie om vir mekaar te vra: Met watter dier sou jy jouself vergelyk? Ons kan ’n paar dinge rondom die karaktereienskappe van mense leer as jy hoor watter dier hulle reken hulle sou wees.
As jy jouself met ’n leeu vergelyk, glo jy jy is sterk en dapper. As jy sou sê jy is ’n bees, sou jy die gedagte probeer oordra dat jy baie krag het. Antwoord jy met uil, sou jy nogal ’n goeie indruk van jou eie wysheid hê.
Om mense met diere te vergelyk, kom ook in die Bybel voor. Jesus Christus word byvoorbeeld die Leeu van Juda genoem, en die Fariseërs adders.
Die kerk van die Here word ook met ’n dier vergelyk. Ons word nou nie eintlik indrukwekkende diere wat gesag afdwing of vrees inboesem genoem nie. Nie leeus of jagluiperds of buffels of so iets nie. Nee, ons word skape genoem!
Wat is die eienskappe van skape?
1. Hulle is dom en dwaas.
2. Hulle is volgers.
Hulle volg enigiets en enigiemand, selfs al word hulle by ’n krans afgelei.
- Skaapboere sal kan vertel van geleenthede waar skape by hoogtes afgehardloop het en hulself doodgeval het omdat hulle agter ’n ander skaap aangegaan het.
- Ons volg ook soms blindelings mense wat ons by wyse van spreke by ’n afgrond aflei.
- Mense wat ons in sonde wil verlei. Voorbeelde hiervan is skoolvriende wat ons oortuig om verkeerde dinge te doen, asook vriende en vennote wat ons moontlik tot oneerlikheid en misdaad wil lei.
- Mense in kerke val ook soms vir valse profete, wat die Woord van God vir eie gewin verdraai. Hierdie valse profete is werklik wolwe in skaapsklere.
- Ongelukkg is dit ook so dat ons as skape onsself en ons eie sondige natuur navolg. Hierdie sondige natuur lei ons ook maklik na ’n afgrond waar ons oor ’n afgrond van ’n sondige bestaan kan val.
3. Skape is weerloos.
- Wanneer groot en wilde diere skape aanval, is hulle baie kwesbaar en uitgelewer. Leeus, jakkalse en rooikatte maai onder skaaptroppe, en hulle kan eintlik niks doen daaraan nie.
- Net so is ons uitgelewer aan ons doodsvyande: Die satan, die wêreld en ons eie sondige natuur. Hierdie dinge val ons genadeloos aan, en uit onsself is ons nie in staat om weerstand te bied nie.
4. Skape is absoluut afhanklik.
- Skape is afhanklik vir beskerming; iemand wat oor hulle wag hou. Ons het ook iemand nodig wat ons bewaar, wat ons lewens beskerm.
- Skape is afhanklik vir versorging. Iemand moet vir hulle gee wat hulle nodig het, hy moet seker maak dat hulle kan oorleef waar hulle is. Ons het insgelyks iemand nodig wat vir ons die lewensmiddele gee.
- Skape is afhanklik vir leiding. Iemand moet hulle lei hulle na plekke waar hulle sal kan oorleef. Ons het ook nodig dat iemand ons in ons lewens lei, iemand wat ons gids kan wees na wat die doel van ons lewens werklik is.
5. Skape is rigtingloos.
- Self al is skape in ’n perfekte omgewing: volop weiding, volop water, volop beskutting, geen roofdiere, bestaan die gevaar dat hulle sal afdwaal en wegraak.
- Ons dwaal ook weg van dit wat belangrik is, van die plekke waar ons moet wees, indien ons op ons eie gelaat sou word. Ons het dan ook ’n Herder nodig wat na ons gaan soek.
- Dit is dan wat ons getroos word in Johannes 10:11. Ons het daardie Herder, ’n Beskermer, ’n Leier, ’n Bewaarder, ’n Versorger. Jesus Christus self, is al hierdie dinge.
Wat maak ons Here Jesus ’n goeie Herder?
1. Jesus lê sy lewe vir sy skape af
Jesus het sy lewe gegee om ons as skape veilig te hou. Hierdie gedrag is ongewoon. Geen gewone skaapwagter sal so ver gaan nie. Skape is nie ’n mens se lewe werd nie. Maar dit is nie wat ons Here Jesus Christus doen nie – Hy hardloop nie weg nie. Hy lê doelbewus sy lewe af ter wille van sy skape. Die prysgee van sy lewe gee aan sy skape, ons, ewige beveiliging en beskerming.
Hoe? Deur sy dood aan die kruis het hy die dinge wat ons as kerk van die Here bedreig, vernietig. Hy het die heerskappy van die sonde beëindig, die satan se mag gebreek. Hy het die vernietigende invloed van die satan in die lewens van die kinders van God beëindig deur Homself bereid te verklaar om die skuld daarvan op Hom te neem. Jesus betaal die prys vir ons navolg van die sonde en die satan in ons lewe.
2. Jesus is ’n getroue Herder
Jesus Christus is getrou. Eintlik, meer as getrou. Meer getrou as ’n huurling, meer getrou as selfs die mees getroue skaapwagter. So getrou is Hy, dat Hy selfs bereid was om soos ons te word. Ons weet dat Hy tydens sy geboorte op aarde die menslike natuur saam met sy bestaande Goddelike natuur aangeneem het. Openbaring beskryf iets daarvan wanneer daarin na Jesus Christus as die Lam van God, die sondelose Lam, verwys word.
Jesus het die natuur van sy skape aangeneem, self ’n lam geword, en al die bedreiginge van sy skape op Hom geneem. Al die bedreiginge het Hy vir alle ewigheid weggekeer, en die ganse kudde van ware gelowiges het niks meer om te vrees nie. Geen bedreiging of gevaar sal ooit die ewige genade van God by sy kinders kan wegsteel nie.
3. Jesus as Herder ken sy skape
Nog ’n rede hoekom Hy die goeie Herder is: Hy ken sy skape. Hy het nie maar in die algemeen vir ’n gesiglose massa aan die kruis gesterf nie. Elkeen van sy skape, elkeen van ons wat aan Hom behoort ken Hy by die naam. Aan die kruis het Hy al die naam geken van elke individu vir wie Hy sterf.
So besorg is Hy oor elkeen van sy skape, so groot is sy liefde vir elkeen van ons. Hoe gereeld dink ons daaraan? Onthou: My naam was voorop in die gedagtes van ons Here Jesus Christus toe Hy aan die kruis gehang het. Dit is ’n geweldige groot troos, en net hierdie wete behoort ons elke dag te lei.
“Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei,” lees ons in vers 16.
Hierdie vers verwys na die kerk regoor die wêreld – almal wat deel het aan Jesus Christus regoor die wêreld en deur alle eeue verseker is van sy redding en leiding.
Wat moet ons as skape van die Herder doen?
Maar net soos die Here Jesus ons Goeie Herder is, eis Hy dat ons Hom, die Goeie Herder, sal ken, na Sy stem sal luister, en Hom volg.
Ons moet ons Herder ken
- Ons moet persoonlik met Hom in gemeenskap tree: Daagliks met die Woord van God besig wees, die Woord moet in ons hart leef, ons moet gedurig in gebed met God verenig wees.
- Elke moontlike geleentheid waar ons deur die Woord ons Herder leer ken moet ons opsoek.
- Ons moet die erediens baie ernstig beskou. Dit is die gereelde weeklikse aanhoor van ons Herder se stem.
Ons moet een kudde onder ons Herder wees
- Ons moet een kudde onder ons Herder wees. God se kerk, sy skaaptrop moet waarlik in vrede verenig wees.
Ons moet na ons Herder se stem luister
- Wees gehoorsaam aan dit wat die Here verkondig. Dit sluit in om die voorskrifte wat ons in die Woord lees na te kom.
- Ons moet die voorbeeld van Jesus Christus (Hy wat vir ons kom wys het hoe lyk die lewe van hulle wat God se skape is) navolg.
- Ons moet alleen agter ons Herder se stem aangaan. En, ons moet glo wat sy stem aan ons verkondig.
Wat verkondig die stem van die Herder aan ons? Dat ons Herder Jesus Christus Homself aan die kruis prysgegee het sodat ons van die doodsgevaar van die ewige verdoemenis gered is.
Die skape is veilig by hul Herder
Maar nou is dit so, ons word hier op aarde nog steeds deur die dood bedreig, soos Romeine 8:36 dit stel, juis omdat ons navolgers van Jesus Christus is. Soveel so dat ons soos slagskape behandel word, skape wat doodgemaak gaan word. Maar niks sal ons van die liefde van Christus skei nie.
Ons word elke dag deur Hom gelei en beskerm, daarom is ons nie meer kwesbaar vir die doodsgevaar wat ons bedreig nie. Niks sal keer dat ons deur die liefde van Christus beskerm word nie, geen persoon of omstandigheid nie. Hierdie dinge kan maar probeer; teen die krag van die Here het dit geen uitwerking nie. Dinge wat tydelik is, kan nie die ewige liefde van ons Herder wegneem nie.
Soos die Here Jesus, die oorwinnaar, ’n skaap ter wille van ons geword het, sal ons, wat maar blote skape is, ook ewig oorwinnaars wees. Ons sal dit ook nie eendag word nie, ons is dit reeds.