Vrees God, nie mense nie!

Die wêreld mag dalk vol vrese wees, maar as kinders van God moet ons nie ander mense vrees nie, maar vir God.

Verwerk uit ’n preek van ds. Danie Snyman

Ons wêreld is vol vrese. Vrees vir misdaad, vrees vir ’n ekonomiese en maatskaplike ineenstorting, vrees vir ekologiese rampe, vrees vir siekte en pyn en doodgaan, vrees vir mense wat jou sal spot of verstoot of selfs aanrand oor jou geloofsoortuigings. Die Here Jesus sê dat ons hierdie vrese uit ons sisteme moet kry. Kinders van God moenie met sulke vrese lewe nie.

Die verkeerde vrees

Jesus beskryf die vrees wat ons nié mag hê nie: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie” (Lukas 12:4). Wat Jesus dus sê, is dat ons nie vir mense bang moet wees nie.

Ons moet hier dink aan mense wat teenstanders van die evangelie is, vyande van God en sy volgelinge. Matteus gee vir ons ’n duidelike voorbeeld van die soort situasie wat Jesus bedoel het toe Hy hierdie woorde gesê het. In Matteus 10 lees ons hoe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het om die evangelie te gaan verkondig en hoe Hy hulle toe baie pertinent daarop voorberei het dat hulle teenstand gaan kry. Die teenstand was nie net van die sondige wêreld nie, maar ook van die valse kerk van hulle tyd, en selfs van hul eie familie en gesinslede. Hulle kon selfs doodgemaak word vir die waarheid wat hulle gaan verkondig.

Hoekom moet jy nie mense vrees nie?
Die ergste wat ’n mens jou kan aandoen is liggaamlike leed. Al ons vrese raak net ons liggame, oftewel net ons tydelike aardse lewe, voortbestaan en geluk. Ons liggaamlike dood is net die einde van ons bestaan op hierdie stukkende aarde, en die begin van ons lewe saam met die Here in die hemel. ’n Gelowige wat sterf, skryf die apostel Paulus, kry wins – jy wen meer as wat jy verloor! Daarom behoort ons nie in angs vir die liggaamlike dood te leef nie.
Ons moet ook nie vrees nie omdat ons weet dat die Here in beheer is van wat met ons gebeur. Nie eens een haar van ons sal beskadig kan word as dit nie die wil van die Here is nie. Alles wat met jou gebeur is deel van sy groot en heerlike plan. Niemand sal iets aan jou kan doen as die Here dit nie in sy onpeilbare wysheid toelaat nie.

Wat is vrees vir die Here?

“Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees” (Lukas 12:5).

God het nie net mag oor jou liggaam nie, maar ook oor jou siel. Die Here Jesus sê dus hier dat ons God moet vrees. As jou siel ’n band met God het, bewaar Hy nie net jou siel nie, maar sal Hy ook jou liggaam eendag heel, volmaak, verheerlik, onsterflik vir jou teruggee, al het mense wat ook al daarmee gedoen.
Ons moet baie meer begaan wees oor ons band met God, want dit het konsekwensies vir die ewigheid!

  • Vrees vir God is nie angs en bangheid om te bid, te vra en te smeek nie.
  • Weet dat God heilig is. Hy is so volmaak skoon van alle sonde dat Hy mense wat willens en wetens aanhou sonde doen, nooit naby Hom sal duld nie.
  • Ons moet verstaan dat Hy regverdig is. Mense wat aanhou om sy liefde in Jesus Christus te verwerp, sal uiteindelik hul verdiende loon kry en vir ewig sonder sy liefde lewe. God vergewe nie die sonde sonder straf nie.
  • Vrees vir God beteken ook om Hom ernstig op te neem as Hy jou tot geloof en volharding roep. Dit behels bekering wanneer jy weet dat jy sondig.
  • Ons moet in alle opsigte heilige respek en partykeer selfs iets van bewing en siddering hê vir dié Here wat alles en almal gemaak het, in stand hou en regeer.
  • Ons moet in diep eerbied vir Hom leef en alles wat moontlik is doen om Hom te gehoorsaam.

Hierdie vrees vir God móét ons hê, want Hý kan oneindig erger aan jou doen as wat enige mens kan.

Waarvoor jy nie moet vrees nie … en waarvoor jy moet
Moenie bang wees dat ons dalk nie ’n toekoms in Suid-Afrika gaan hê nie; wees eerder bang dat ons geloof dalk iets gaan oorkom en ons dan nie ’n toekoms op die nuwe aarde gaan hê nie;
Moenie bang wees dat jou bankrekening dalk eendag leeg gaan wees nie; wees liewer bang dat jy dalk nie ryk is in God nie;
Moenie vir siektes bang wees nie; wees bang vir sondes wat jou kan oorval;
Moenie bang wees vir mense wat ons oor ons geloofsoortuigings spot nie; wees bang dat Jesus oor ons gaan stilbly in die hemel as ons hier op aarde oor Hom stilbly!
Moenie bang wees dat ’n misdadiger dalk eendag ’n rewolwer teen jou kop kan druk of dat ’n goddelose owerheid ons as Christene dalk eendag kan martel nie; wees liewer bang dat ons dalk eendag ongelowig, onbekeerd, onversoend voor die Regter van die hemel en die aarde kan staan.

Dis wat ons Here en ons Verlosser ons leer: Ons moenie dat vrees vir mense ons lewens dikteer nie; ons diep ontsag vir God moet die gang van ons lewens bepaal.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui