Jesus wys Judas as sy verraaier aan

deur ds Philip Wepener

Judas Iskariot. Met die noem van hierdie naam kom daar reeds ’n paar gedagtes en gevoelens by ons op. Hierdie naam vertel van die dissipel wat al die tyd ’n huigelaar was; die wolf in skaapsklere. Hierdie naam vertel van die kassier, oftewel ’n dief, wat die geldbeurs van Jesus en sy dissipels gedra het en van die geld daarin gesteel het. Hierdie naam vertel dat hy Jesus vir dertig silwermuntstukke uitverkoop het. Dié naam vertel van sy verraderlike soen. Ja, hierdie naam Judas, wat ironies beteken “hy sal God loof”, vertel dat hy die een is wat Jesus verraai het.

Brood wys ’n verraaier aan

Daar is egter ’n gebaar tussen Jesus en Judas waaraan ons nie soveel aandag gee nie, of wat ons dalk nie meer kan onthou nie. In die Evangelie volgens Johannes (13:21-32) wys Jesus Judas as sy verraaier aan, deur ’n stukkie brood in sous te doop en aan hom te gee. Judas aanvaar die stukkie brood uit Jesus se hand en daarmee word die keerpunt in sy lewe bereik: hy het dadelik in die nag uitgegaan om vir Jesus te verraai. Dit is nie toevallig dat Johannes soveel aandag aan hierdie gebaar gee nie. Daarom sal ons graag ons aandag hierop vestig en dit uitklaar.

Jesus weet van sy verraaier

Wanneer ons al vier Evangelies lees word ons vroeg ingelig dat Judas die verraaier is. Dit word aan ons bekend gemaak deur ’n aantekening of ’n opmerking deur die evangelieskrywers. ’n Paar voorbeelde hiervan:

  • “Judas Iskariot, wat Hom verraai het” (Matteus 10:4; Markus 3:19);
  • “Judas Iskariot, wat ’n verraaier geword het” (Lukas 6:16);
  • “Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai” (Johannes 12:4; vgl. Johannes 6:70-71).

Dit is belangrik om in ag te neem dat nie een van die dissipels geweet het dat Judas die verraaier is nie, tot en met die stukkie brood wat Jesus aan Judas gee. Aangesien die Evangelies eers jare later geskryf is, maak dit sin dat Judas uitgeken word as Jesus se verraaier.

Aan die ander kant het Jesus wel van die begin af alles geweet wie Judas is (vgl. Johannes 2:24-25). In Kapernaum en veral by die voetwassing van die dissipels, het Jesus bekend gemaak dat Hy verraai sal word (Johannes 6:64, 70-71; Johannes 13:3, 10-11, 18).

Dit is nogal interessant dat Jesus nie die naam van sy verraaier genoem of aangewys het nie; maar terselfdertyd dat die dissipels Hom nie gevra het nie. Dit is eers by die laaste maaltyd waar Jesus vir Judas as sy verraaier aanwys, in antwoord op Johannes se vraag: “Here, wie is dit?” (Johannes 13:25).

Jesus wys sy verraaier aan

Nadat Jesus die voete van al die dissipels gewas het, het Hy hewig onsteld geword. Die rede vir sy ontsteltenis is te wyte aan Judas se verraad. Vir Jesus, die Here, was dit ’n bitter swaar oomblik. Om te dink dat een van die dissipels waarvoor Hy baie lief is en wie se voete Hy so pas gewas het, Hom gaan verraai.

Tog bly die Here in beheer! Daarom, terwyl Hy en die dissipels aan tafel is en eet, sê Hy weer ’n keer dat een van hulle Hom sal verraai. Hierdie keer was die dissipels verslae. Verskrik kyk hulle na mekaar en wonder wie dit tog kan wees.

Volgens die ander Evangelies het elkeen van hulle begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” (Matteus 26:22; vgl. Markus 14:19, Lukas 22:23). Dan antwoord Jesus sy dissipels:

“Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek” (Markus 14:20; vgl. Matteus 26:23). Jesus noem nie Judas se naam nie. Trouens, Hy het dit nie nodig om sy verraaier se naam te noem nie, want dit sal tot uiting kom (Matteus 26:25; Johannes 13:25-30).

Petrus vra wie die verraaier is

Die dissipels bly wonder wie Jesus sal verraai. Terwyl Jesus die diepte van Judas se hart sien, sien hulle egter nie enige tekens aan sy liggaamshouding of in sy oë om hom as die verraaier te verdink nie. Aangesien almal aan tafel hulle hand in die skottel insteek en eet, brei Johannes uit op ’n gebaar tussen Jesus en Judas, wat nie in die ander Evangelies na vore kom nie.

Aan tafel neem Petrus die insiatief. Hy knik vir Johannes wat naby Jesus aan tafel is en maklik na sy kant toe kan terugleun om Hom te vra wie die veraaier is. Johannes verstaan Petrus se knik. Hy leun terug na Jesus en saggies vra hy: “Here, wie is dit?”. Ook hier noem Jesus nie Judas se naam openlik nie, maar Hy sê aan Johannes dat Hy die man sal aanwys deur ’n stukkie brood in sous te doop en aan hom te gee. Die stukkie brood word dan aan Judas gegee!

Die Skrif word vervul

Hoekom Jesus sy verraaier op hierdie besondere gebaar aangewys het, word nie eksplisiet gesê nie. Daar is verskillende menings en interpretasies hieroor. Om Jesus se gebaar aan Judas reg te verstaan moet ons die nadere konteks waarbinne dit gebeur, in ag neem.

In Johannes 13:18 het Jesus gesê:

Ek sê dit nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, ‘Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig.’

Jesus noem dat die Skrif vervul moes word en haal Psalm 41:10 aan, wat lui: “Selfs my vriend wat ek vertrou het, hy wat my brood geëet het, het die hakskeen teen my gelig”.

Met ander woorde, die feit dat Jesus ’n stukkie brood aan sy verraaier gee om te eet; die feit dat hierdie gebaar ná die aanhaling uit die Skrif voor die oë van die dissipels afspeel, dui op die vervulling van die Skrif (vgl. Johannes 17:12; Handelinge 1:16). Stap vir stap word die profesieë in die Ou Testament, veral Psalm 41:10, tot in die fyner besonderhede in Jesus vervul. Stap vir stap beweeg Jesus nader aan die tyd van sy verheerliking!

Jesus word verheerlik

Toe Judas die brood uit Jesus se hand aanvaar het, het die Satan Judas se hart oorheers. Daarop sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen” (Johannes 13:27). Jesus het geweet van Judas se verraad. Judas het reeds ’n ooreenkoms met die owerpriesters aangegaan om Jesus aan hulle oor te lewer. Vandaar was hy besig om ’n komplot te beplan en ’n geskikte tyd daarvoor te soek (Matteus 26:14-16; Markus 14:10-11; Lukas 22:3-6).

Met die aanhoor van Jesus se woorde, het Judas dadelik van die maaltyd opgestaan en in die nag uitgegaan. Hy het gekies om Jesus, die Lig van die wêreld, te verwerp en in die ewige duisternis te leef.

Jesus laat Judas toe. Hy laat sy verraad toe sodat God se verlossingsplan uitgevoer kan word. Hy is immers voor die grondlegging van die wêreld bestem om verheerlik te word, met of sonder Judas se veraad.

So weerklink die woord verheerlik vyf keer in Jesus se mond, al was dit ook nag vir Hom (Johannes 15:31-32). Al het Hy geweet dat Hy die volgende dag aan die kruis sal hang, die duisternis van die dood Hom sal laat bewe en Hy sal sterf, sien Hy die kruis as sy troon en die dood as sy verheerliking!


Net ’n stukkie brood

Dit is onbegryplik om te dink dat Jesus se gebaar Judas as sy verraaier aangewys het; maar terselfdertyd is dit ewe onbegryplik dat ’n stukkie brood die Skrif vervul en uitloop op Jesus se verheerliking!


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui