Alles oor ware geloof in God


Ons leer dat ware geloof ’n vasstaande kennis en vaste vertroue in God is wat ons uit sy genade ontvang. Lees hier hoe jy weet of jý ’n ware geloof het.

deur Philip Wepener


Geloof is die pilaar waarop die Christelike godsdiens rus. Maar, dit is ook die pilaar waarop valse godsdienste rus. Hoe weet ek wat ’n ware geloof is? Hoe weet ek waar ’n ware geloof vandaan kom? Hoe seker kan ek wees dat ek ’n ware geloof het? Kom ons beantwoord hierdie vrae!

Wat is ’n ware geloof?

Ons Kategismus omskryf ’n ware geloof as ’n vasstaande kennis en vaste vertroue in God (Sondag 7, vraag en antwoord 21). Kennis en vertroue is twee kante van dieselfde munt. Kennis sonder vertroue is niks anders as ’n nuttelose geloof nie. Vertroue sonder kennis is nou weer onmoontlik want vertroue volg op kennis. Albei moet daar wees!

Ware geloof is vasstaande kennis en vaste vertroue in God

Dink só daaraan: Wanneer jy ’n persoon ontmoet en jy is gëintreseerd in hom of haar, gaan jy eers die persoon wil leer ken. Jy sal nooit die persoon volledig kan ken nie, maar jy sal genoeg kennis in julle gesprekke kan verkry om te weet of jy die persoon kan vertrou of nie.

Dieselfde met ’n ware geloof. Sonder geloof kan ons nie God ken en op Hom vertrou nie – daarom gee God vir ons geloof. Ons sal God wat ewig, onsienlik en ondeurgrondelik is, nooit ten volle kan ken nie, maar Hy het sy Woord vir ons gegee. Daarom moet ons daagliks sy Woord lees, bestudeer en biddend met Hom praat, want so leer ons Hom ken en groei ons gemeenskap met Hom. God het in sy Woord genoeg van Homself aan ons geopenbaar sodat ons uiteintlik op Hom, deur kragtige werk van sy Heilge Gees, kan en moet vertrou!


Waar kom ’n ware geloof vandaan?

Geloof is nie iets waarmee ons gebore word of iets wat ons op ons pad optel nie, maar dit is ’n gawe wat God deur sy Heilige Gees vir ons gee. Efesiërs 2:8-9 maak dit duidelik dat God uit genade vir ons geloof skenk – soos met elke ander gawe wat Hy doen. Verder kom geloof uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus (Romeine 10:17). Waar die Woord van God gesaai (verkondig) word, laat die Heilige Gees die saad van geloof ontkiem en groei! So werk die Woord en Gees altyd hand aan hand.


Hoe seker kan ek wees dat ek ’n ware geloof het?

Daar is baie mense wat sê dat hulle glo, maar hoe seker kan ek wees dat ek ’n ware geloof het? Ons Kategismus (Sondag 7, vraag en antwoord 22), sê:

“Wat moet ’n Christen glo?

Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.”


Toets jou eie geloof

Kom ons stel ’n paar vrae ter wille van duidelikheid. Toets jouself hierin:

  • Glo jy ALLES wat in die Woord van God staan en glo jy dat dit die Woord van God is? (bv. glo jy in die skepping, Adam en Eva, Noag se ark, die maagdelike geboorte, wonderwerke, die opstanding van ons Here, God se beloftes?)
  • Glo jy in en aanbid jy alleen die Drie-enige God (die Vader en die Seun en die Heilige Gees)?
  • Glo jy dat Jesus Christus jou enigste Verlosser is en dat Hy die enigste waarheid en weg is?
  • Glo jy verder elke artikel in die Apostoliese Geloofsbelydenis wat die inhoud van die Woord van God kragtig saamvat?
  • Getuig jou geloof van ’n godvrugtige lewe en goeie werke?

As jou antwoord op al hierdie vrae “JA” is, het jy ’n ware geloof. Jy ken en vertrou op God alleen uit sy genade. Alle roem en eer aan Hom!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui