Die Herder gee om vir sy een verlore skaap
Die Here is besorg oor elke liewe een van ons. Lees hier wat ons uit die gelykenis van die verlore skaap in Lukas kan leer.
deur Philip Wepener
In die Bybelse tyd was skape waardevolle eiendom vir herders gewees. ’n Herder het sy skape gelei na weivelde om gras te eet en na waters om te drink. Dikwels het hy sy lewe gewaag om hulle teen gevaarlike diere soos wolwe, leeus en bere te beskerm. Sou een van die skape in ’n diep sloot geval het, het hy afgeklim om hom te red.
’n Herder het baie tyd saam met sy skape deurgebring en selfs partykeer by hulle oornag. Hy het elkeen op die naam geken en hulle getel om seker te maak hulle is voltallig. Sou een skaap van die res van die trop weggeraak het, het hy uitgegaan om hom te soek tot hy hom vind. Hy sou natuurlik baie verlig en bly wees as hy sy skaap gevind het. En sou daar iets ernstig met die skaap gebeur het, soos ’n besering of dat hy hulpeloos lê en weier om te beweeg, het die herder hom op sy skouers huis toe gedra.
Dieselfde beskrywing kry ons in die gelykenis van die verlore skaap in Lukas 15:1-7.
Wat is ’n gelykenis nou weer?
Ons Here Jesus het tydens sy bediening hier op aarde gewone gebeuternisse uit die alledaagse lewe gebruik om ’n boodskap aan sy gehoor oor te dra. Hy het dit gedoen in die vorm van gelykenisse te vertel. ’n Gelykenis kan beskryf word as ’n aardse verhaal met ’n hemelse boodskap. Ons Here wil in die verhaal ’n bepaalde punt illustreer.
Soms is ’n gelykenis baie moeilik om te verstaan en ander kere is dit maklik veral wanneer ons Here self die verklaring gee. In hierdie geval is die gelykenis van die verlore skaap maklik vir ons om te verstaan omdat Jesus die verklaring gee.
Verlorene tot gevinde
In die gelykenis van die verlore skaap los die herder sy nege-en-negentig skape om na die een te gaan soek wat verlore is. Hy gaan agter die een aan wat kwesbaar en alleen is; wat nie op sy eie sy pad na sy herder en huis kan terugvind nie. Die herder het sy verlore skaap gekry. Hy was so bly dat hy selfs sy skaap op sy skouers huis toe gedra het en sy vriende en bure bymekaar geroep het om saam met hom fees te vier.
Hoekom die nege-en-negentig skape agterlaat om die een te gaan soek?
Die herder was bereid om sy nege-en-negentig skape agter te laat om die een verlore skaap te gaan soek. Hierdie konsep kan moontlik in ons gedagtes nie sin maak nie. Waarom sal ’n herder sy groot trop skape vir net een opoffer?
Ons moet onthou dat dit ’n net gelykenis is en dat dit in ’n bepaalde konteks vertel word. Jesus vertel hierdie gelykenis in reaksie op die Skrifgeleerdes en Fariseërs (Lukas 15:1-2). Hulle het gekla dat Jesus tyd saam met sondaars spandeer en saam met hulle eet. Jesus spreek die Skrifgeleerdes en Fariseërs se skynheilige gedrag aan. Hulle verstaan nie dat Hy gekom het om sondaars te soek en te red nie. Dit is juis die punt van die gelykenis. Die gelykenis gaan nie oor die nege-en-negentig skape nie, maar om agter die een aan te gaan wat verlore is en dié te vind.
Jesus se verklaring en verblyding!
Jesus gee vir ons die verklaring van die gelykenis (Lukas 15:7):
Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.
Voordat elkeen van ons tot bekering gekom het, was ons hierdie verlore skaap. Ons was verlore, maar Jesus, ons goeie Herder, het ons gesoek en gevind. As Hy ons nie gesoek het nie, sou ons steeds verlore gewees het. Oor elke skaap, elkeen van ons wie Hy getel het, gee Hy om. Hy laat nie een van sy skape verlore gaan nie. Hy het sy lewe vir hulle afgelê en Hy het hulle almal gemerk met sy bloed – ons behoort aan Hom vir ewig! Hy het elkeen van ons op sy skouers met blydskap geneem en ons teruggedra waar ons moet wees, naamlik in die Vaderhuis.
Hoe wonderlik is dit om te hoor dat daar selfs blydskap in die Vaderhuis (hemel) is. Dit beskryf hoe ons goeie Herder oor ons voel. Ons is so waardevol vir Hom (vgl. Lukas 12:7) dat Hy nie net bly is wanneer Hy ons gevind het nie, maar Hy almal in die hemel oproep om saam met Hom bly te wees. Die bekering van ’n sondaar is so in die hemel aangenaam – amper soos wanneer die lenteseisoen terugkeer!
Volg ons goeie Herder se voorbeeld na
Nou nog vandag is ons goeie Herder besig om sy een verlore skaap te soek en te vind. Sy skape is nog nie 100% voltallig nie. Daarvoor gebruik Hy ons in sy diens en stuur ons uit om sy een verlore skaap te gaan soek en te vind.
Is ons gewillige herders wat dit doen? Bid ons vir sondaars om tot bekering te kom? Bring ons hulle saam kerk toe? Lees ons saam met hulle Bybel en bid ons saam met hulle wanneer die geleenthede daar is? Is my tuisgemeente ’n kerk wat uitreik na verlorenes (vgl. Matteus 28:19-20)? Is ek op een of ander manier in my lewe betrokke om die evangelie aan ander uit te dra, soos bv. in katkisasie, op kampe en uitreike sowel as aan die armes?
Word ons bly as sondaars tot bekering kom? Maak dit ons bly wanneer ’n kind of ’n volwassene deur die Heilige Gees verlos en lewend gemaak word tot geestelike lewe? Selfs as dit net een is, laat ons grootliks verheug saam met die goeie Herder en die hemel as iemand tot bekering gekom het en ’n nuutgemaakte kind in Jesus is!