Bereken die koste van dissipelskap
deur ds. Ruan Steyn
Om ’n kind van die Here te wees, is net genade. Jesus Christus het die duurste prys betaal sodat ons as kinders van God kan leef. Maar, om ’n kind en dissipel van die Here te wees, gaan iets van jou vereis. Dit verg moeite en opofferings om ’n getroue dissipel van die Here te wees.
Die probleem vandag is dat baie mense in ’n verhouding met die Here wil lewe, maar hulle is nie regtig bereid om Hom te volg nie. Hulle is nie bereid om álles vir die Here te gee nie. Die Here moet tog net nie inmeng in hul finansies, leefstyl, familie, vriende, ensovoorts nie.
Die eise van dissipelskap
Ons lees in Lukas 14:25-33 oor die eise van dissipelskap. In die voorafgebeure lees ons dat Jesus ’n groot aanhang gehad het. Honderde mense het Jesus gevolg, na sy gelykenisse geluister en gesien hoe Hy wonderwerke verrig het. Jesus het geweet dat nie almal wat Hom aanhang, ware dissipels of volgelinge is nie.
Jesus stel die eise van dissipelskap duidelik aan sy aanhangers:
As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
Lukas 14:26-27
In hierdie Skrifgedeelte sien ons drie eise van dissipelskap:
- Jou verhouding met mense
Die Here sê nie dat jy nie verhoudings mag hê nie. Jesus maak dit duidelik dat wanneer jy sy dissipel is, gaan dit soms jou verhoudings met ander mense affekteer. Jy gaan jou geliefdes eenkant toe moet skuif sodat Jesus die eerste in jou lewe kan wees.
Jou familie/vriende gaan moontlik verwerp voel wanneer jy die Here eerste plaas, want Hy ontvang meeste van jou tyd en aandag. Jy gaan die besluit moet maak of Jesus die belangrikste in jou lewe is en of familie en vriende die belangrikste is.
- Jouself
Om ’n dissipel van die Here te wees, gaan nie altyd vir jou voordelig wees nie. Die Here eis dat jy van jou afgode ontslae raak. Jou tyd, geld en besittings behoort nie aan jou nie, maar aan die Here.
Jy gaan dalk jou gunsteling TV-program moet opgee, want die program gaan in teen die Here se Woord en jou Christelike waardes. Jy gaan jou status in die gemeenskap verloor wanneer jy volgens die Here se Woord lewe. Jou lewe gaan dalk in gevaar wees en jy gaan erge teenkanting ontvang.
- Jou besittings
Ons lees in Lukas 14:33: “So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”
’n Dissipel van die Here gebruik sy/haar besittings tot eer van die Here en tot uitbreiding en die opbou van sy koninkryk. As ’n dissipel van die Here moet jy besef dat die Here ook koning oor jou besittings is.
Die Here gaan dalk van jou verwag om van jou besittings weg te gee. Jy gaan dalk jou Netflix-rekening moet kanselleer sodat jy jou maandelikse offergawe getrou kan bydra. Jy gaan dalk nee moet sê vir die nuutste motor op die mark, vir ’n strandhuis, vir nuwe klere, ensovoorts.
Hoe word die koste bereken?
Daar is ’n verskil tussen aanhangers en volgelinge. Die Here lei jou sodat jy ’n keuse moet maak: Is jy’n aanhanger of is jy ’n opregte volgeling?
Jesus vertel twee kort stories om sy punt te maak.
- “Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom spot begin dryf. Hulle sal sê: Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie” (Lukas 14:28-29).
Hierdie man was onder die indruk dat hy besig was met iets belangrik, maar eintlik het hy homself net geskaam. Jy kan onder die indruk wees dat jy besig is met die dinge van die Here, maar eintlik het jy jouself geflous. - “Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?” (Lukas 14:30).
Die koning is nie eerlik oor die koste van oorlog nie. Dit gaan hom duur te staan kom.
Die Here lei jou om te oorweeg of jy bereid is om die prys van dissipelskap te betaal. Die prys van dissipelskap word aan ons gegee: Is jy bereid om jou familie en vriende, jouself en jou besittings op die agtergrond te skuif, sodat Jesus op die voorgrond in jou lewe kan wees?