Geloof kom deur God se genademiddele

Weet jy wat jou tot geloof bring? Lees hier oor die genademiddele wat God gee wat ons tot geloof bring.
deur ds Werner Brotherton
Hoe kry ek geloof? Kan ek dit soos ’n vrug iewers van ’n boom af pluk? Kan ek deur een of ander wilde ervaring tot geloof kom? Nee, die Here het iets heeltemal anders gekies om ons tot geloof te bring. In Romeine 10:13-17 maak Paulus ’n lys vrae waar hy in vers 13 begin om te sê dat elkeen wat die Here aanroep gered sal word.
In ons teksverse sien ons ’n kettingreaksie wat Paulus noem wat eintlik terugwerk. Ons sien vyf dinge wat Paulus noem:
- Aanroep – gebed
- Glo – geloof
- Hoor
- Prediking
- Gestuurde wat preek
Dit is eintlik baie logies. Om die Here te kan aanroep in gebed, is dit nodig om in Hom te moet glo. Om in God te kan glo, is dit nodig dat ons al van Hom gehoor het sê die vers. En om van Hom te kon hoor, moes daar iemand wees wat Hom aan ons bekend maak. Daardie persoon wat Hom aan ons bekend maak moet gestuur wees.
Dit word dus baie duidelik dat die punt hier gemaak word dat geloof alleen deur die prediking kom, natuurlik onder die werking van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wek die geloof in mense op onder die prediking. Ons noem dit waardeur die Heilige Gees werk genademiddele.
Prediking as een van die genademiddele
Die Here werk middellik, nie onmiddellik nie. Ons kan ook sê die Here werk deur instrumente. Een van hierdie instrumente is dan die prediking. Geloof is ’n middel tot verlossing, maar geloof is nie verlossing nie. Verlossing kry ons alleen in Christus.
Daarom is die prediking se inhoud baie belangrik. In vers 17 maak Paulus die werk van ’n predikant eintlik baie eenvoudig. Hy moet nie stories vertel om ons te vermaak nie. Hy mag nie grappies van die preekstoel af maak nie. En, hy mag nie mense se gehoor probeer streel nie.
Wat hy wel mag doen is om uit die Woord te preek. Want, skryf Paulus: Die geloof kom deur die gehoor, en die gehoor kom deur die Woord van God. Al wat ’n predikant dan doen is om die Woord te verklaar en oop te breek onder die leiding van die Heilige Gees.
Hoor Christus se stem deur prediking
Romeine 10:14 word in die Grieks vir ons baie duidelik. In ons vertalings staan daar: “En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?” In die Grieks is daar egter niks wat aandui dat die woord vandaar hoort nie. Daar staan letterlik: “Hoe kan hulle in Hom glo Wie hulle nie gehoor het nie?” Met ander woorde, hoe kan hulle glo in die een Wie se stem hulle nie hoor nie?
Dit is dus duidelik dat Christus se stem van die preekstoel af gehoor moet word. Nie die predikant nie, hy is maar die instrument in die hand van die Here.
Die nagmaal as ’n genademiddel
Daardie prediking gebruik die Here as ’n genademiddel om ons tot geloof te bring. Maar die Here gaan nog verder. Hy gee ons ook die genademiddel van die Nagmaal om ons in die geloof te versterk. Daar kan ons sien, voel en proe. Al ons sintuie word gebruik om ons te wys na dit wat Christus kom doen het.
God gee én versterk jou geloof
Mag dit ons troos in die wete dat dit nie van ons afhang om geloof te kry nie. Dit hang nie van ons af om versterk te word in die geloof nie, want die Here doen dit alles! Nog meer, in Filippense 1:6 leer ons dat Hy nie net die geloof in ons begin nie, maar dat Hy dit ook voleindig. Daarom kan ons met alle rustigheid ons hele lewe in die hande van ons getroue Vader plaas.
