Vertrou altyd op God se beloftes
Hou jy vas aan God se beloftes omdat jy Hom vertrou, of omdat jy bang is? God is altyd in beheer. Jy kan in geloof op Hom vertrou.
deur ds. Piet Venter
Het jy ook al voor iets groot en aangrypend in die natuur te staan gekom en skielik besef hoe wonderlik die Here is? Ons leef elke dag bewus van die Here, maar die oomblik as jy met iets groots gekonfronteer word, kom jy regtig onder die indruk van sy grootheid.
Tog werk dit nie dieselfde as ons voor ’n groot lewenskrisis te staan kom nie. Dan vergeet ons van hierdie grootheid van die Here en sy almag en krag. Skielik lyk jou lewenskrisis so groot en onoorkombaar dat jy bang word en dink dit gaan jou oorweldig!
In die Bybel, veral in die Psalms, kry ons ’n oorvloed teksverse wat ons verseker dat God by ons is, en dat Hy ons beskerm. Jy kan in geloof aan hierdie beloftes van God vasklou. Maak seker dat jou motivering reg is: Vertrou uit ware geloof, moenie aan God se beloftes vasklou omdat jy bang is nie.
Storm op see
In Markus 4:35-41 lees ons van die dissipels van Jesus wat in die bootjie op die see in ’n storm beland. Die dissipels het al met hul eie oë gesien hoe Jesus wonderwerke doen, maar die oomblik toe hulle self in ’n krisis kom en die storm op die see beleef, vergeet hulle van al hierdie wonders en word baie bang en benoud. Hulle geloof in Christus was darem so dat hulle geweet het dat hulle na Hom toe moet gaan. Hulle was egter nie seker of Hy hulle sal red nie. Hulle het gedink Jesus gee nie om nie omdat Hy rustig lê en slaap.
Het jy ’n vreesgedrewe geloof of ’n vertrouensgeloof?
Is dit nie dikwels eerder ons vrees wat ons na Jesus toe dryf as wat dit ons geloofsvertroue in Hom is nie? Ons kan altyd – ook in die woeste stormtye van ons lewe – op Jesus vertrou, want Hy is God! Hy is almagtig en Hy is in beheer van jou lewe en Hy sal jou red en help. Jy moenie bang wees en jou vrees jou laat dryf nie. Jy moet in Jesus glo en jou geloofsvertroue jou na Hom toe laat dryf.
’n Geloof uit vrees
Eintlik is daar nie iets soos ’n vreesgedrewe geloof nie, want geloof impliseer dat jy op God vertrou en dat jy weet dat Hy sal help. Vanweë ons kleingeloof en ons klein dink van God laat ons toe dat vrees ons na Jesus toe dryf in plaas van die wete dat Hy in staat is om enigiets te doen.
Dis vrees wat jou oortuig dat die krisis in jou lewe onoorkombaar is. Vrees oortuig jou dat God nie regtig vir jou omgee nie, want as Hy vir jou omgegee het, sou Hy al lankal die uitkoms gegee het. Vrees beroof jou van vrede en bring bekommernis. Jy gaan na die Here toe en jy bid – maar eintlik is dit vrees wat jou lewe beheers.
’n Lewe van geloofsvertroue
Daarteenoor is ’n lewe in geloofsvertroue wat jou na die Here toe dryf. Dis om die vaste wete te hê dat die Here daar is vir jou, dat Hy sal sorg. Al “slaap” Hy dalk ook agter in die bootjie in die sin dat Hy nie dadelik uitkoms gee nie – weet jy Hy is in beheer en Hy kan en sal op sy wyse uitkoms gee. ’n Lewe van geloofsvertroue bring vrede.

Die storm word stil
Jesus staan op en Hy maak die wind stil en laat die golwe gaan lê. Hy bring absolute kalmte op die stormsee en red hulle. Toe die wind en die see vir Hom luister en stil word is die dissipels oortuig dat Jesus meer is as ’n mens.
“Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” vra die dissipels in Markus 5:41. Hy is God wat in beheer is en Hy sal jou red. Dit is wie Jesus is. Dit is hoe ons oor Hom moet dink en in Hom moet glo. Dis hoekom Jesus mens geword het, juis om ons te oortuig van Wie God is en wat Hy kan doen. Dit is hoe Jesus in hierdie gebeure vir ons geteken word: Die Grote God wat alles kan doen – só wil Hy dat ons in Hom glo en op hom vertrou.
Vertrou volkome op die Here
Ons kan altyd op
die Here vertrou. Nie net in die groot oomblikke van jou lewe nie, maar ook in
die krisistye as alles verlore lyk. Jy moet bid dat die Heilige Gees jou altyd opnuut
sal oortuig van God se grootheid in Jesus Christus en dat Hy regtig in beheer
van jou lewe is. Hy kan en wil help en jy moet net op Hom vertrou. Wanneer die
storms kom kan jy vasstaan in jou geloofsvertroue en op grond daarvan na Jesus
toe gaan en weet dat God die Vader jou deur Hom sal red en bewaar.
In die middel van die storm kan jy aan God se beloftes vashou en kalm wees.