Jesus Christus is ons singende Saligmaker
Jesus se sang voor sy kruisiging laat sondaars weer deur God aanvaar word, en leer om vreugde in God te vind en Hom te loof.
deur ds Nikolaas Pienaar
Die Bybel is ’n boek van sang; daar is bykans 300 oproepe tot sang in die Skrif. God se volk word beveel om te sing, om God-gegewe gevoelens vir hul Verlosser uit te druk, en om te sing en musiek te maak omdat God ons ’n hart gegee het om te sing.
Ons sing omdat die liefde van God ons harte oorweldig. Jesus het ook gesing, maar ons lees net een maal daarvan; en ons lees dit treffend genoeg toe Hy besig was om die hoogtepunt van sy lyding te ondergaan:
Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
Matteus 26:30
Die inhoud van Jesus se sang
Die laaste daad van Christus by die Paasmaal in die bovertrek, voordat hulle na die Olyfberg uitgegaan het, was om die lofsang te sing. Die lofsang wat Christus op daardie laaste aand van sy lewe op aarde gesing het, was ongetwyfeld die sogenaamde Hallel-psalms, wat van Psalm 113 tot 118 strek. Hallel is die verkorting van Halleluja, wat “Prys die Here” beteken.
Dit was opsigself nie buitengewoon nie. Dwarsoor Jerusalem is daar tienduisende Jode wat daardie selfde Hallel daardie aand sou gesing het soos die Paaswet vereis, sommige net in ’n formele en ritualistiese manier. Maar, daar is Een wat dit met sy hele hart en sy hele siel en al sy krag en verstand sing.
Daar was iets unieks aan Jesus se sing van die Hallel, want in Jesus se geval is Hy die Digter. Hy sing sy eie komposisie! Die Hallel gaan nie net oor die historiese bevryding uit Egipte nie, maar is ’n vooruitskouing van wat God sou doen om sy volk van hul sonde te verlos. Dit gaan juis oor wat Christus sou doen en wat Hy sou ondergaan. Kan jy jou dit voorstel? Jesus sing sy eie Woord. Jesus wie se Gees die Psalms geïnspireer het, sing die Psalms.
Psalm 118
In Psalm 118 sou Jesus sing “Sy goedheid volg Hom in sy gange, sy goedheid duur in ewigheid.” Net voordat Hy op pad was om sy lewe vir hierdie einste doel te gee. In dieselfde Psalm word die huis van Aäron, die priesterlike familie opgeroep om lof aan God te bring, aan die Messias wat moet kom. En hulle was besig om ’n komplot teen sy lewe te smee…
Psalm 116
Jesus sou ook uit Psalm 116 sing: “Om my was bande en strikke van die dood; en angste van die hel het my laat bewe.” Die presiese dinge waarvan Hy sing, is dit wat Hy gaan beleef. Soos Hy die middernag van sy lyding betree om vir die sondes van sy volk te betaal, onderwerp Hy hom aan God, en die angste van die hel het Hom laat bewe daar in Getsemane se tuin.
Watter lesse leer ons uit Jesus se sang?
1. Jesus is gefokus op God se wil
Die eerste ding wat ons leer is dat Jesus in sy siel met sy Vader se wil verenig is. Dink so daaroor: As jy geweet het dat jy 10uur vanaand uit jou huis weggeruk sou word om onskuldig verhoor en gespot en gemartel en gekruisig te word, om te sterf, sou jy besig gewees het om ’n lofsang te sing? As jy sopas jou laaste maaltyd geëet het, sou jy aan die sing gewees het? Maar sien, Jesus is so gefokus op sy Vader se wil, so gefokus om aan God gehoorsaam te wees, dat Hy selfs in hierdie uur die lofsang aanhef. Selfs al is Hy besig om die komende pyn en dood in die gesig te staar.
En wat ons daaruit leer is dit: As ons uit God se sangboek sing, woorde wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, sal ons krag ontvang om te kan sing, selfs onder die benardste omstandighede. En sy Gees sal ons deur die sing van sy Woord krag en moed gee om dit deur te maak.
Sang is God se groot genademiddel wat deur geestelike depressie breek en die siel toelaat om verhef te word te midde van seer. Dit laat ons toe om bo ons omstandighede uit te reis, omdat ons ons hart en gedagtes op die Een wat bo ons omstandighede is, ons God, fokus.
2. Ons is verlos omdat Jesus vervul het wat Hy gesing het
Jesus sing psalms uit vreug gebore saam met sy dissipels, selfs wanneer Hy onder die las van al die sondes van sy volk moet buig. Natdat hulle gesing het, is hulle Olyfberg toe en vervul Jesus wat hulle pas gesing het.
Die oomblik wat Hy die tuin betree word sy hart bedroef en beangs. Hy was doodsbenoud. Nou wat is dit wat vir Jesus so hartseer en beangs en depressief gemaak het? Wel dit was natuurlik nie net jou en my sondes wat op Hom gerus het nie, maar ook dat van daardie oomblik af, in die laaste ure van sy lewe, dat God die Vader besig was om sy eie Seun te verlaat.
God het Hom verlaat, daardie selfde Seun wat sopas gesing het: “God het ek lief”, en dit met sy hele wese bedoel het. Hier kom ons by die misterie van Jesus se lyding: Die een wat die Vader lief het, word deur die Vader verlaat, want die Seun moet die sonde en die vervloeking van sy kerk dra. Jesus moet die lydensbeker drink vir al die sondes en al die hel wat sy volk verdien.
Daarom, selfs soos Hy uitroep, bely Hy: Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil. En dít is die vervulling van die psalms wat Hy gesing het te midde van verskriklike woede, toorn en verdrukking. Sodat ons daarvan verlos kan word.
Wat is die vrug van Christus se sang?
Toe Jesus die Hallel in die bokamer gesing het, het Hy dit nie net saam sy dissipels gesing nie, Hy het dit ook vír hulle gesing. Die einste dissipels wat Hom sou verloën, vir sondaars, vir dwase, en skuldige sondaars.
Hulle was elkeen bang vir wat die mens aan hulle kon doen, almal buiten Jesus. Al elf van die lede van die koor in die bovertrek, want Judas het reeds gegaan, sou binnekort van Jesus af wegvlug. Maar Een sou nie vrees wat die mens aan Hom kon doen nie, en daardie Een is jou Verlosser. Hy het nie gevlug nie.
So sien ons dan dat selfs Jesus se sang deel was van sy verlossende werk: Hy sing van sy lyding, en dan gaan Hy uit om daardie lyding te ondergaan; Hy sing van sy opstanding en doen dit ook; en Hy sing van die verlossing van sy volk, en behaal dit volkome.
Dit is ons Verlosser, ons kosbare singende Saligmaker! Wat ons uit ons sondedood wakker sing om opgewek en met erns lof aan God te bring. Jesus se sang laat sondaars weer deur God aanvaar word, en leer om vreugde in God te vind en Hom met lofsange te loof.