Gelowiges se politieke beginsels

Die kerk en politiek het ’n lang geskiedenis van verweef wees. Maar wat moet die Christen se opinie oor politiek staaf? Lees hier.

deur ds Lohan Linde


Dit voel die laaste ruk of iemand ’n byenes geskop het wat rustig op sy eie gestaan het en nie te veel mense die heeltyd gepla het nie. Dit het begin met Donald Trump se tweede oorwinning in Amerika, en Elon Musk wat uitsprake gelewer het oor wat in Suid Afrika aangaan.

Skielik moes almal ’n opinie hê. Solidariteit en Afriforum word ingetrek, en net daar is dit chaos orals. Voeg dan nog by die oorlog in Rusland en Oekraïne, en ons politici se standpunte oor Israel en Gaza, en jy het ’n warboel in ’n mallemeule.

Selfs die bakleiery tussen Trump en Zelensky in die Wit Huis het die nasie in twee kante verdeel, met besonder baie opmerkings en opinies oor wie reg is en wie verkeerd is. Dit voel amper asof almal nou gedwing word om ’n opinie te hê, en almal probeer almal anders oortuig dat húlle opinie die waarheid is.

Voor jy jou opinie ook gee, staan eers ’n tree terug en dink: Waarop moet jy jóú opinie baseer? Wat is die bril waarmee ’n gelowige na die wêreld kyk?


Wat is die beginsels wat ’n gelowige moet volg as dit by politiek kom? 

1. Geloof is nie ’n spansport nie

Een van die groot foute wat gemaak word, is om mense as groepe in kampe te plaas. Ons doen dit self; dikwels onnadenkend. Ons sal iets sien oor Israel in die Ou-Testament, en dan dadelik besluit dat dit net so te doen het met ons as Afrikaners. Ons volk, ons taal, ons kultuur is direk op dit wat met Israel gebeur het van toepassing.

So raak dit baie makliker om ’n politiese argument te maak, want nou het jy ’n ons versus hulle, God se uitverkore volk versus die “heidene”-tipe argument, wat jy uit die Bybel probeer staaf.

Hier moet die gevaarligte flikker. Geloof, ware geloof, om ’n Christen te wees, is nie meer in die eerste plek ’n spansport nie. Jesus Christus het die skeiding hierin gebring. Jy is nie meer verlos, spesiaal, uitverkies, omdat jy aan die volk Israel behoort nie:

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.”

Lukas 3:8 (Gaan lees gerus die hele Lukas 3 vir meer konteks).

2. Ons is een in die liggaam van Christus

Die enigste span wat nou in plek van die volk Israel gekom het, is die ware liggaam van Christus. Hierdie liggaam bestaan uit elke uitverkore persoon wat aan Christus behoort, en deur God uitverkies is.

Dit strek oor elke politiese, kulturele, nasionale, watter ookal grens heen, en vorm ons saam tot ’n eenheid. Dit is die belangrikste groep waaraan ons behoort. As ons dit in gedagte hou, en dit ons uitgangspunt is, dan is dit ons elkeen seker geoorloof om ’n opinie, of self ’n politiese affiliasie te hê.

Dan kan mens die goeie werk ondersteun wat Solidariteit, Afriforum en ander organisasies doen, maar ook weet dat jy vir hulle mag sê as jy nie met iets saamstem nie. Dit is dan op dié organisasie of hulle luister en verantwoording kan doen.

3. Jy is ín die wêreld, nie ván die wêreld nie

As ons terugkom by politiek en die Bybel, wil ek wel nog een beginsel neerlê. Dit is Jesus se woorde in Matteus 5:13 en 14:

Julle is die sout vir die aarde.

Julle is die lig vir die wêreld.

Jesus sê vir ons: “Julle is”. As jy my volg, is jy, sout en lig. Ons is sout vir die aarde en lig vir die wêreld. Kyk mooi. Sout vír die aarde: Ons ís nie die aarde nie, ons ís nie die wêreld nie. Ons is nie deel van dit nie. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Dit gee ons ’n ander aanslag. Om sout te wees, beteken veral in die konteks van politiek, om ’n keermiddel teen korrupsie en besoedeling te wees. Ons sien werklik wat in die wêreld aangaan, want ons weet hoe sondig en korrup alles is wat nie aan God behoort nie, so nou die opdrag om anders te wees.

Ons het die opdrag om profeties op te tree teen dit wat verkeerd is in die wêreld, om te sê: Nee, hierdie anti-Christelike tydgees waarin ons nou leef, is nie iets waarin ek gaan deelneem nie, en ek gaan myself vir seker nie daarmee vereenselwig nie, want ek kyk deur die bril van die Woord en my eie Verlossing na dit, so omdat ek anders is, sien ek dit ook anders.

As ons almal nugter en eerlik hierdie beginsel toepas, kan dit dalk meeste van die gif uit die angels haal waarmee ons mekaar bestook.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui