Word ’n heilige priesterdom vir God

God roep ons om tot Christus te nader en om as priesters geestelike offers te bring wat vir God welgevallig is. Lees hier.

deur ds Marnix Boersema

Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring.

1 Petrus 2:5

In 1 Petrus 2:5 kry ons elkeen ’n aansporing; ’n indirekte opdrag. Christene, die lewende stene, ontvang hier die baie spesiale roeping om in hulle lewe al hoe nader aan die Hoeksteen te kom. Dit is ons roeping in die Kerk om ons te laat opbou. Ons word aangespoor om op dié manier geestelik te groei.

Hier is iets besonders aan die manier hoe hierdie vers in die oorspronklike taal geskryf is. Wat hier staan is, dat gelowiges opgebou word soos wat hulle nader aan die Here Jesus Christus beweeg. Christus, wat die hoeksteen is, bou self sy geestelike huis met die gelowiges wat sy lewende stene is.

Die Here gee deur sy Heilige Gees vir die gelowiges gawes om daarmee te help:

… dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

Efesiërs 4:11

So alle mense word geroep om te bekeer en glo in Jesus Christus. En ons wat dan wel bekeer en glo, is geroep om as God se geestelike huis geestelik opgebou te word. Maar die apostel Petrus sê verder dat ons nie net God se geestelike huis is nie. Ons is ook sy heilige priesterdom.

Priesters in die Ou Testament

In die Ou Testament was dit net mense uit die stam van Levi wat priesters gemaak is. Die Levitiese priesters se verantwoordelikheid was om mense te reinig; veral deur offers te bring. Die priesters moes namens die sondaar en namens die volk by God intree. “Intree” beteken, die priester moes eintlik in wese tussen die sondaar en God gaan staan om met die offers te pleit vir vergifnis.

Priesters vandag

Nou, in die Nuwe Testament na die hemelvaart van die Here Jesus is daar nie meer Levitiese priesters wat vir mense hoef in te tree nie. Hoekom nie? Want Christus self is nou ons Hoëpriester in die hemel. Hy tree nou vir ons in! Hy pleit vir ons vergifnis by die Vader met sy een offer aan die kruis (Hebreërs 8:1).

Daar is nou ’n nuwe priesterorde – die priesterdom van gelowiges. Die Hoëpriester in die hemel gee sy Gees om ons sy heilige priesterdom te maak. Nou is daar nie net sekeres van ons wat priesters is nie, maar elke Christen is ’n priester!

Die ou Levitiese priesters het offers gebring by die tempel. Maar ons, die nuwe priesterdom, se priesterlike werk is nie beperk tot ’n fisiese aardse gebou nie. Daar is mos nie meer ’n fisiese aardse tempel nie, want gelowiges is die lewende stene in die geestelike tempel! ’n Christen kan nie werk om tempel te word of deur een of ander geestelike bevording ’n priester word nie.



Die roeping om as priesters geestelike offers te bring

Dit is gelowiges se roeping om as priesters van God geestelike offers te bring. Wat is ’n geestelike offer? Hoe lyk dit en hoe bring ’n mens so ’n offer? Die apostel Paulus verduidelik:

Gee julleself (=letterlik “liggame”) aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Romeine 12:1

Wanneer die Here ons sy priesters maak, dan lê Hy beslag op jou hele liggaam en jou hele lewe. Daar is nie net ’n deel van ’n Christen se lewe wat geestelik is en waar hy geestelike offers bring nie. ’n Christen se roeping as priester, is om met sy liggaam en in elke aspek van sy lewe geestelike offers vir God te bring.

Hoe bring ’n mens dan met jou liggaam en lewe geestelike offers aan God? Ons bring hierdie geestelik offers aan God deur ons naaste te dien. Ons geestelike offers bestaan uit liefde vir God en daarom ook liefde vir my naaste. Dit is die hele wet, maar dit oorspan ook elke aspek van ons hele lewe!

Ons geestelike offers is deur Christus vir God welgevallig

Op ons eie is ons priesterlike werk onvoldoende en ons geestelike offers skiet ver te kort. Maar, as priesters van God, bring ons nie in ons eie hoedanigheid offers nie. Ons hele liggaam en lewe is gereinig met die offerbloed van ons Hoëpriester, Jesus Christus. Die goeie werke wat ons vir ons naaste doen en vir die Here gee, word deur ons Here Jesus geheilig en aanvaarbaar gemaak vir God.

So word ons geestelike offers deur Christus “welgevallig” vir God, sê 1 Petrus 2:5. Wat beteken welgevallig? Dit beteken nie net dat God ons offers deur Christus aanvaar nie, maar dit is vir Hom baie aangenaam. Miskien kan ons selfs sê, die offers wat ons deur Christus offer, bring vir die Here groot vreugde.


Onthou dan, waar ons ookal is, is ons deel van God se geestelike tempel. En, omdat ons deel is van God se heilige priesterdom gee Hy vir ons roepings in die wêreld. Hy gee vir ons verskeie geleenthede en verantwoordelikhede, sodat ons geestelike offers aan Hom kan bring. Wat ons ookal doen, doen ons dan as priesters van God.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui