Die Here sorg vir ons daaglikse brood

As gelowige hoef jy nie op jouself te vertrou vir jou dag-tot-dag behoeftes nie. Vertrou op die Here! Lees hier meer.
deur ds Peet van der Westhuizen
In hierdie lewe is ons almal op een of ander manier afhanklik van iets of iemand vir ons daaglikse versorging. Ten diepste is almal afhanklik van die HERE wat die Een is wat vir almal sorg. Terwyl ons nog in ons ouerhuis is, sorg ons ouers vir ons. Hulle maak seker dat ons kos het om te eet en klere het om aan te trek. Ons hoef nie bekommerd te wees daaroor nie.
Tog is ons lewens baie kere vol bekommernis. Ons is bekommerd oor ons punte, ons is bekommerd oor of ander van my hou, ons is bekommerd oor of my verhouding gaan hou, ons is bekommerd oor of ons ’n man of ’n vrou sal vind om mee te trou, ons is bekommerd oor of ons sal kan gaan studeer wat ons wil, of oor wat ons na skool sal doen, ons is bekommerd oor ons toekomstige beroepe.
Soos wat ons ouer word, word ons bekommernisse nie minder nie, inteendeel vir baie van ons word dit meer. Nou het ons boonop nog die ekstra verantwoordelikheid om onsself te onderhou. Ons moet self sorg vir ons kos en ons klere en ’n dak oor ons kop, ’n kar om mee te ry. Tog bly ons heel basiese behoeftes dieselfde, dit wat ons sal eet en drink en aantrek. Hierin word die totaliteit van behoeftes vir versorging saamgevat. Hieroor is ons so maklik bekommerd.
My bekommernis oor my daaglikse brood
Hierdie bekommernis oor die sorge van die lewe is niks nuut nie. In Matteus 6:25-26 lees ons:
Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
Omdat die Vader vir hulle sorg is die voëls nie bekommerd oor dit wat hulle nodig het om te oorleef nie. Verder, lees ons in vers 27-34, is die veldlelies met meer prag geklee as Salomo, en as God die tydelike lelies in die veld so versorg, hoeveel te meer sal Hy nie sorg vir sy kinders nie. Ons hoef nie bekommerd te wees oor die dinge wat ons nodig het om te lewe nie, want ons hemelse Vader weet wat ons nodig het.
Dit is wel nie al nie. Ons hoef nie bekommerd te wees nie, want die Vader sal vir ons sorg, maar wat is my verantwoordelikheid?
Mý verantwoordelikheid vir my versorging
In Matteus 14:14-21 en 15:29-39 lees ons van twee van Jesus se wonderwerke. Die mense het van ver af gekom om na Hom te kom luister, en naderhand was daar nie meer kos nie. Hierdie was ’n baie groot skare en dit was menslik onmoontlik om vir almal kos te kry, vyfduisend mans en dan nog die vroue en kinders by die eerste geleentheid.
Daarom vra die dissipels dat die Here Jesus die skare moet wegstuur sodat hulle kan gaan kos kry. Maar Hy vra die dissipels of hulle nie kos het nie. Dan bring hulle 5 brode en 2 vissies na Hom toe. Dit is skaars genoeg om dalk die 12 dissipels te kan voed, daar is geen kans dat dit die hele skare kan voed nie.
Maar dan bid die Here Jesus en deel die brood en vis uit, en die hele skare eet genoeg, en hulle maak nog 12 mandjies vol stukke brood bymekaar. ’n Regte wonderwerk! Die mens kan nie sorg nie. Dit is onmoontlik vir die dissipels om vir hierdie mense kos te gee, maar God kan. Daarom sorg Jesus.
Wat ons leer is dus dat ons nie bekommerd hoef te wees oor dit wat ons vir die lewe nodig het nie, want ons Vader weet wat ons nodig het. Ons sien hoe Jesus, wat God is, die groot skare voed met brood en vis. Hy is almagtig en Hy kan doen wat Hy belowe. Daarom is ons verantwoordelikheid nie om self te probeer sorg nie, maar om te vra vir die Here se sorg.
My gebed vir “daaglikse brood”
So leer die Here Jesus ons in die Onse Vader-gebed dat ons moet vra: “gee ons vandag ons daaglikse brood”. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik in Sondag 50, antwoord 125, dat wanneer ons dit bid vra ons:
Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.
Ons bid dat die Vader ons sal versorg met alles wat ons nodig het om te lewe. Verder erken ons Hom as die bron van alles wat goed is. Al ons werk en kommer sal niks baat as God ons nie seën nie. Daarom moet ons alleen op Hom vertrou.
Wanneer die lewe met al sy sorge voel of dit jou wil oorweldig, wanneer die lewensee met sy golwe slaan, dan mag ons as gelowiges weet dat ons nie net op onsself hoef te vertrou nie. Aan ons word die ryk beloftes gegee dat ons Vader in die Hemel vir ons sorg. Daarom, wanneer die sorge van die lewe op jou druk, bid. Bid soos die Here beveel: gee ons ons daaglikse brood. Leef in die wete dat God dit ook aan jou sal gee.