Die wonders wat gestop het, en iets meer wonderlik wat gebly het

Bestaan die gawe om wonderwerke te doen vandag nog? Ons kyk na die gawes van die Gees in 1 Korintiërs 12 en hoekom ons dié gawe nie meer nodig het nie.


deur ds. Dirk Meijer

Voordat jy verder hier lees, lees eers rustig deur 1 Korintiërs 12:1-11 en wat die Here daar sê oor die gawes van die Heilige Gees.


Wanneer daar oor die gawes van die Heilige Gees gepraat word, soos “praat in tale”, “wonderwerke” en “genesings”, dan is dit waarskynlik ’n saak wat vir ons dikwels meer vraagtekens laat as wat dit vir ons iets duideliker maak. Hierteenoor skryf Paulus: “Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie” (vers 1). Alles wat in 1 Korintiërs 12 oor die gawes van die Gees gesê word, is nie om meer vraagtekens vir ons te gee nie, maar juis om die vraagtekens weg te vat!

Oor watter wonders gaan dit hier?

In verse 8 tot 11 beskryf Paulus ’n reeks gawes wat in die kerk van Korinthe teenwoordig was. Wat belangrik is oor elke gawe, is dat die mens dit nie vir homself kan verkry nie, maar dit kom van God af (vers 7a), en dat dit bevorderend vir die hele gemeente moet wees (vers 7b).

In vers 10 word daar spesifiek verwys na die werking van kragte (1953-vertaling) of wonders (1983-vertaling) of dinamiese kragte (2020-vertaling) as een van die gawes van die Gees. Só ’n wonder is ’n bonatuurlike en buitengewone werk, wat gedoen word deur die krag van God, in die wêreld rondom ons.

Dit is belangrik dat ons hier onderskei tussen God se wonderwerke in ons (soos die wedergeboorte wat Hy bewerk deur sy Gees), en God se wonderwerke rondom ons (waarin God dikwels ander mense as middele vir die wonderwerk gebruik). Die wonderwerke hier in 1 Korintiërs 12 gaan oor die rondom ons.

Ons lees in die Bybel van heelwat wonders soos dit. Elisa laat ’n houtkapper se byl wat in die rivier geval het, op die water dryf (1 Konings 6). Jesus Christus wek vir Lasarus uit die dood op (Johannes 11). Petrus en Johannes genees ’n kreupel man by die tempel (Handelinge 3). Dit is alles werke van God wat teen die normale gang van die natuur ingaan.

Dieselfde soort gawe was dus ook teenwoordig by die kerk in Korinthe. Daar word nie vir ons meer spesifiek beskryf watter wonders sommige van die mense gedoen het nie, maar wel dat hierdie gawe aan party gegee is. Soos al die ander gawes moes dit dien tot opbou van die gemeente.

Gebeur hierdie wonderwerke vandag nog?

In ons eie wêreld vandag sien ons nie wonders gebeur in die sin soos wat dit hierbo beskryf is nie. Daar is inderdaad baie dinge waaroor ons sou sê: dit is ’n wonder! Maar gebeurtenisse rondom ons wat werklik téén die normale gang van die natuur ingaan, waarvoor absoluut geen menslike verklaring is nie, is min.

Ons moet egter nie net kyk na wat ons rondom ons sien – of nie sien – nie. Belangriker nog, ons moet hoor wat die Here daaroor in sy Woord sê. In Hebreërs 2:1-4 hoor ons dat wonderwerke ’n baie spesifieke plek en doel in die tyd van die Nuwe Testament gehad het. Die Here het aan sommige mense die gawe van wonderwerke gegee, sodat daardie wonderwerke bevestig het dat die mense regtig deur God gestuur en geroep is om die evangelie te verkondig.

In die Nuwe Testament het die mense nog nie die Bybel as ’n geheel gehad nie. Hulle het nie geweet of die persoon wat vir hulle die evangelie kom verkondig, werklik deur God gestuur is nie. Die wonderwerke het gedien as bevestiging dat God se boodskap van verlossing wáár is (Hebreërs 2:4).

Vandag het ons nie meer wonderwerke nodig om dit vir ons te bevestig nie. Die Here se Woord is self vir ons genoegsaam. Die Here bevestig self deur sy Woord en Gees dat sy Woord werklik sy Woord is.

Nie net sien ons nie meer wonderwerke, soos daar in Korinthe, rondom ons nie. Dit is ook nie meer nodig nie. Tog ontvang ons iets wonderliker as die wonderwerke wat daar in Korinthe was!

Daar is iets wonderliks wat vandag nog gebeur …

Die wonder waaruit ons dag na dag kan lewe, is dat God se werke nie net sigbaar word in die bonatuurlike gebeurtenisse wat gebeur het in die Ou en Nuwe Testament nie. God se werke is nét so sigbaar in die normale gang en patroon van elke dag en maand en seisoen en jaar.

Psalm 19:2-3 sing van hierdie wonder in die normale gang van elke dag se bestaan: “die hemelruim verkondig die eer van God, en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit ’n boodskap voort, en nag ná nag deel dit kennis mee”. God se werke is voor ons oë baie duidelik afgeskilder – en dit is wonderlik!


Aanhalings uit die 2020-vertaling.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui