Die toonbrood in die tabernakel

Die Here gee opdragte vir sy tabernakel, soos dat daar altyd 12 brode vertoon sal word. Lees hier meer daaroor, en hoe hierdie brood gewys het na Jesus Christus.
deur ds Brahm Robinson
Hoewel die Bybel klomp gebeure, wette, profesieë, beelde en briewe bevat, is daar net een sentrale boodskap: die evangelie van Jesus Christus. Daardie boodskap is dat daar net lewe by God is; dat ons as mense daardie lewe deur sonde verloor het; dat Jesus Christus in genade kom en weer vir ons daardie ware, ewige lewe by God gee deur sy liggaam en bloed. Die toonbrode verkondig ook daardie boodskap.
Die Here se opdrag oor toonbrode
Ons lees van toonbrode in Eksodus 24:30 (“offerbrood” in die 1983-vertaling). Ons lees ook daarvan in Levitikus 24:5-9, waar daar duidelike opdragte gegee word van hoe die brood gemaak en vertoon moet word.
Die Here gee aan Moses die opdrag om die tabernakel te laat bou, en dat dit ’n plek sal wees waar God onder sy volk woon. Daar is verskeie voorwerpe wat deel is van hierdie opdrag en die tabernakel.
1. Die ark met die versoendeksel
Die instruksie vir die eerste voorwerp, is die ark met die versoendeksel. Direk nadat die Here sê dat Hy vanaf die versoendeksel vir Moses sal sê wat die Israeliete moet doen, kom die opdrag dat daar ook ’n tafel gemaak moet word.
2. ’n Tafel
’n Tafel is ’n voorwerp waar mense aansit om ’n maaltyd saam te eet en te gesels. Dit dui dus gemeenskap aan. Hierdie tafel dui dus ook aan dat daar gemeenskap tussen God en die mens sal wees, met dit wat op daardie tafel is.
3. Brode vir bo-op die tafel
Dan kom die opdrag dat daar op die tafel twaalf brode moet kom wat gemaak is van fynmeel en altyd in twee rye gepak is. Dit word toonbrode of offerbrode genoem. Die gedagte van ’n toonbrood is dat dit die heeltyd in die teenwoordigheid van God moet staan (vertoon word). Dit dui daarop dat God dit die heeltyd aanskou en dat dit vir Hom goed is.
Instruksies vir die toonbrood
Die naam vir hierdie brood is afgelei van die woord ‘perforeer’. Hierdie brood het dus gate gehad. Sommige vertalings noem dit ringbrood, wat die gedagte dra dat dit geperforeer is met een groot gat in die middel.
Die brode mag ook nie net in ’n hoop gegooi word nie, maar die twaalf brode moes netjies in twee rye gepak word. Dit is duidelik dat twaalf brode ook verwys na die twaalf stamme, Israel, of dan die getal van die kerk. Dit verwys daarna dat Christus elkeen verteenwoordig en dat elkeen dus voor die aangesig van God ewe veel aansien het.
Die brode het sewe dae lank voor die Here gebly en dan is hulle deur Aäron en sy seuns weggeneem en geëet en daar is nuwe brode gepak. Daar was dus altyd brood wat op elke sewende dag ‘vernuwe’ is. Die priesters het die volk voor God verteenwoordig. Die eet van die brood dui op die gemeenskap van die volk met God, op sy tafel, deur die voedsel wat Hy voorsien.
Betekenis van die toonbrood
- Die brood op die tafel wys, soos alles in die Tabernakel, na Christus self. Hy is die inhoud wat die gemeenskap met God daar stel. Sonder daardie brood kan daar nie gemeenskap met God wees nie. Deur Hom alleen kan ons in ’n verhouding met God leef.
- Die brood is gemaak van fynmeel waarin geen growwe dele mag wees nie. Dit stel die volmaaktheid van Jesus Christus voor. Christus as die Een in wie die Vader sy vreugde vind. Daardie volmaakte lewe wat Hy voor die Vader leef en ons mee beklee.
- Die brood is ook geperforeer, wat daarop dui dat die Christus se liggaam gebreek sal word en dat deur daardie breek, daar weer gemeenskap met God sal wees. Die hele hele kerk word voor God deur Christus verteenwoordig. Hy staan in die plek van sy kerk voor God se aangesig en deur Hom het ons volle gemeenskap met God.
So het die Israeliete reeds in die brode van die tabernakel die skaduwee van Christus gesien.