Kan God ’n tafel in die woestyn dek?

In Psalm 78 word genoem dat Israel doelbewus God uitgedaag het met die vraag: “Kan God ’n tafel dek in die woestyn?” In reaksie het God twee dinge gedoen wat wys dat Hy by magte is om ’n tafel in die woestyn te dek, en hoekom ons op Hom kan vertrou!

deur ds Philip Wepener

Die Bybel openbaar regdeur vir ons dat God magte is om enigiets te kan doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie! Maar baie keer leef gelowiges hulle lewe asof dit nie waar is nie.

In die Bybel self kry ons sulke gevalle. Abram en Sara lag in ongeloof, want hoe is dit moontlik dat God vir hulle ’n kind kan gee in hulle bejaarde ouderdom (Genenis 18:1-15). Dan vra God vir Abram: “Is enigiets te wonderbaarlik vir My?” (Genenis 18:14). Toe op die bestemde tyd het Abram en Sara vir Isak gekry (Genesis 21:1-8).

Ons kry dieselfde geval by God se volk (Psalm 78:17-31). Israel wat sy groot magtige dade gesien het, het in hulle kleingeloof gevra: “Kan God ’n tafel dek in die woestyn?” (Psalm 78:19). Is dit enigsins vir Hom moontlik?

Psalm 78 leer ons dat dié God wat ons dien is by magte om ’n tafel te dek in die woestyn – ja, in omstandighede wat menslik gesproke buitengewoon en onmoontlik lyk.


God is by magte om ’n tafel te dek in die woestyn

Nadat God Israel deur die Rietsee gelei het, het Hy vir hulle begin wys dat Hy by magte is om vir hulle te sorg totdat hulle in Kanaän sal intrek. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei en snags met ’n vuurkolom. Hy het rotse in die woestyn oopgekloof en strome van water vir hulle gee.

Maar selfs nadat Israel al hierdie groot dinge gesien het wat God in hulle midde doen, het hulle in hul harte gevra: “Kan God ’n tafel dek in die woestyn?” Hoe uiters skokkend is hierdie vraag! Ten spyte van God se voortdurende voorsiening in die woestyn, vra hulle: “Kan God ‘n tafel dek in die woestyn?”

Die volk daag God uit met hul vraag

Hierdie was egter nie ’n onskuldige vraag nie. Psalm 78:18 sê duidelik dat hulle doelbewus God uitgedaag het. Met ander woorde, hulle het Hom getoets. Ons weet die aard van toets is om te bepaal waartoe iemand werklik in staat is. Israel het moeg geword vir God se basiese voorsiening. Hulle wou meer gehad het. Hulle wil luukse kos hê na hulle eie smaak, soos wat hulle in Egipte gehad het (vgl. Eksodus 16:3-4; Numeri 11:5). Maar is dit tog moontlik vir God om dit hier in die dorre woestyn te gee?

God antwoord die volk se vraag

Hoe het God op hierdie vraag van Israel gereageer? Ons lees dat God op twee maniere gereageer het:

  • God het brood en vleis op hulle oorvloedig laat reën – en dit nog binne-in en rondom hulle kampe. Hulle het geëet en hulle was heeltemal versadig. Soos die ou mense sal sê: “hulle versadig was dik”. Ja, God was by magte om ’n tafel vir hulle te dek. Elke dag, soggens en saans, was God by magte om kos vir meer as twee miljoen Israeliete in die woestyn te voorsien. Wat ’n wonderlike en almagtige God is Hy!
  • Maar dit was nie al wat gebeur het nie. Ons lees ook dat God woedend vir Israel geword het. Die vleis was skaars tussen hulle tande, toe ontvlam God se toorn. Baie van die Israeliete het gesterf en baie van hulle is op hulle knieë gebring.

Vertrou op God – niks is vir Hom onmoontlik nie!

God is by magte om ’n tafel te dek in die woestyn! God is by magte om vir ons te sorg, al gaan dit soms swaar. Al ervaar ons tye asof ons in ’n dorre woestyn leef. Ons finansies wat min raak. Kostes wat geweldig opgaan – alles gaan net die heeltyd op! Die kommer dat ons vanjaar nie ’n goeie reënseisoen gaan hê nie. Indien dit vir ons voel asof ons in ’n dorre woestyn leef, kan ons moed uit hierdie Psalm skep. Al lyk dit vir ons onmoontlik, God kan. Niks is vir Hom onmoontlik nie!

Moenie God toets nie

Onthou dat God nie noodwendig altyd gee wat ons wil hê nie, maar wat ons nodig het. Daarom kan ons op Hom vertrou. Dit is die oproep van Psalm 78. Vertrou op Hom! – en moenie Hom toets nie. Dit is nog ’n les wat ons moet leer. God hou nie daarvan as ons Hom toets nie. Bowendien, Hy verbied dit (Deuteronomium 6:16-25; Lukas 4:12). Hy het dit nie nodig om getoets te word nie, want Hy is God. Hy verwag onwrikbare vertroue van sy kinders dat Hy vir hulle ‘n tafel kan dek.


Voorbeelde dat God ’n tafel kan dek in buitengewone omstandighede

God se krag en vermoë is oneindig groter as ons menslike begrip. Hy het die mag om te doen ver bo alles wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20). Hy trotseer ons verwagtinge; sy weë is hoër as ons weë (Jesaja 55:8-9). Hy is by magte om ’n tafel te dek in buitengewone omstandighede, soos in ’n woestyn. Die Bybel is vol voorbeelde, nie net Psalm 78 nie.

Kom ons lig ’n paar enkeles uit:

  • Dink aan Sara se Egiptiese slavin Hagar. Hagar het haarself nie net een keer nie, maar twee keer in die woestyn bevind (Genesis 16:6-16; 21:9-20). Die eerste keer was omdat sy weggevlug het en tweede keer was omdat sy weggestuur is. Op beide plekke in die woestyn het die Engel van die HERE basiese voorsiening vir haar gegee.
  • Elia het self ondervind dat God by magte is om ’n tafel te dek in die woestyn. In 1 Konings 17:2-6 beskik God ’n spruit vir Elia om uit te drink en Hy beveel die kraaie om soggens en saans brood en vleis vir hom te bring.
  • Te midde van ’n groot droogte, sorg God dat ’n weduwee en haar seun se meel in ’n kruik nie opraak nie, en die olie in ’n kan nie minder word nie (1 Konings 17:9-16).
  • Seker die aangrypste is ons Here Jesus Christus. In Matteus 4:11 na ons Here se versoeking in die woestyn, stuur God sy engele om Hom te versorg. In Markus 8:1-10 het die skare in die woestyn niks om te eet nie. Jesus het medelye met hulle en wil hulle nie honger terugstuur na hul huise toe nie. Die dissipels vra vir Jesus: “Waar in hierdie verlate plek sal mens brood kan kry om hulle te versadig?” (Markus 8:4). Deur sewe brode, ’n paar vissies en ’n seëngebed is vierduisend mense gevoed.

Al hierdie bogenoemde voorbeelde is nie sprokies nie, maar dit is geskiedenisfeite. As God al hierdie in die geskiedenis gedoen het, kan Hy vandag ook vir ons – selfs as ons spreekwoordelik in ‘n woestyn leef.

God dek ook ’n ander tafel vir ons

Weet dat God nie net ’n tafel vir ons fisiese behoeftes dek nie, maar ook ’n heilige tafel vir ons geestelike behoeftes. God wil ons nie net voed en versterk met brood en vleis (basiese voorsiening) nie, maar Hy wil ons geloof voed en versterk met sy Seun, Jesus Christus. Hy wat sy liggaam en kosbare bloed gee as ’n volkome versoening van al ons sondes. God wil deur sy Heilige Gees by die nagmaal aan ons die vaste sekerheid gee dat ons op Hom kan vertrou.

Vreugde en oorvloed saam God!

Kan God ’n tafel dek in die woestyn? Ja, Hy kan! Daarom kan ons met hart en mond vreugdevol sing:

U bring vir my die tafel in gereedheid, my hoof druip olie en my beker vloei van wyn.

Psalm 23:3a, 1936-beryming

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui