4 Punte uit Hebreërs oor die Groot Herder

In Hebreërs 13:20 word Jesus as die Groot Herder beskryf. Lees hier wat ons in hierdie deel van Jesus leer.

deur ds Barend van der Westhuizen

Die boek Hebreërs is eintlik ’n preek. Dit is duidelik wanneer jy deur die preek lees hoe dikwels dit beklemtoon word dat dit God is wat praat. Daar is dan ook dikwels die dringende oproep om te hoor of te luister (Hebreërs 1:1-3; 2:1; 3:7; 5:12). Vanuit die preek is dit duidelik dat al drie Persone van God Drie-enig aan die woord is.

Hebreërs 1:1-2 maak egter met die intreeslag dit baie duidelik dat alhoewel God in die ou tyd (Ou Testament) op baie maniere gepraat het, praat Hy in hierdie eindtyd met ons deur sy Seun. Daar word in hierdie preek juis gefokus op Wie hierdie Seun is. Hy word op baie maniere aan ons beskryf; onder andere as: Eersgeborene, Middelaar, Borg, Leidsman, Voorloper, Here en Voleinder.

Dit is egter omtrent heel aan die einde van die preek met die seën wat daar nog ’n besondere beskrywing van Jesus is – Jesus as die Groot Herder. Dit is dan dié Groot Herder wat in hierdie eindtyd na ons as sy skape roep. Mag ons Hom hoor en na Hom luister. Soos Dawid kan ons die volgende tot Hom bid met die woorde van Psalms 119:176

Ek dwaal rond soos ’n verlore skaap; soek tog u dienskneg.


Kom ons kyk dan na die vers in Hebreërs wat Jesus as die Groot Herder van die skape beskryf:

En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is …

Hebreërs 13:20-21a

Vier belangrike punte uit Hebreërs 13:20

1. God word as die God van vrede beskryf

Paulus gebruik ook die beskrywing “God van vrede” as Hy van God praat (Romeine 15:33; 1 Korintiërs 14:33). God is die Bron van vrede. Hy is die Bewerker van vrede. Hy bewerk vrede tussen ons en Hom. Die engele sing spesifiek met Jesus se geboorte:

Vrede op aarde vir die mense in wie God ’n welbehae het.

Lukas 2:14

Tog sê Jesus in Matteus 10:34-35 dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie. Wat moet ons hiervan maak? Diegene wat die Vader deur die Heilige Gees na Hom trek deur die roepstem en werk van ons Groot Herder (Jesus) is diegene in wie Hy ’n welbehae het. Hulle ervaar sy vrede. Daar is ’n herstelde verhouding tussen God en sy kinders.

Elkeen van ons wat glo beleef hierdie vrede en leef in hierdie vrede met God. Diegene wat egter nie na die roepstem van Jesus luister nie leef in vyandskap met God. Die evangelieboodskap bring dus nie in hierdie bedeling voor die wederkoms universele vrede nie. Daar is dus ’n skeiding tussen gelowiges en ongelowiges. Ongelowiges tree ook dikwels vyandig teenoor die kerk op. Ons word egter ook geroep om vredemakers te wees (Matteus 5:9)

2. God maak deur Jesus vrede tussen ons en Hom moontlik

Die enigste rede hoekom daar vrede tussen ons en God is, is omdat Hy die groot Herder van die skape gestuur het. Hierdie Herder is Jesus Christus. In Johannes 10:11 beskryf hy Homself as die Goeie Herder. In Johannes 10:15-18 leer ons van sy goedheid omdat Hy sy lewe vir sy skape aflê. Hy sê dan ook: “en Ek het volmag om dit weer op te neem” (Johannes 10:17-18). Die goeie Herder sou sy lewe gee en dit weer opneem.

Paulus sê dan ook in Romeine 8:11 dat die Heilige Gees vir Jesus uit die dood opgewek het – dieselfde Gees wat in my en jou woon. Tog leer Hebreërs dan dat die God van vrede – ons Vader, die groot Herder van die skape uit die dood gelei het. Al drie Persone van die Drie-eenheid is werksaam in die opstanding van Jesus. Die Groot Herder wat gesterf het, het opgestaan en is opgewek. Daarom kan ons vrede hê.

3. Jesus word as die Groot Herder van die skape beskryf

Jesus word beskryf as die groot Herder van die skape. Hoekom die Groot Herder? In die Bybel word profete, apostels, woordbedienaars en ouderlinge as herders beskryf met ’n taak om die skape te versorg. Wie is die skape? Dit is elkeen wat glo! Dit is ek en jy.

Die gemeente is nie die dominees se kerk nie. Dit is nie die kerkraad se kerk nie. Dit is nie ’n sosiale klub nie – ons is God se skape. Skape van die groot Herder. Jesus sê vir Petrus in Johannes 21:16 “Pas my skape op”.

Dit is dié Groot Herder wat herders aan sy gemeente gee om sy roepstem te laat hoor (Efesërs 4:11). Hierdie herders moet die kudde versorg, nie met dwang of baasspelerigheid nie, maar vrywillig ooreenkomstig die wil van God totdat die Groot Herder verskyn (1 Petrus 5:1-4). Alle predikante en ouderlinge en lidmate behoort aan die groot Herder en staan in sy diens en moet na Hom wys.

Daar is iets wat Hom egter totaal anders maak, en daarom word Hy die Groot Herder genoem. Hy word so beskryf omdat alle “onderherders” na Hom wys en sê: “So sê die Here” – terwyl hierdie Herder sê: “Ek sê vir julle”. Alle onderherders sê: Dit is die waarheid van die Here; Hy sê: “Ek is die waarheid”.

Alle onderherders sterf, maar kon nie die dood oorwin nie. Hierdie Groot Herder oorwin die dood. Hy is groter as die dood. Hy neem sy lewe weer op. Die Vader lei Hom uit die dood uit. Hierdie is die Groot Herder omdat sy bloed nodig was om vrede tussen ons en God te bewerk.

4. Ons lewe in ’n verbondsverhouding met die Groot Herder

In watter tipe verhouding leef ons met die Groot Herder? ’n Verbondsverhouding! So ’n verhouding bestaan uit God wat beloftes maak en in die lig daarvan van ons verwag om sy eise uit te leef (altyd goeie Herderlike eise; tog dink ons tipies soos skape dat ons van beter weet).

Hierdie verbondseise vra egter ook dat die mens moet betaal vir die mens se sonde! Die straf vir ons sonde is die dood (fisies en ewig) – ons bloed moet vloei. Ja, in die bloed is die lewe (Levitikus 17:11). Daarom is die hele Ou Testament en Hebreërs ’n beskrywing van offerdiere wat plaasvervangend vir die mens se sondegeslag moes word; bloed wat egter nooit sonde kon wegneem nie (Hebreërs 9:9).

Moses sê met sy offerbul by die verbondsluiting op Sinaï die volgende van dié bloed in Eksodus 24:8: “Dit is die bloed van die verbond”. En Hy sprinkel dit oor die volk. Wat sê Jesus met die instelling van die nagmaal? Met die gee van die beker in Matteus 26:27-28 sê Hy: “Drink almal daaruit, want dit is My bloed, die bloed van die verbond”.

Al die bloed van al die diere het na Jesus gewys. Sy bloed is die bloed van die verbond. Die bloed wat moes vloei sodat die verbondseise plaasvervangend in ons plek na gekom sou word. In die lewe is die bloed! Sy bloed wat gevloei het maak dat daar vrede tussen ons en God is, maar ook dat ons vir ewig kan lewe. Dit is ’n ewige verbond



Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui