Jesus het gegaan om vir ons plek gereed te maak
Deur Johannes 14 leer ons dat daar net twee plekke is waar mense kan woon: óf buite Christus in sonde, óf ín Christus en sy regverdigheid by die Vader. Lees hier hoe Jesus vir ons plek maak.
deur ds. Brahm Robinson
Op Hemelvaartsdag, 40 dae na Paasfees, dink ons daaraan dat Hy na die hemel opgevaar het. Ons weet Hy is besig in die hemel. Hy regeer oor alle dinge aan die regterhand van sy Vader en Hy tree vir ons as Middelaar in. Wanneer mens dan hieroor nadink, kom ’n teks soos Johannes 14:2 by mens op waar Jesus vir sy dissipels sê: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.” Dalk is dit nie net kamers aan een huis nie, maar selfs eie huise. Die King James-vertaling praat van “mansions” wat in die huis van die Vader is, wat by ons die gedagte van paleise in die hemel skep.
Op eerste oog opslag klink dit of Hy baie besig gaan wees om nog kamers aan te bou, soveel soos wat daar gelowiges is. Wanneer ons hierdie vers lees, neem ons egter verkeerdelik aan dat Jesus praat oor fisiese plek en oor wat Hy in die verre toekoms gaan doen.
Jesus berei sy dissipels voor dat Hy weggaan
Die woorde wat Jesus hier sê is deel van sy afskeidstoespraak wat ons in Johannes 14 tot 17 lees. Hy is in die bovertrek en vier die pasga saam met die twaalf dissipels. Dit is net ’n paar uur voor sy arrestasie, verhoor en kruisiging. Die doel van hierdie laaste woorde is om die dissipels voor te berei op sy weggaan van hulle af. Jesus sê dat Hy hulle binnekort sal verlaat na ’n plek waarheen hulle nie kan kom nie (Johannes 13:33). Hy verseker hulle dat hulle nie moet besorg wees oor alles wat gaan gebeur nie. Inteendeel, hulle moet op God vertrou en op Hom vertrou (Johannes 14:1). Hierdie skeiding waarvoor Hy hulle voorberei, sal net tydelik wees. Hy sal terugkom en hulle saam met Hom neem.
“In die huis van my Vader is daar baie woonplek” (Johannes 14:2)
Jesus gee die prentjie van Hom wat na die huis van sy Vader gaan, waarin daar baie woonplek is. Jesus verwys nie na die hemel nie, dat Hy, nadat Hy gesterf en weer opgestaan het, hemel toe sal gaan en ’n huis gereed sal kry vir sy mense nie. Die gedeelte wys eintlik in ’n ander rigting. Elke verwysing na woonplek in hierdie gedeelte, praat nie van die toekoms en die lewe hierna nie, maar die huidige toestand van die dissipel van die Here Jesus. Hier en nou sal hulle saam met hom in die huis van sy Vader woon.
“En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3).
Wat dan van vers 3 waar Jesus sê Hy kom terug om hulle na Hom toe te neem? Dit klink dan wel of Jesus êrens heen gaan en sal terugkom en ons daarheen neem. Jesus sê egter vir die dissipels dat hulle die plek waarheen hy gaan ken. Dan hoor ons in Johannes 14:5 Tomas se verwarde erkenning: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” Jesus vertel dan vir hulle die bestemming sowel as die vervoermiddel: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Jesus gaan dus nie êrens heen nie, maar na Iemand. Jesus sê dan in vers 7 dat die dissipels die Vader van nou af sal sien. Hy sal hulle na die Vader neem en vir hulle woonplek by die Vader gee.
Die weg na God se huis is oopgemaak
Waar gaan Hy om woonplek vir ons voor te berei? Na die kruis. Deur Christus se dood en opstanding maak Hy die baie woonplek. Hy maak dat ons by die Vader kan woon. Daar is dus slegs twee plekke waar mense kan woon: óf buite Christus in sonde, óf ín Christus en sy regverdigheid by die Vader.
Jesus se oorspronklike hoorders sou sy ‘Vaderhuis’ verstaan het as ’n verwysing na die tempel. Die tempel was die woonplek van God, en binnekort sou sy deure oopgegooi word dat mense toegang daarheen het. Dit is dramaties gesimboliseer na Jesus se kruisdood toe die voorhangsel van die tempel oopgeskeur het. Die weg na God se huis is oopgemaak. Toe die versoening vir ons sondes gedoen is, is die weg oopgemaak na die woonplek in die Vader se huis. Jesus sal dan deur sy Gees na hulle toe kom en Hy sal sy mense by die Vader laat bly.
So, Jesus is nie op die oomblik besig om kamers te bou vir ons om eers eendag in te woon nie. God se genade is groter as dit. Ons het nou reeds daardie woonplek by God om in vrede saam met Hom te lewe deur die werk van Christus.
Baie dankie vir n baie logiese uitleg wat werklik baie sin maak en voorwaar aktueel is.