Bid dat jy sal volhard deur versoeking

Wanneer ons vra om nie in versoeking te kom nie, moet ons mooi verstaan wat dit beteken én wat dit nie beteken nie.

deur ds. Ruan Steyn

Ons situasie lyk soms so sleg dat ons nie weet hoe om die Here in gebed te nader nie. Gelukkig, deur die genade en voorsienigheid van God, het Jesus vir sy dissipel die mooiste en mees perfekte gebed geleer, naamlik Die Onse Vader. Ons bid met die sesde bede: “en laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose” (Matteus 6:13). In hierdie bede leer ons meer spesifiek om tydens moeilike situasies te bid, te vra dat die Here ons geloof sal versterk en dat Hy ons staande sal hou.


Wat ons nié van God vra nie

Wanneer ons bid en vra dat die Here ons nie in versoeking lei nie, vra ons nie dat die Here ons nie sal versoek om sonde te doen nie. God is in die eerste plek nie die oorsprong van sonde nie. In die tweede plek lei God ons nie om sonde te doen nie. Jakobus leer ons dat ons nooit moet sê “‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie” (Jakobus 1:13). Sondag 52 van die Heidelbergse Kategismus bely dat die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur die oorsprong van ons direkte versoekinge is – en nie God nie!


Versoeking toets en versterk ons geloof

As gelowiges glo en bely ons egter in die voorsienigheid van God, “dat alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom” (Heidelbergse Kategismus Sondag 10, Vraag en Antwoord 27). Alhoewel God nie die oorsprong van versoekinge is nie, laat Hy dit egter toe om ons geloof te toets en te versterk. Job is ’n voorbeeld waar God toegelaat het dat Satan hom versoek. Job het die versoekinge weerstaan. Ten spyte van die erge hartseer wat Job ervaar het nadat al sy kinders gesterwe het en hy al sy besittings verloor het, het hy steeds in die geloof volhard. Job was steeds getrou aan die Here.

Die woord wat vir versoeking gebruik word se eenvoudige betekenis is “om te toets”. Wanneer ons bid en vra dat die Here ons nie in versoeking moet lei nie, bid ons nie dat ons nooit getoets sal word nie. Om getoets te word, is ʼn goeie en noodsaaklike deel van ons geloofslewe. Jakobus bevestig dit wanneer hy skryf: “soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard” (Jakobus 1:3). Versoekinge/beproewinge versterk ons geduld en geloof. Dit wys vir ons waar ons swakhede lê sodat ons daaraan kan werk. Versoekinge wys vir ons die valse fondasies waarop ons bou, sodat ons ons fondasies op Christus kan bou.


Wat ons van God vra

Wat vra ons vir God wanneer ons bid dat Hy ons nie in versoekinge sal lei nie en ons van die bose verlos?

  1. In die eerste plek pleit ons by die Here dat Hy ons sal beskerm vir wanneer ons geloof getoets word deur allerhande versoekinge. Dit is soms makliker om op te gee wanneer ons al hierdie versoekinge ervaar. Ons bid juis dat die Here ons staande sal hou. Ons kan saam met die psalmdigter van Psalm 103 bely dat ons swak is en nie een oomblik sonder die Here staande kan bly nie.
  2. In die tweede plek pleit ons dat die Here vir ons deur sy Gees krag sal gee om versoekinge te weerstaan. Jesus Christus was self deur Satan in die woestyn versoek (Matteus 4). Jesus, wat self God is, kon staande bly deur versoekinge te weerstaan. Satan het gedink dat hy die Here gaan oorwin deur Hom te versoek. Die teenoorgestelde het egter gebeur: Jesus het Satan oorwin!
  3. In die derde plek pleit ons dat ons in die geloof sal volhard. Ons sien nie altyd die rede waarom sekere dinge met ons gebeur nie. Ons kan wel glo dat wanneer slegte dinge met ons gebeur en wanneer ons tot die uiterste versoek word, “weet ons dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat volgens sy besluit geroep is” (Romeine 8:28).

Laat ons daagliks bid vir beskerming teen die Bose en genade om getrou aan die Here te bly! Mag ons die woorde van Paulus, wat ons in 1 Korintiërs 10:13 lees, ter harte neem:

Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.


Lees die artikel, “Hoekom is gebed so belangrik vir ’n Christen se geloofslewe?”, ’n inleiding tot die Onse Vader, en hoekom jou gebedslewe so belangrik is vir jou geloofslewe. Volg dan ook die skakel na elkeen van die bedes wat die Onse Vader uitmaak om meer daarvan te leer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui