Bid vir jou land

Onthou dat jy moet bid vir die land waarin jy woon, vir sy mense, en sy regeerders. Hier is ’n paar idees wat die Bybel ons gee.

Daar is baie goed waarvoor ons moet én kan bid. Ons bid om God te dank vir wonders in ons lewens, of ons smeek om hulp met ons daaglikse probleme. Tog vergeet ons soms dat ons regtig álles in gebed na die Here toe kan bring. Onthou jy om ook vir jou land te bid? Dis maklik om te praat oor hoe sleg jy dink dit tans in die land gaan. Dalk voel jy daar is niks wat jy kan doen nie. Maar, jy kan bid. Jy kan bid vir die land, vir sy mense en vir dié wat regeer. As jy nie weet waar om te begin om vir die land te bid nie, is hier vir jou ’n paar idees uit die Bybel.

Bid dat die Here almal in die land vergewe

2 Kronieke 7:14

en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.


Bid dat almal hul harte na die Here sal draai

Spreuke 14:34

Gehoorsaamheid aan die Here laat ‘n volk sterk staan; sonde bring skande oor ‘n volk.


Vra dat God ons help om die wat in gesag is te respekteer, en om goeie landsburgers te wees

1 Petrus 2:13-17

Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ’n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Romeine 13:1-3

Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. ’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys …

Matteus 22:21

Jesus sê vir hulle: ‘Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.’


Bid vir die wat in gesag staan, dat die Here hulle wysheid sal gee

1 Timoteus 2:1-2

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

Daniël 2:20-21

Daniël het gesê: ‘Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het,’

Spreuke 11:14

Sonder oorwoë leiding val ’n volk; die redding lê in baie raadgewers.


Bid dat ander óók vir die land sal bid

Handelinge 17:30

God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer …

Psalm 32:6-7

Dit is waarom elke gelowige in ’n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. U is vir my ’n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.


Bid dat almal sal onthou wie werklik in beheer is

Psalm 22:28-29

Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke …

Job 12:23-25

Hy maak nasies groot en Hy vernietig hulle, Hy laat nasies uitbrei en laat hulle tot niet gaan. Hy ontneem wêreldleiers hulle verstand en laat hulle ronddwaal in ’n wilde wêreld sonder pad. Hulle tas in die donker rond sonder lig, Hy laat hulle ronddwaal soos dronkmense.

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. 2nd Mei 2019

    […] Het jy al ooit vir bekering vir ons regering gebid? Lees hier waarvoor jy vir die regering moet en kan bid. […]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui