Hoe werk God se verlossing van die mens?
In hierdie artikel ondersoek Kruispad ons as gelowiges se verlossing – lees hier oor verlossing, geloof en hoe God se uitverkiesing werk.
deur ds Brahm Robinson
Alles werk op ’n manier en mense wil graag weet hoe dinge werk. Sommige van ons wil graag weet hoe enjins werk en leer verder as motorwerktuigkundige, of hoe koffie gemaak word en word ’n barista. Tog as iemand wil weet hoe God se verlossing van die mens werk is dit nie net vir dominees bedoel om te weet nie, maar vir alle gelowiges.
Trouens, daar was ’n baie groot kerkvergadering gehou om finaal te bevestig wat die Here ons leer oor hoe sy verlossing van die mens werk. Dié vergadering was die Sinode van Dordt. Dit was so ’n kosbare vergadering dat die belydenis wat daar opgestel is, aanvaar is as ’n belydenisskrif van die kerk. Dit is juis gedoen sodat alle gelowiges presies kan weet wat die Here ons leer oor hoe sy verlossing werk.
Die Dordtse Leerreëls vertel van ons verlossing
In die Dordtse Leerreëls word die verlossing van die mens vir ons baie mooi uiteengesit: Ons moet eerste verstaan dat Adam gesondig het, en dat die hele mensdom by sy sonde betrokke is, en daardeur skuld geërf het. Die gevolge van die sonde is die ewige dood. Daarom sou dit regverdig wees as God die hele mensdom in sonde sou los en hulle ewig weens die sonde straf.
Maar God wys sy groot liefde deurdat Hy sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Omdat God volkome regverdig is, beteken sy genade nie dat Hy maar net van die sonde van die mens kan vergeet nie. Hy is ook volkome regverdig en moet die sonde straf. Daarom stuur Hy sy Seun om volledig vir die uitverkoerens se sonde te betaal.
Só moet jy glo
Dit is ook die boodskap wat God in die wêreld laat verkondig wat mens moet glo. Indien iemand dit nie glo nie, bly God se oordeel op hulle. Mense wat die evangelie as die waarheid aanneem en daarom vir Jesus as die Verlosser erken, word deur Hom van die straf van God gered. Dit beteken dat hulle die ewige lewe ontvang.
Waar kom geloof vandaan?
Geloof is egter nie iets wat uit ’n mens self kom nie. Dit is nie ’n gevoel of ’n keuse wat jy self voortbring nie. Dit is ’n geskenk van God. Hy gee geloof aan sommige mense en nie aan ander nie. Reeds voordat Hy die wêreld geskep het, het Hy besluit om die geskenk aan sommige te gee. Dit is God se uitverkiesing van mense.
Dis God wat mense uitverkies
God het nie mense gekies omdat Hy vooruit gesien het dat sommige ‘goed’ sal wees of Hom sal kies nie. As gevolg van die uitverkiesing volg al die ander geestelike seëninge. God het van ewigheid af vir Christus die grondslag van verlossing gemaak, en Hom as Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes gemaak.
Alle seën kom dus alleenlik deur Hom: ons regverdigmaking, roeping, geloof, heiligmaking en alle ander gawes, en uiteindelik die ewige lewe self – dit kom alles voort as vrugte van God, wat ons in Christus uitverkies het. God sal ook nie hierdie besluit verander nie.
God werk in dié wat Hy uitverkies het
In elke mens wat Hy uitverkies het, werk Hy dan persoonlik in hulle lewe. Die Here verseker gelowiges op sy eie tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot redding. Dit gebeur nie presies dieselfde in alle mense se lewens nie. Die Heilige Gees werk deur die Bybel om daardie uitverkore mense te roep. Op sy tyd maak die Here hulle harte ontvanklik en Hy bekeer hulle sodat hulle in ’n baie liefdevolle verhouding met Hom kan leef.
Hoe weet jy dat jy uitverkies is?
Gelowiges kom tot die besef dat die Here hulle uitgekies het wanneer hulle besef dat hulle glo dat Jesus waarlik die Verlosser is. Hulle het ook ’n kinderlike vrees vir God en is baie jammer oor hulle sonde wat hulle teen die wil van God doen.
Die wonderlike is dat God hulle ook deur sy krag sal bewaar totdat hulle eendag verheerlik word. Dit alles dien as bewys van God se barmhartigheid, en dit is die rede waarom alle lof aan Hom gebring moet word. Hierdie sekerheid gee vir gelowiges elke dag meer en meer rede om hulleself voor God nederig te maak, Hom te aanbid vir sy barmhartigheid en om Hom, wat hulle eerste liefhet, ook vurig lief te hê.
God se werk word vir ons baie mooi in Romeine 8:29-30 uitgewys:
Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep.
En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.
En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.