Wat beteken Jesus se gebed aan die kruis?

Aan die kruis bid Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie …” Lees hier vir wie Jesus bid en wat dit vir ons beteken.
deur Jacques Kühn
Lees gerus Lukas 23. In die boek en in die hoofstuk fokus ons op vers 34, waar ons die eerste kruiswoorde van ons Here Jesus Christus hoor. Ons Here Jesus bid:
Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie …
Lukas 23:34 (1983 vertaling)
Jesus se eerste uitspraak is ’n gebed vir sy vyande
In ons Here Jesus se sewe uitsprake aan die kruis, begin Hy nêrens anders nie as by sy hemelse Vader. Hy tree in gesprek met sy Vader. Dit is wanneer ons besef in watter omstandighede Jesus hierdie woorde bid wat ons werklik verstom gelaat word.
In hierdie tyd is Jesus reeds deur een van sy eie dissipels verraai en die res het hulself van die toneel onttrek. Hy ervaar die ondraaglikste pyn en lyding en is erg mishandel. Sy bloed vloei uit sy wonde en hy word in die openbaar bespot en vervloek.
Tog, ondanks hierdie omstandighede, skree Hy nie en word Hy nie kwaad nie. Jesus Christus bid nie wraak oor sy vyande nie, of om van die pyn en lyding verlos te word nie. Nee, Hy bid vir sy vyande, want Hy weet wat in hul harte gebeur. Hy weet dat hulle nié weet Wie Jesus is nie. Hulle harte van klip is nog sterk aan die klop. Hulle kruisig ’n onskuldige man, saam twee misdadigers.
Onder al hierdie omstandighede het die Here steeds sy Vader. Daarmee saam het Hy ook nog liefde vir sy vyande en sondaars. Hy bid vir hulle, want Hy het dit self aan sy dissipels geleer:
Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir die wat julle vervolg …
Matteus 5:44, 1983-vertaling
Volg die voorbeeld van Jesus
Ons Here Jesus leer ons om sy voorbeeld te volg. Wanneer iemand ons leed aandoen, vervolg, vervloek, bespot of dreig met die dood, moet ons vir hulle bid. Ons moet vir hulle bid, want hulle besef nie wat hulle doen nie. Hulle besef nie die wil van God nie.
Maar ons Here is instaat om hulle harte van klip te verwyder en hulle ’n hart van vlees te gee, sodat hulle God kan ken, in Hom kan glo en Hom kan dien.
Hoe gemaak om vir ons vyande te bid?
Ons moet egter eerlik wees. Dit is nooit maklik om vir jou vyande te bid nie. Net die gedagte van die persoon maak mens al die mure van die huis wil omhardloop. In moeilike tye kan dit selfs ons persoonlike verhouding en gebed met die Here raak. Dit raak moeilik om met die Here te praat, want ons voel of die gebede net teen die plafon bots en nie gehoor word.
Ons moet dan veral in hierdie tye aan die Onse Vader in Matteus 6 dink. Ons Here Jesus leer ons om te bid dat die Here ons skulde moet vergewe, want ons weet ons verdien nie die genade van die Here nie.
So moet ons ook vir ons vyande bid, want hoewel hulle ons lewens bemoeilik, lê die rede en bevel van vergifnis in ons Here Jesus Christus opgesluit. Nie net beveel die Here ons om die Vader te nader en die oordeel en straf aan die Here oor te laat nie, maar om vrede in die wil van God te kry.
Jesus Christus bid vir elkeen van ons
In Jesus se gebed aan die kruis bid die Here selfs vir ons. Ja, want ons sondes het Hy ook betaal aan die kruis. Hy sluit ook nie enige sonde uit nie en noem selfs nie eers name, volke, geslagte of arm of ryk mense om te sê dat Hy slegs vergifnis vir sekere van sy vyande van die Vader smeek nie. Hy bid daarom selfs vir ons sondes.
Hoe troosryk is die gebed van ons Here nie? Ongeag van wat jou sonde is smeek die Here daarvoor vergifnis vir ons by sy Vader. Hiermee is die gebed egter nie die versekering van vergifnis nie, ’n ware geloof in ons Here Jesus Christus is.
Die Heilige Gees is die waarborg van jou verlossing, kindskap en die ewige lewe. Slegs die sonde teen die Heilige Gees is die onvergeeflike sonde. Om in jou sondige lewe te volhard en geen berou en bekering te hê, wat die Heilige Gees nie in jou hart bewerk nie.
Wees dankbaar vir Jesus Christus se gebed
Ons kan dus met soveel dankbaarheid die Here loof en prys vir sy genade, dat ons in Hom kan glo en sy kinders mag wees. Dat Hy vir elkeen van ons bid, omdat Hy aan die kruis sy lewe vrywillig offer, sodat ons volkome vergifnis van al ons sondes kon ontvang. Presies omdat ons nié geweet het Wie Hy was nie, maar nou deur ons Here Jesus Christus wel sekerheid en duidelikheid gegee is oor Wie God is. Bid en vergewe jou vyande, omdat jy glo in ons Here Jesus Christus, wat vir jou sonde gebid en dit met sy bloed vergewe het.