Ongesuurde brood in die Bybel

Die Here gee die Israeliete opdrag om 7 dae ongesuurde brood te eet. Lees hier hoekom Hy dié opdrag gee, en wat dit vir ons beteken.

deur ds Ruan Steyn

Die fees van die Ongesuurde Brood word ten nouste aan die Paasfees verbind. In Eksodus 12 lees ons dat die Paasfees ingestel is voordat die Israeliete Egipte verlaat het. Die Here het verder vir die Israeliete opdrag gegee om vir sewe dae ongesuurde brood te eet (vgl. Eksodus 13:3-8; Levitikus 23:6-8).

Waarom gee die Here vir die Israeliete hierdie belangrike opdrag?

1. Min tyd

Nadat die Here die farao se hart verhard het en die tien plae plaasgevind het, het hy uiteindelik vir die Israeliete toestemming gegee om Egipte te verlaat. Farao kon van plan verander het en daarom moes die Israeliete in ’n kort tyd al hulle besittings neem om die woestynreis voort te sit. Daar was nie tyd vir die insuur van die brooddeeg nie.

2. Dankbaarheidsfees

Die fees van die Ongesuurde Brood was ook ’n dankbaarheidsfees. Eksodus 12:17 stel dit duidelik:

Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as ’n vaste instelling vier.

Elke keer wanneer die Israeliete ongesuurde brood geëet het, het hulle die verlossingsdade van God onthou en Hom daarvoor gedank.

3. Sonde en onreinheid

Die ongesuurde brood was ook ’n teken van heiliging of wegbreek van die sondige oorheersing van Egipte (vergelyk Eksodus 13:3-8).

Suurdeeg is dikwels simbolies gebruik om na die sonde, onreinheid en boosheid te verwys. Paulus gebruik die beeld van suurdeeg in 1 Korintiërs 5:7-8

Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

In Matteus 16:11-12 lees ons dat Jesus ook na die simboliese gebruik van suurdeeg verwys. Jesus sê:

Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.’ Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.

Volgens Jesus se woorde word suurdeeg ook gebruik om na valse leringe en skynheiligheid te verwys.

Wanneer die Israeliete die fees van die Ongesuurde Brood gevier het, was dit ’n belangrike herinnering dat hulle weggebreek het van die slawejuk van Egipte en dat hulle onder die genade van die Here leef.  

4. Heenwysing na die ware Messias

Die fees van die Ongesuurde Brood was nie net ’n herinneringsteken van die Here se verlossingsdade in Egipte nie, maar dit wys ook op die toekomstige verlossingsdade van die vlekkelose Lam, Jesus Christus, die ware Paaslam.

Al het die Israeliete die suurdeeg verwyder, was hulle steeds sondaarmense. Gedurende die woestynreis het die Israeliete meermale hulle vertroue in ander mense en dinge geplaas en keer op keer het hulle gesondig. Die Here het dit duidelik gestel dat enige Israeliet wat suurdeeg tydens hierdie fees eet, van die gemeente van Israel afgesny sal word (vergelyk Eksodus 12:19). Die Here se volk het dus hulleself van die Here en sy kerk afgesny.

God is egter genadig. Daarom wys die ongesuurde brood heen na die ware Messias, Jesus Christus, wat self gesê het dat Hy die Brood van die Lewe is (vgl. Johannes 6:32-35). Jesus is die Een wat nooit enige tekens van suurdeeg getoon het nie. Ten spyte daarvan het Hy al ons sonde op Hom geneem (Hy het die suurdeeg vir ons geword). Jesus het ons met God versoen sodat ons nie van sy kerk afgesny word nie.


Wat beteken dit vir ons?

Ons het nie nodig om vandag nog die fees van die ongesuurde brood te vier nie. Jesus Christus het ook daardie fees vervul. Die implikasie vir ons is egter dat ons ook van die suurdeeg moet vlug – weg van die sonde moet vlug. Ons was dalk nie slawe in Egipte nie, maar ons was slawe van die sonde. Net soos die Here vir Israel uit Egipte gelei en bevry het, so het Hy ons uit die slawejuk van die sonde gelei en bevry. Ons dank Hom daarvoor deur weg te vlug van die sonde af.

Metafories eet ons vir Jesus Christus, die Brood van die Lewe. Elke keer wanneer ons die voorreg het om die sakrament van die Nagmaal te vier, word ons herinner van Jesus se verlossingswerk aan die kruis (vgl. Johannes 6:54), wat Hy vir ons gedoen het en dat ons God se heilige en uitverkore volk is.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui