Gebed is die emosionele asem van jou geloof

Gebed is baie belangrik in jou verhouding met God. Lees hier wat jy kan doen as jy sukkel om jou emosies in woorde om te sit om te bid.

deur ds. Lohan Linde

My ma was ’n Afrikaanse juffrou by my hoërskool gewees. As ’n gereformeerde dominee se dogter het sy in ’n gelowige huis grootgeword, en sy het nooit die kans laat verbygaan om vir die hoërskoolkinders te preek, as hulle dit nodig gehad het nie. Soos ons weet, het hoërskoolkinders, veral seuns, baie preke nodig. Eenkeer het ’n seun haar gevra: “Raak juffrou nie moeg vir al hierdie godsdiens goed nie?” Haar antwoord was eenvoudig: “Raak jy moeg vir asemhaal?”


Ons kan dikwels dinge in ons lewens so oor-analiseer, dat ons die eenvoud miskyk. Ek kan dink dat dit te moeilik is om te bid, dat ek nie die regte woorde het nie, dat ek nie weet hoe om te bid nie. Deur dit te doen, beroof jy jouself van jou geestelike asem; die lewegewende suurstof wat jou liggaam nodig het om aan te gaan, gesond te bly, te bly lewe. Dit is dieselfde met gebed.

Gebed is die belangrikste deel van ons verhouding met God
Die kategismus leer ons in Sondag 45: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die belangrikste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis: En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.


Wat doen ek as ek nie woorde het nie?

Wanneer ons kortasem raak, onseker is, of antwoorde soek, is dit dalk ’n goeie idee om terug te gaan na die Bybel toe. Julle weet, daardie Psalm wat ons al so outomaties in die verbygaan sing, weet julle hoeveel antwoorde daar is? Elke emosie wat jy het, word ook daar beskryf. Dink bietjie daaroor, hoe voel jy vandag? As jy vandag ’n psalm moes skryf, watse emosie sal jy wil oordra?

  • Sou dit ’n eenvoudige dankgebed, ’n dankpsalm gewees het?

Dankie Here, vir dit wat ek het, ek is tevrede daarmee, dankbaar daaroor, ek het genoeg.

  • Sou dit ’n hartseer, treurende psalm gewees het?

Waarom, Here, gaan dit so swaar met my? Waarom gaan dit so sleg? Is u dan ver van my gebed?

  • Sou dit ’n psalm gewees het met berou, met ’n skuldbelydenis?

Here, vergewe my, ek is ’n sondaar, ek het hierdie verskriklike ding gedoen!

  • Of sou dit ’n lofpsalm gewees het?

Dankie Here, dat dit goed gaan, dat ek U kind kan wees!


Praat met God oor wat in jou hart is

Ons is elkeen tog veronderstel om ’n lied in ons hart te hê. Daardie lied hoef nie noodwendig ‘n lofpsalm te wees nie, maar wanneer ons ’n lied in ons hart het, dan wil ons daardeur met God praat, dan bely ons daardeur hoe ons oor ’n saak voel. Dit is waarom God deur die Heilige Gees die mense van Israel geïnspireer het om die Psalms te skryf. Die psalms se doel is om die menslike emosie te wys. Om te wys hoe ons as mense reageer wanneer God in ons lewe inkom. Kyk Psalm 22 byvoorbeeld, waar Dawid in angs uitroep:

My God, my God, waarom het U my verlaat?

Die gedagte, selfs net die gedagte, om deur God verlaat te wees, is vir Hom so erg dat Hy nie dink dat dit die moeite werd is om sonder God te leef nie. En dit is die eienskap van die Psalms wat dit so spesiaal maak, nie waar nie? Daardie emosie wat dit by elkeen van ons wakker maak. Daardie gevoel wat mens kry wanneer jy jou gunsteling psalm hoor en sing!


Die doel van die Psalms draai om emosie. Hoe mense reageer, hoe mense voel oor ’n spesifieke omstandigheid waarin hulle hulself bevind, of oor ’n ding wat hulle gedoen het of iets wat met hulle gebeur het. Vir jou beteken dit dat jy nie meer verskonings het nie. As jy sukkel om jou eie woorde te vind om jou emosies te deel, gebruik die psalms. Die woorde is daar, die woorde om aan jou emosies uiting te gee, die woorde waarmee jy kan asemhaal, geestelik asemhaal, is daar, al wat van ons verwag word is om dit te gebruik.
Soos die suurstof in die lug.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui