Hoekom is gebed so belangrik vir ’n Christen se geloofslewe?

Kruispad kyk na die ses bedes in die Onse Vader, wat ons leer bid, en wat ons van elkeen van hierdie bedes moet verstaan, sodat dit ons gebedslewe kan versterk.

deur ds. Danie Malan

’n Christen sonder gebed is net so onmoontlik soos ’n lewende persoon sonder ’n pols.

Só skryf Martin Luther oor die Christen en gebed. Johannes Calvyn skryf weer dat ons nie met woorde genoegsaam kan verduidelik hoe noodsaaklik gebedsoefening is en watter voordele dit inhou nie. Bedink dit: een van die mees begaafde manne in die kerkgeskiedenis kan nie die woorde vind om genoegsaam te verduidelik hoe noodsaaklik en nuttig gebed vir die Christen is nie! Ons bely in die Heidelbergse Kategismus (Sondag 45, Vraag & Antwoord 116) dat gebed “die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis …” Die hervormers en ons belydenisskrifte beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat Christene moet bid, omdat dit in die Bybel beklemtoon word. Dit is duidelik dat ’n Christen biddend moet wees.


Gebed is meer as net ’n plig

Gebed is meer as net ’n ‘moet’. Anders gestel: Gebed is vir die Christen meer as net ’n plig. Dit sal dalk beter wees as ons eerder sê: Dit is duidelik dat ’n Christen biddend is. Vir ’n Christen is gebed iets wat ons wil doen en iets wat ons gaan doen. Ons lees iets hiervan in Romeine 8:15: “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!”. Vroeër in Romeine het Paulus ons geleer dat ons almal vroeër slawe van sonde was, maar dat ’n Christen vrygemaak is uit slawerny om God te dien (Romeine 6:20-23). Dit kan alleen gebeur as die Heilige Gees in jou kom woon. Wanneer Hy dit doen, verander Hy jou van ’n slaaf van sonde wat moet vrees tot in ’n kind van God wat biddend uitroep: “Abba, Vader!”. Soos wat ’n slaaf wie se loon die dood is vanself gaan vrees, gaan die kind van God self God aanroep in gebed. Dieselfde Gees wat jou ’n kind van God maak, is die Gees wat jou dring om te bid.


Jy kan jou geloofslewe aan jou gebedslewe meet
As jou gebede opdroog, kan jy maar weet dat daar iets fout is in jou geloofslewe. Dit gaan nie lank wees voor jy begin afdwaal en wegloop van die Here af nie. Wanneer die Here jou weer kom haal deur jou tot die besef te bring van hoe verskriklik jou sonde is, is die kenmerk van so ’n tyd ’n oplewing in jou gebedslewe. Daarop volg ’n oplewing in jou besef en ervaring van God se nabyheid.


Jy kan gebed leer

Jy weet dalk dat jy moet bid, jy voel dat jy wil bid, maar jy weet nie hoe om te bid nie. Hoe moet ons bid? Wie kan ons leer om te bid? Wel, daar is een persoon wat ’n volmaakte lewe van gebed gehad het – Jesus! Jesus stel vir ons ’n voorbeeld van ’n lewe van gebed. Ons kan ook bly en dankbaar wees dat een van die dissipels die nodige vraag vir Jesus gevra het: “Here, leer ons bid …” (Lukas 11:1). Omdat sy antwoord vir ons neergeskryf is, kan ons vandag nog soos die dissipels by Jesus se voete gaan sit om te leer bid. Hy doen dit in wat ons die Onse Vader noem.


Die Onse Vader in Lukas teenoor Matteus
In Lukas 11:1-13 leer Jesus die dissipels om te bid na aanleiding van een van hulle wat Hom gevra het om dit te doen. Matteus 5-7 is ’n preek (die bergpredikasie of bergrede) oor die koninkryk van die hemel. In hierdie preek leer Jesus die mense ook hoe om te bid (Matteus 6:5-14). In albei dele kry ons die Onse Vader, maar met hier en daar iets wat anders is.


Die Onse Vader is ’n raamwerk

Wanneer ons die Onse Vader bestudeer is dit belangrik om te weet dat die Onse Vader vir die Christen ’n raamwerk is waarvolgens ons, ons gebedslewe moet inrig. Dit beteken dat ons nie wanneer ons bid altyd net die woorde van die Onse Vader moet opsê nie. Hiermee sê ons nie dat dit verkeerd is om soms die Onse Vader woord-vir-woord te bid nie. Net dat jou gebedslewe nie beperk moet wees tot die woord-vir-woord bid van die Onse Vader nie. Dit beteken dat Jesus vir ons in die Onse Vader al die belangrike elemente gee wat in ons gebede moet wees. Jy kan in jou gebede lank uitbrei op elkeen van die elemente en dit in jou eie woorde bid – solank elkeen deel is van jou gebedslewe. Ons noem normaalweg hierdie elemente die ses bedes van die Onse Vader:

  1. Laat u Naam geheilig word;
  2. Laat u koninkryk kom;
  3. Laat u wil geskied;
  4. Gee ons vandag ons daaglikse brood;
  5. Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
  6. Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Hoekom word dit die Onse Vader genoem?

Ons noem die raamwerk die Onse Vader, want Jesus leer ons daarin dat ons God moet aanspreek as: “Ons Vader wat in die hemele is”. Elke gebed vloei uit die wete dat God ons deur die Gees in Jesus as sy kinders aangeneem het. Ons bid tot die God wat ons so liefhet dat Hy ons sy kinders noem en wil hê dat ons Hom moet liefhê deur Hom ons Vader te noem. Hy is wel die Vader wat in die hemele is, wat beteken dat ons in elke gebed ook bewus moet wees van sy hemelse majesteit. Ons gebede word afgesluit met “want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid”. Sodoende erken ons dat ons gebed ook vloei uit die wete dat God as Koning al die gesag het om ons gebede te verhoor en dat Hy al die krag het om ons gebede te verhoor. Ons gebede word dus omarm met die geloof dat God tegelykertyd ons Vader en ons Koning is: ’n Vader wat vir ons in sy liefde wil gee wat ons nodig het en ’n Koning wat in sy mag en gesag vir ons kan gee wat ons nodig het.


In elkeen van die artikels wat volg gaan die skrywers hierdie bedes vir jou nog meer verduidelik. Lees dit, dink daaroor – bid daaroor! Klik op elkeen van die opskrifte hier onder om na die betrokke artikel te gaan.

  1. Ons kan bid tot ons Vader in die hemel
  2. Gelowiges bid vir God se koninkryk en God se wil
  3. Bid vir die Here se daaglikse versorging
  4. Christene wat vergifnis ontvang, moet ook ander vergewe
  5. Bid dat jy sal volhard deur versoeking


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui