Hoe moet ek evangeliseer?

As Christene weet ons dat ons die evangelie moet uitdra, maar hoe? Kruispad kyk na beginsels vir evangelisasie én hoe om uit die Skrif te evangeliseer.

deur ds. Ruan Steyn

Ons kry die belangrike opdrag om evangelisasie te doen in die Bybel (Matteus 28:16-20). Alhoewel gelowiges die belangrikheid van evangelisasie verstaan, verskil hulle oor die metode. Daar is verskillende evangelisasie-metodes. Die konteks van die samelewing gaan moontlik bepaal watter metode die beste gaan werk. Een saak is egter belangrik: ons evangeliseer deur die Woord van God te verkondig. Romeine 10 bevestig die belangrikheid van die prediking van die Woord van God: “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” (Romeine 10:14-15).


Beginsels om te onthou vir evangelisasie

Evangelisasie is nie net die opdrag van predikante en ouderlinge nie, maar ’n opdrag wat die Here aan alle gelowiges gegee het. Om die goeie nuus van Jesus Christus te verkondig, is nie ’n moeilike opdrag en taak nie. Hier is ’n paar idees wat ons in gedagte kan hou:

  • Sien elke ontmoeting met ’n ongelowige as ’n geleentheid om die evangelisasie te verkondig. Daar is ’n rede waarom die Here mense op ons pad plaas. Gebruik daardie geleentheid om die evangelie te verkondig.
  • Bid dat die Here vir jou die nodige wysheid en krag sal gee. Nadat die Here vir sy dissipels die opdrag gegee het om uit te gaan en mense sy dissipels te maak, troos Hy hulle met die woorde: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleindig van die wêreld” (Matteus 28:20). Die Here los ons nie alleen nie. Deur die Heilige Gees ontvang ons krag en wysheid om sy getuies te wees (Handelinge 1:8).
  • Verkondig die Woord van God. Die Heilige Gees werk deur die verkondiging van die Woord. Daarom is dit belangrik dat ons die Woord verkondig.
  • Herhaal. Een geleentheid is nie genoeg om die evangelie te verkondig nie. Bou verhoudings met die persone. Reël om weekliks bymekaar te kom sodat jy die Woord aan hulle kan verkondig.

Hoe gebruik ek die Skrif om iemand te evangeliseer?

Die boodskap van Romeine 3:23-25 is ’n goeie templaat wat ons kan gebruik om die evangelie te verkondig.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.

1. Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.

Tydens evangelisasie is dit belangrik om aan die persoon te verduidelik waarom hulle ’n verlosser nodig het. Elke persoon het gesondig en staan onder die oordeel van God (Romeine 3:9; Prediker 7:20; Psalm 51:7). Daar is nie een persoon wat sondeloos is nie.

2. Hulle word, sonder verdienste, op grond van genade vrygespreek.

Die goeie nuus van die evangelie is dat daar verlossing vir ons beskikbaar is. Romeine 3 stel dit duidelik dat die verlossing op grond van die Here se genade aan ons geskenk word. Die verlosser wat ons nodig het, is Jesus Christus. Hy alleen kan ons van ons sonde red. Geen goeie werke wat ons verrig kan ons red nie. Efesiërs 2 stel dit ook duidelik: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sonde wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered.”

3. Jesus is deur God as offer gegee wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.

Ons lees in Hebreërs 9:22 oor die belangrikheid van die bloed van Christus: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.” Jesus Christus wat sondeloos was en die perfekte lewe van gehoorsaamheid gelei het, het die volle oordeel van God aan die kruis ervaar. Hy het nie net die straf van die sonde weggeneem nie, maar Hy moes die straf in ons plek gedra het.


Glo in Jesus Christus!

Die opdrag in Romeine 3 is belangrik: “… vir dié wat glo.” Dit is die troos wat die evangelie bied. Selfs die grootste sondaar kan verlos word. Wat moet hy/sy doen om verlossing te ontvang? Glo in Jesus Christus!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui