Wat is jou dag en datum van bekering?
Mense sal dikwels gesels oor die presiese tyd wat hulle tot bekering gekom het. Maar wat as jy nie so dag en datum het nie, wat sê jy dan? Lees hier.
deur ds Lohan Linde
Jy is 15 jaar oud (of 16, of 14, maar die gebeur gewoonlik as jy 15 rond is) en jy is al jou hele lewe deel van die kerk. Jy doen getrou (of getrouerig) jou katkisasie, jy gaan saam met jou ouers kerk toe op Sondae, en jy woon meeste van die jeugaksies of jeuggeleenthede by. Tog is jy 15, jy is ’n tiener. Dalk weet jy nie waar jy in die samelewing inpas nie, jy is heeltemal tussen die boom en die bas. Jy soek iets. Dalk iets meer innig, iets meer naby, iets meer “genuine”.
Die soeke na iets meer
Nou begin jy wonder of die gevoel sal weggaan as jy iets meer kan doen met jou geloof. Deur iets te verander in jou godsdiens. Nou gebeur dit van tyd tot tyd dat daar sulke opflikkerings sal kom in jou skool of gemeenskap. Mense sal begin praat oor iets. Of dit nou Jo Black of Angus Buchan, Gretha Wiid of wieookal is.
Jou vriende begin praat, jy moet hierdie kom hoor, hierdie kom luister, saamkom na hierdie groep toe, kom luister wat hierdie persoon/sanger/band/groep doen of sing of sê. So word jy saamgesleep na een van hierdie gebeurtenisse toe. Dit is lekker, jy sing saam, jy gesels saam, jy neem deel. Dan aan die einde, is daar die oproep: ”Die wat waarlik hulle harte vir die Here wil gee, kan nou na vore kom, en ons sal vir julle bid!”
Ek was 15, kan nie eers die groep se naam onthou nie, die ou het soos Michael Jackson gedans, almal was daar, selfs die stoutste klomp in ons groep, en ’n groot klomp het vorentoe gegaan. Vir my was dit nie groepsdruk nie, dit was die soeke na iets meer, dalk iets tasbaar in hierdie tyd van my lewe, hierdie tyd van onseker wees oor meeste dinge.
As die soeke na meer nie die antwoord is nie
Toe ek na die tyd terugstap huis toe, voel ek nie anders nie. Dit pla my, wat nou, hierdie was veronderstel om ’n groot oomblik te wees.
Ek besef toe: Die Here is nog altyd deel van my lewe. God is nog altyd daar. Deur sonde en rebelsheid en sommer pure ongehoorsaamheid probeer mens sy Stem ignoreer, maar dit werk nie. Hy sê dit:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
Jesaja 43:1
Die antwoord lê by God
Die dag toe jy gedoop is, is hierdie bevestig. Ek wat in ’n gelowige huis grootgeword het, met ouers wat hulle doopbelofte nakom, is lankal deel van God se kinders. Al wat ek van hier af kan en moet doen is om hierdie te versterk, deur naby die Here te leef, met Hom te praat, en moeite te doen met my Bybellees en studie.
Maar wat is my dag en datum dan?
Maar wat doen ek as iemand my vra of ek ’n dag en ‘n datum het? Veral vriende wat hulle geloof uitleef?Daar is twee goeie voorbeelde vir ons in die Bybel.
1. Paulus kom skielik tot bekering
Eerstens Paulus, hy het ’n dag en ’n datum gehad wat hy tot bekering gekom het. Op reis na Damaskus, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. (Handelinge 9) Eensklaps word sy lewe verander. Niks was ooit weer daarna dieselfde nie.
2. Timoteus kom oor ’n leeftyd tot bekering
Bietjie later in Handelinge 16 lees ons van die ander voorbeeld: Timoteus. Daar word orals met groot lof gepraat van Timoteus. Paulus skryf selfs ’n brief vir hom. Maar Timoteus sou nie ’n dag en datum gehad het nie, want sy ma en ouma was diep gelowig, en het hom so grootgemaak.
Wortelbekering is iets wonderlik wat met mense gebeur wat vyande van God was, soos Paulus. Dit is ’n eensklaps, of dalk bietjie langer proses, waar die persoon tot bekering kom. Wat elke gelowige wel moet doen, is daaglikse bekering.
Ons kom daagliks tot bekering
Jesus self vertel vir ons van daaglikse bekering
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.”
Lukas 9:23-24
Daaglikse bekering beteken om onsself daagliks voor die Here neer te buig, ons sonde te bely, en hierdie wonderlike pad enduit saam met God te stap.
So as iemand jou vra oor jou dag en datum? Dit was vandag; vanoggend; dit was toe ek die ou mens afgesterf het, en weggevlug het van die sonde. Ek het my kruis opgeneem en Hom gevolg.
Vrae en antwoorde uit Die Heidelbergse Kategismus Sondag 33
“Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a).
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens?
Antwoord: Dit is ‘n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a).”
Gaan lees gerus die volgende antwoorde ook.