Gelowiges bid vir God se koninkryk en God se wil

Kruispad kyk na die tweede en derde bedes van die Onse Vader. Lees hier hoe dit betrekking het op hoe ons as burgers van God se koninkryk moet lewe.

deur ds. Dirk Meijer

Wanneer Jesus ons deur “die Onse Vader” leer bid, dan leer Hy ons om van die begin af vir die belangrikste sake te bid. Ons bid: “laat u Naam geheilig word”. Ons wil die Here reg ken en as die Allerheiligste eerbiedig. Wanneer ons bid “laat u koninkryk kom” en “laat u wil geskied”, sluit dit hierby aan. Sy Naam moet geheilig word deur die koms van sy koninkryk, en deur sy wil wat geskied.


“Laat u koninkryk kom”

Die mense in die Bybelse tyd was baie goed bekend met konings. Dink maar aan die volk Israel. Hulle het baie konings gehad: goeie konings soos Dawid en Hiskia, en slegte konings soos Saul en die bose koning Manasse. Tog was, en is, daar nog altyd een Koning groter as al die ander, ’n Koning wat bo-oor al die ander geheers het en steeds heers en sal heers. Dié Koning is van ewigheid af nog die HERE. Gaan lees gerus in Psalms 93-99 hoe dikwels ons die woorde hoor: “die HERE is Koning”.

Die Here is Koning

Wanneer ons tot die Here bid “laat u koninkryk kom”, gaan dit nie eerstens oor die koninkryk nie, maar oor Wie die koning is. In die lig daarvan kan ons dan dink aan sy koninkryk. Met die skepping het God vir Homself ’n koninkryk gemaak (Genesis 1-2). Met die sondeval het die koninkryk in ’n gemors ontaard (Genesis 3). In plaas daarvan dat ons getroue burgers van die Here se koninkryk gebly het, het ons rebelle en vyande in God se koninkryk geword. Let mooi op: die Here het nooit opgehou om Koning te wees nie, maar ons het opgehou om getroue burgers te wees. As rebelle in die koninkryk het ons verdien om deur God, die Koning, vir ewig gestraf te word.

Tog het God kort na die sondeval al belowe (Genesis 3:15) dat Hy sy uitverkorenes as getroue burgers in sy koninkryk gaan herstel. Hy sal sy Seun stuur om die kop van die duiwel, wat as voorgee-koning in sy koninkryk ingedring het, te vermorsel.

In die Nuwe Testament hoor ons hoe God sy belofte vervul. Christus word gebore en begin sy openbare bediening met die woorde: “die koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). In Christus word dit vir ons duidelik dat die HERE Koning is. Christus sterf vir ons sondes om weer burgers van sy koninkryk te word. Die Heilige Gees bring mense tot die oortuiging dat die HERE Koning is. Hy gee vir ons sy Woord om dit te verkondig dat almal kan hoor: die HERE is Koning!

Ons besef daar is nog baie mense wat nie erken dat die HERE Koning is nie. Die koninkryk van God het reeds naby gekom, soos Christus gesê het, maar dit het nog nie finaal gekom nie. Tog weet ons daar gaan ’n punt kom, wat ons Vader bepaal het (Handelinge 1:7-8), dat álle mense en skepsels hul knieë voor Christus gaan buig en erken dat Christus Koning is (Filippense 2:10). Dit sal wees met Christus se wederkoms. Die gelowiges sal God as Koning vol vreugde aanbid. Die ongelowiges sal God as Koning vol hartseer vrees.

Wat vra ons dan as ons bid “laat u koninkryk kom”?

Hierdie dag van die volheid van God se koninkryk is aan die kom, en dit is waarvoor ons vra as ons bid: “laat u koninkryk kom”. Hierdeur vra ons dat ons deur die Heilige Gees al hoe meer onsself aan die Here, ons Koning, en sy Woord sal onderwerp. Ons bid dat God as Koning sy kerk sal bewaar en sal laat groei deur ons as middele te gebruik wat sy Woord bedien. Ons pleit ook hierdeur dat al die bose werke van rebelle in sy koninkryk vernietig sal word.

Saamgevat: Ons bid dat God se koninkryk al hoe meer mag sigbaar word soos wat al hoe meer mense erken dat Hy die Koning is.


Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde

Uit God se genade alleen word ons opnuut burgers van God se koninkryk. Christus koop ons vry uit die koninkryk van die duisternis en plaas ons oor as burgers van die koninkryk van die lig (Kolossense 1:13). As ons verlos is, beteken dit ons het ’n nuwe burgerskap. Ons is nie maar net Suid-Afrikaanse burgers nie, Paulus skryf: “ons burgerskap is in die hemele” (Filippense 3:20). As getroue burgers van God se koninkryk, moet ons ook leer om as hemelse burgers te lewe. Om hierdie rede vra ons ook vir die HERE: “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”.

Om mooi te verstaan wat ons hier bid, moet ons eers vra hoe God se wil in die hemel geskied en dan hoe dit lyk as sy wil op die aarde geskied.  

Hoe geskied God se wil in die hemel?

In die hemel, voor die troon van die HERE is daar geen sonde nie. Daar is niks verkeerd en geen onreg nie. Daar is die engele besig om die Here te loof. Dawid sing in Psalm 103 dat die engele die HERE moet loof “in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord”. Hulle doen net wat die Here sê en voer dit uit. In plaas van ongehoorsaamheid, is daar nét gehoorsaamheid, in plaas van wanorde, is daar vrede, in plaas van onreg, reg. Saamgevat: in die hemel geskied God se wil.

Hoe lyk dit dan as sy wil op die aarde geskied?

Nou leer Christus ons bid dat die Here se wil ook op aarde mag geskied, soos dit in die hemel doen. Ons ken die toestand op aarde. Ons sondig en rebelleer teen God. Ons sondige wil bots dikwels met God se heilige wil. Maar nou vra ons van die Here: bring ons wil al hoe meer in lyn met u wil! Ons bid dat ons ons eie wil sal prysgee waar dit verskil van wat die Here van ons vra. Ons vra dat die Here in ons sal werk om nie eers teë te praat as Hy vir ons sê wat sy wil is nie. Ons pleit dat Hy só deur sy Gees in ons sal werk dat ons by die huis, by die skool, in die werksplek, op vakansie, dag na dag, sy wil gewillig en getrou sal uitvoer soos wat die engele in die hemel ook doen.


Bid dat God se koninkryk mag kom, en dat ons al hoe meer as burgers van sy koninkryk sal lewe. Volhard in die gebed, nie net as burger voor ons hemelse Koning nie, maar ook as kind voor ons hemelse Vader. 


Lees die artikel, “Hoekom is gebed so belangrik vir ’n Christen se geloofslewe?”, ’n inleiding tot die Onse Vader, en hoekom jou gebedslewe so belangrik is vir jou geloofslewe. Volg dan ook die skakel na elkeen van die bedes wat die Onse Vader uitmaak om meer daarvan te leer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui