God gee sy uiteindelike genadeverbond

Die Here soek ons op in sy genade en los ons nooit waar ons is nie. Lees hier van ons redding uit die genade wat ons in Jesus Christus ontvang.
deur ds. Marnix Boersema
Die Here ontmoet ons waar ons is, maar Hy los ons nooit waar ons is nie. Wat bedoel ek? Kyk byvoorbeeld na Adam en Eva: Die Here soek Adam op in die tuin van Eden, net na die sondeval. “Adam, waar is jy?” (Genesis 3:9)
In Adam en Eva se gebrokenheid, hulle verlorenheid, kom die Here na hulle toe. Tog los die Here hulle nie in hulle verlorenheid nie. Hy maak ’n belofte van verlossing:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.
Genesis 3:15
Die Here trek mense na Hom toe met sy verbond
Hoewel die Here die mens in sy verlorenheid ontmoet en opsoek, maak Hy die belofte dat Hy hulle nie daar sal los nie – Hy sal hulle verlos! Hy gaan dit doen omdat Hy genadig is. Hy gaan dit doen deur Een te stuur wat die Slang se kop gaan vermorsel.
Dit is hierdie genade-belofte van die Here, wat Hy progressiefin die mense-geskiedenis ontvou. Regdeur die geskiedenis, sedert Adam en Eva, trek die Here mense na Hom toe, deur ’n verbond met hulle te sluit.
Die Here bring sy genade na die mens toe
Telkens ontmoet die Here die stukkende mense waar hulle is: Adam, naak in sy sonde daar in die Tuin. Noag, in ’n goddelose wêreld op die punt van verwoesting. Abraham, daar ver in die land van die Chaldeërs. Jakob wat sy broer bedrieg en Moses wat iemand vermoor het.
Die Here los hulle egter nooit waar hulle is nie. Hy bedien aan elkeen van hierdie mense dieselfde genade – die genade van verlossing deur die Een wat die Slang se kop gaan vermorsel!
Die Here se pad van genade
Die Here maak eers hierdie pad van genade na Hom toe vir enkele mense bekend. Klein groepies mense soos die gesin van Abraham en Noag-hulle in die ark. Maar later maak die Here die Pad van Genade na Hom toe aan alle mense bekend! Jesus is die Pad na God toe! Hy is die Leer om van die aarde af na die hemel te kan klim (Johannes 1:51)!
Die Here Jesus Christus is die Een wat die Slang se kop vermorsel het. In Hom gaan die belofte van genade in vervulling en word alles wat God belowe het waar.
Die belofte van genade voor Jesus Christus
In die tyd voor Jesus het hy sy belofte van genade op verskillende maniere bedien. Hy het profete gestuur, visioene gegee, priesters aangestel en offers beveel. Al hierdie dinge was rigtingwysers na die Pad – dit moes alles dui op die Here se genadige verlossing deur die Een wat sou kom!
Die belofte van genade ná Jesus Christus
Noudat Jesus reeds gekom hét en die slang se kop vermorsel ís, bedien die Here steeds dieselfde verbond van genade, maar op ’n ander manier. Hy gee steeds rigtingwysers sodat alle mense die Pad na God mag vind. Die Here gee nou predikers van die Woord, die sakramente en die vryheid om God te aanbid waar ons ookal is, in Gees en in Waarheid (Johannes 4:23).
Die verbond van genade waarin ons staan
In Jesus breek die nuwe bediening van die genadeverbond aan. Na Jesus kom daar nie nog ’n Adam, nog ’n Noag, nog ’n Abraham of nog ’n Moses nie. Jesus is die Eerste en die Laaste. Jesus is nou en vir ewig die Hoëpriester wat met sy eie bloed ons vergewe en verlos. Deur sy offer het die voorhangsel in die tempel geskeur en het ons toegang tot die Vader in die hemel.
Jesus bring nie ’n “nuwe genade” nie. Hy is nie ’n nuwe of ’n ander Pad na God as in die Ou Testament nie. Hy was en is nog altyd die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6). Daar was nooit ’n ander manier om by God in die hemel te kan kom nie (Hebreërs 11).
Jesus is die Een wat na die aarde gekom het om ons te kom ontmoet waar ons is. In ons verlorenheid, stukkend in ons sonde. Maar, Hy los ons nie hier nie! Hy trek ons na die Vader, om in ’n verbond van genade met Hom te mag wees! Hy bedien hierdie genade aan ons, nie meer op die ou manier deur offers en priesters nie, maar deur die sakramente en die Woord.
Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Hebreërs 4:14-16